Landbou bekommerd oor dieselvoorsiening

(Foto: Total/Twitter)

Ernstige vandalisme aan Transnet se pypleiding tussen Durban en die binneland het bygedra tot die probleme om voldoende diesel aan verbruikers te voorsien. ʼn Sindikaat is glo moontlik vir die skade verantwoordelik. Dié situasie veroorsaak nou groot kommer vir die landbou  en ander ekonomiese bedrywighede.

Corné Louw, ʼn landbou‑ekonoom verbonde aan Graan SA, sê dit word al hoe moeiliker vir boere om diesel te bekom. Die organisasie het Woensdag met die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfsvereniging (Sapia) vergader in ʼn poging om ʼn oplossing vir die probleem te vind.

Sapia het vroeër gesê twee Durbanse raffinadery is weer aanlyn en dat produksie “genormaliseer” het.

Nadat die vraag na brandstof, ook diesel, tydens die aanvanklike afsonderingstydperk geweldig gedaal het, het dit ná die aanvang van vlak 4 van die afsonderingsregulasies – toe talle bedrywe toegelaat is om te heropen – skielik gestyg.

Raffinaderye het tydens die afsonderingstyd produksie gestaak omdat opgaartenks en stoorfasiliteite vol was en die skielike styging in aanvraag het tot groot tekorte gelei.

Een van Transnet sy pypleidings moes egter ná twee groot voorvalle van diefstal vir herstelwerk gesluit word. Volgens Sapia het dié voorvalle ʼn direkte uitwerking op die vervoer van petroleumprodukte tussen Durban en Johannesburg.

“Vertragings wat tot brandstoftekorte kan lei, word verwag,” het Sapia gesê.

Louw sê dit gaan na verwagting tussen sewe en 14 dae duur voor die situasie normaliseer.

“Graan SA het gevra dat voorsiening aan die landboubedryf geprioritiseer word. Ons is op die kruin van strooptyd, veral in Noordwes, die noordwes-Vrystaat en die Oos-Vrysaat, waar baie van die land se witmielies geproduseer word.

“As strooptyd vertraag word, gaan dit die voorsiening van witmielies en mieliemeel negatief beïnvloed,” het Louw gesê.

Volgens Louw hou Graan SA die situasie fyn dop en word produsente gevra om nie paniekaankope van diesel te doen nie.

“Ons het gevra dat die gebiede wat regtig diesel nodig het, voorrang geniet,” het hy gesê.

(Argieffoto: SA Polisie)

Die DA het die afgelope week gesê ten spyte van versekerings deur die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, asook senior amptenare in sy departement, is daar steeds ʼn tekort aan diesel.

Mantashe het vroeër gesê die tekort, wat volgens hom ontstaan het omdat verskeie raffinaderye weens die afsonderingstydperk gesluit het, sou teen die einde van Mei al opgeklaar gewees het.

“Volgens grootmaatbrandstofverskaffers is hulle deur sekere raffinaderye ingelig dat die probleem tot minstens die middel van Junie kan voortduur,” het Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, gesê.

Dit is egter nie net die landboubedryf wat swaar getref word nie.

Langafstandvragvervoer, ʼn belangrike skakel in Suid-Afrika se voedselvoorsieningswaardeketting, word ook geraak.

“Terwyl myne hul produksie begin verhoog en die ekonomie al hoe meer oopgestel word, gaan al hoe groter druk op ons reeds beperkte dieselvoorraad geplaas word. Enige tekort in voorsiening gaan die vermoëns van ondernemings om weer te begin werk en hul bedrywighede te red, negatief raak.”

Mileham sê in antwoord op ʼn onlangse parlementêre vraag het dit aan die lig gekom dat die Strategiese Brandstoffonds, wat verantwoordelik is vir die land se strategiese brandstofreserwes, net ses uit 45 bruikbare tenks het. Net twee van dié tenks word gebruik om strategiese reserwes te hou.

Voorgestelde beleid, wat sou vereis dat brandstofgroothandelaars en raffinaderye genoeg voorraad vir 14 dae hou, is nooit deurgevoer of bekragtig nie.

“Wat dit beteken is dat Suid-Afrika wesenlik geen reserwe het wat op kort kennisgewing maklik bekom kan word nie.”

Vulstasie-eienaars is gevra om geduldig te wees terwyl vragmotors gebruik word om brandstof van die kus na die binneland te vervoer. Sommige vulstasies het selfs nou tot die stap oorgegaan om diesel aan klante te rantsoeneer in ʼn poging om in die aanvraag te voldoen.

Maroela Media het herhaalde navrae aan Sapia oor die situasie gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pierreli ·

As hulle dan weet dis ‘n sindikaat, hoekom gaan kyk die polisie of hulle maskers aan het nie, dalk kan die polisie hulle so vang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.