Landbou glo nie prioriteit vir Vrystaatse regering

Stofpad_windpomp_karoo_stiltetyd.jpeg

Foto: Annelize Brits

Die Vrystaatse regering bewys keer op keer dat hy geen erns het met die belangrikheid van kommersiële landbou nie.

Jan van Niekerk, provinsiale leier van die VF Plus, sê in ʼn verklaring die landelike beveiligingsplan word nie doeltreffend in die Vrystaat geïmplementeer nie en boere is eindelik op hul eie aangewese. Die toename in plaasaanvalle in die Vrystaat oor die afgelope paar maande dui ook op ʼn krisis en dat die regering faal met landelike beveiliging.

Droogtehulp

Volgens Van Niekerk het die provinsiale regering ook versuim om van die geleentheid gebruik te maak om aansoek te doen vir die droogtehulpbefondsing wat bewillig is, wat verder getuig van die regering se ongeërgdheid teenoor boere en dat landbouers nie op regeringshulp staat kan maak nie.

Dévar Smit, VF Plus-LPW in die Vrystaat, het intussen gesê Vrystaatse landbouers sal nie droogtehulp in terme van die nasionale ramptoestand ontvang nie, omdat die Vrystaatse regering versuim het om ʼn sakeplan ter aansoek van hierdie fondse in te dien.

“Provinsiale regerings het tot en met 5 Junie 2020 die geleentheid gehad om sakeplanne in te dien nadat die nasionale ramptoestand op 4 Maart 2020 afgekondig is. Intussen het die nasionale departement van landbou bevestig dat die Vrystaatse provinsiale regering nie ʼn sakeplan teen die afsnydatum ingedien het nie,” het Smit verduidelik.

Hierdie planne word ter behoeftebepaling oorweeg en die beskikbare R139 miljoen wat vir die nasionale droogtetoestand bewillig is, is gevolglik onder die provinsies verdeel wat wel aansoeke betyds ingedien het.

“Dit is betreurenswaardig dat die Vrystaatse regering nie aansoek gedoen het nie, omdat die Vrystaat as die voedselmandjie van Suid-Afrika beskou word. Boere in die Bultfontein-distrik word al vir jare deur meerjarige droogte geteister en dit is onaanvaarbaar dat hierdie boere nie enige verligting sal ontvang nie weens die provinsiale regering se onverantwoordelike optrede.”

Die provinsiale regering se nalatige optrede en houding teenoor kommersiële boere kan nie langer geduld word nie, het Smit bygevoeg. Die VF Plus sal ʼn skriftelike vraag hieroor by die Vrystaatse wetgewer indien en eis dat die provinsiale regering verantwoording doen aan kommersiële landbou in die Vrystaat.

Plaasaanvalle

“Die VF Plus veroordeel die vlaag plaasaanvalle wat die afgelope tyd in die provinsie kop uitsteek en die barbaarse wyse waarop hierdie aanvalle gepleeg word. Die skielike toename in aanvalle in die Vrystaat en die wreedheid wat daarmee gepaard gaan, moet as dade van terreur beskou en veroordeel word,” het Van Niekerk gesê.

“Die stryd wat Suid-Afrika se boere teen die elemente voer, veral met die voortslepende droogte in ag genome, is reeds ʼn wesenlike stryd om oorlewing. Daar kan nie van hulle verwag word om boonop ʼn oorlewingstryd teen misdaad te voer nie.”

Volgens hom is dit ʼn skande dat boere en hul naasbestaandes in vrees moet leef met die realiteit en onmenslike wyse waarop boere en hul gesinne gejag word. “Geen persoon verdien dit om deur die hel te gaan van trauma, pyn en die dood van ʼn plaasmoord nie.”

Die VF Plus sal nie ophou met sy stryd teen plaasaanvalle- en moorde nie, en eis dat die Vrystaatse regering verantwoording doen vir sy nalatigheid rakende droogtehulp en moedig boere aan om selfstandig te staan waar die regering faal om sy pligte betreffende landbouers se veiligheid na te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

daniel ·

Die houding dui op uiters swak insig en bestuursvermoe, n kenmerk van die Sosialistiese 8denkwyse.

Althes ·

Wat Rusland bewys het, werk nie. En hul het dit reggestel, die ekonomie is meer florerend.Maar die ANC hou hul blind, en lei die hele land in die afgrond in.

Kanjynoumeer ·

Dit is lankal tyd dat grafiese foto’s verskyn van plaasaanvalle en moorde in Suid-Afrika.
Suid-Afrika en die res van die wêreld moet kennis neem hoe brutaal plaasaanvalle en moorde plaasvind.
Hierdie grafiese foto’s moet ook media dekking kry op televisie en net gesê word nie vir sensitiewe kykers soos met ander gebeure.. Genoeg is nou genoeg!
Dankie Maroela Media.
Genoeg is genoeg!!

Althes ·

Gelukkig is ons nie meer afhanklik dat koerante en tydskrifte ons stem is nie. Danksy tegnologie.

Leon ·

Dit laat ‘n mens wonder wie sit agter die plaasaanvalle. Ace en sy volgelinge. Dit laat jou dink wat is hulle agenda. Het seker kaders wat wag vir plase.

Pieter ·

Taxis kry meer as ‘n miljard Rand, maar boere, wat die lewensaar is, kry almal saam bietjie meer as 100Miljoen Rand. Waar lê die logika.
Maar nou ja, al gaan alle boere tengronde is daar darem steeds Woolworths ens. wat sal kan melk, vleis ens vervaardig ne?

Grassie ·

Nou wonder ek – het die Vrystaatse lanbou-unies of boereverenigings die Vrystaatse regering ooit genader en hulle versoek om aansoek te doen?

Kokerboom ·

Dit laat mens wonder wat werklik aangaan in die Vrystaat. Is die ANC besig met ‘n beplande verwoesting/vernietiging van landbou, infrastruktuur en die Afrikaner kultuur?Dag na dag hoor mens rillerstories. Dra die President van die land GEEN kennis van wat daar aangaan of stel hy net nie belang?Het ons verval in die afrikakultuur van praat en niks doen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.