“Gewapende roof, of dit nou op ’n plaas of in die dorp gebeur, is ’n onaanvaarbare ding in ’n beskaafde samelewing. Dit is ’n euwel.”
Só sê Derek Mathews, visevoorsitter van Graan SA, nadat hy en familielede Saterdagaand op sy plaas in die omgewing van Deelpan naby Biesiesvlei in Noordwes oorval, vasgebind en beroof is.
Niemand is ernstig beseer tydens die voorval nie.
Mathews vertel dat sy dogter swanger is en dat die familie vroeër die dag ’n ooievaarstee vir haar gehou waarna hulle die betrokke aand gebraai het.
Mathews, sy vrou, hul seun, dogter, neef en dié se gade het nadat hulle gebraai het tussen 22:00 en 22:30 in die sitkamer gesit en koffie drink toe vyf mans hul skielik oorval het. ’n Sesde makker het in dié stadium buite die plaashuis gewag.
Op die vraag oor wat in dié oomblik deur ʼn mens se kop gaan, antwoord Mathews: ‘Dit is moeilik om te beskryf. Dink jouself in daardie posisie in. Jy het dit al vir jouself beredeneer oor wat jy sal doen sou dit met jou gebeur, maar dan besef jy dit is ’n werklikheid.”
Volgens Mathews het die aanvallers op kontant aangedring en uitgevra oor ’n kluis. Hulle was oortuig daarvan dat daar kontant in die huis versteek was. Dit was egter nie die geval nie.
Die familielede is in die sitkamer vasgebind waarna hulle die huis deursoek het.
“Die hele ding het so uur na twee uur geduur. Hulle het selfs in die sitkamer waar ons gelê het deur die vloer probeer kyk of daar nie ’n kelder is nie.”
Hy is uitgevra oor die kluis waarna hy hulle na die leë kluis in ’n kas moes neem.
Mathews vertel dat sy familie een vir een geteister is. Toe die aanvallers by sy swanger dogter kom, het sy vir hulle gesê dat sy onlangs haar salaris ontvang het waarna sy haar bankkaart en PIN-kode vir hulle gegee het. Dít het die aanvallers tevrede gestel en hulle is vort met ’n klein bedrag geld, juweliersware en selfone.
Hoewel Mathews en sy mense baie styf vasgebind was, kon hulle daarin slaag om hulself vinnig los te wikkel en mekaar los te maak waarna hulle hulp ontbied het.
“Die ding is, ʼn mens is dan nie seker of daar nog iemand buite die huis wag nie. Dit was eers verby toe ons hulp gekry en die bure opgedaag het.”
Volgens Mathews gaan dit onder omstandighede goed ná die voorval. “Ons is gelukkig ’n baie hegte en sterk familie. Ons het reeds met ’n beradingsproses begin. Ons sal nie toelaat dat hierdie voorval ons lewe definieer nie.”
Kapt. Sam Tselanyane, woordvoerder van die polisie, het Maandag aan Maroela Media gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die polisie ondersoek ’n saak van huisroof.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
18 Kommentare
Is daar nou rêrig ‘n verskil of dit ‘n ” landbou hoë ” of ‘n gewone ” boer” aangeval word ??? Wat is die verskil ???? Dit is sommer NONSENS !!! Dit maak my keelvol want almal is dieselfde voor die Liewe Vader !
Jacqueline jou kommentaar is onvanpas. Derek is ‘n gewone produsent wat sy mede produsente op baie vlakke bystaan.
Derek… jou heel eerste sin gee die antwoord… “dit is nie aanvaarbaar in n beskaafde samelewing”
Ons leef in n land waar beskaafd maar n redelik oppervlakkige besigheid is.
Die definisie van n beskaafde samelewing… “marked by well-organized laws and rules about how people behave with each other. A civilized society must respond to crime with fairness and justice.”
En hierdie basiese dingtjies bestaan nie in ons land… so ja… wat met jou en duisende van ons gebeur is heeltemal aanvaarbaar volgens Afrika beskaafd.
Dit wat hulle doen is euwel want hulle is euwels.
sterkte aan mathews gesin, familie en vriende
“die saak word ondersoek en nog niemand is in hegtenis geneem nie”
in elke aanval word dieselfde sin gebruik
niemand sal in hegtenis geneem word nie, want die polisie het nie die kapasiteit en vermoe om gewone misdade op te los en inhegtenis nemings te doen nie