Landbou-organisasie benadruk sy koers

tlu-sa-nuwe-handelsmerk-2019-06

TLU SA nuwe handelsmerk en sosialemediaplatforms is Maandag bekendgestel. Foto: TLU SA/Facebook.com

Die TLU SA het Maandag opnuut standpunt ingeneem oor private eiendomsbesit en die vrymarkstelsel se waarde vir die plaaslike landboubedryf tydens die bekendstelling van dié landbou-organisasie se opgedateerde handelsmerk en nuwe sosialemediaplatforms.

Volgens Louis Meintjes, president van TLU SA, was die organisasie nog altyd trots daarop om die enigste landbou-organisasie te wees wat “uit die boer vir die boer optree om boere se belange te dien”.

Die organisasie bied reeds sedert September 1897 ʼn vesting vir die land se kommersiële boere.

Meintjes sê die organisasie se uitgangspunt was altyd om sterk standpunt in te neem namens boere, ongeag die regering of ander rolspelers se agendas.

“Ons erken ook allereers dat die seën van God onontbeerlik is in alle ondernemings van individuele boere en die landboubedryf in die algemeen. Dié twee standpunte is ons grondbeginsels waaroor ons nooit sal onderhandel nie.”

Volgens Meintjes is dit vir sy organisasie kommerwekkend dat rolspelers in die landboubedryf gedwee saam met die ANC-regering op ʼn koers weg van private besitreg en ʼn vryemarkstelsel na sosialisme en kommunisme beweeg.

“TLU SA is eerlik oor hierdie aanslag en die negatiewe invloed wat dit op landbou en boere het en sal hê,” sê Meintjes.

TLU SA is van mening dat hierdie koers reggestel kan word, tot die voordeel van landbou, Suid-Afrika en uiteindelik die hele bevolking deur die volgende stappe:

  1. Behou ons geloof;
  2. Wees eerlik oor die rigting waarin die ANC beweeg en die resultate wat dit sal meebring;
  3. Staan vas by die beginsels wat Suid-Afrika kan red: private besitreg en die vryemarkstelsel;
  4. Kommunikeer suiwer rondom dit wat reg is deur nie bloot ANC-besluite na te praat nie;
  5. Waak daarteen om bloot dit wat verkeerd is te probeer bestuur;
  6. Doen deeglike navorsing oor veiligheid, ekonomiese volhoubaarheid, eiendomsreg en watersake; en
  7. Werk positief aan aspekte wat die beleggersvertroue in Suid-Afrika volhoubaar kan herstel.

“Ons glo die waardeketting van rolspelers en insetverskaffers tot by boere en die verbruiker het genoeg wringkrag om die koers van kortsigtige radikale transformasie terug na die ekonomie te verander. Dit beteken egter dat hierdie rolspelers moet opstaan en TLU SA se beginsels moet ondersteun,” verduidelik Meintjes.

“Ons doel bly altyd om kommersiële boere veilig en volhoubaar op hulle plase te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

3 Kommentare

Jan Botha ·

Vir ‘n komplekse probleem is daar nie ‘n eenvoudige antwoord nie.

Se maar net ·

Hy noem dit redelik vroeg in die artikel. Behou die seen van God. Dis al wat nodig is

Oujongvrou ·

Baie dankie dat julle heel eerste julle vertroue in God plaas. En dankie ook dat julle se mense moenie die regering na praat nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.