Landbou-reus sterf

Prof. Mohammad Karaan (Foto: Twitter via @AEASA_LEVSA)

Prof. Mohammad Karaan, voormalige dekaan van die Fakulteit Landbou aan die Universiteit Stellenbosch, is dood weens Covid-19, het die landbou-organisasie Agri SA Woensdag gesê.

Karaan was 52 jaar oud.

Karaan word as ʼn reus in die Suid-Afrikaanse landbou beskryf.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê Karaan het baanbrekerswerk op akademiese, politieke en ekonomiese terreine in die landboubedryf verrig.

“Hy was die stem van redelikheid in ’n spanningsvolle tyd waarin daar oor die hoe, die wat en die waar oor grondhervorming besin moes word.

“Hy het die landbousektor op ʼn voortreflike wyse by die nasionale beplanningskommissie gedien en was die argitek van hoofstuk 6 van die nasionale ontwikkelingsplan, die sogenaamde Karaan-plan. Dit is en bly steeds die suksesvolste model vir grondhervorming in Suid-Afrika en is ook met groot sukses elders in Afrika toegepas.”

Volgens De Jager het Karaan self geboer en het hy die teoretiese sowel as praktiese dele van landbou verstaan. “Hy was geliefd onder boere en laat met sy heengaan ʼn onvulbare leemte.”

Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê op sy beurt Karaan se bydrae op verskeie terreine waaronder sy betrokkenheid by die Nasionale Beplanningskommissie, die stigting van ASUF (Landbousektor Eenheidsforum) en die US was van onskatbare waarde.

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het intussen gesê Karaan se heengaan is ʼn groot verlies vir Suid-Afrika veral in ʼn tyd waarin die voorste ontwikkelingsdenkers en praktisyns benodig word namate die land die ekonomiese herstelplan begin implementeer.

“Die landbousektor eer sy bydrae en bou voort op sy nalatenskap,” het Van der Rheede gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.