Landbou SA se redding in 2021

Die koste van kunsmis, onkruiddoders, verpakking, diesel, elektrisiteit, arbeid en ander insetkoste neem vinnig toe en maak dit byna onmoontlik vir baie boere om voedsel volhoubaar te produseer. (Foto: Jo Raubenheimer)

Stygende insetkoste, misdaad en die swaard van onteiening sonder vergoeding wat oor boere se koppe hang, kon die landboubedryf nie keer om vanjaar op vele gebiede uitnemend te presteer nie.

“Terwyl die res van die land swaargetrek het weens Covid-19, was dit landbou wat in 2021 die wa deur die drif getrek het. Die landboubedryf was verreweg die beste presterende ekonomie: plaaslik en elders,” sê Theo de Jager, direksievoorsitter van die familieboerorganisasie Saai.

Verskeie kwessies het boere en rolspelers in die bedryf egter nagte lank laat wakker lê.

Vir TLU SA staan die ANC se beleidsomgewing kop en skouers bo alle aangeleenthede van die afgelope jaar en die organisasie sê dit het ʼn uitwerking op alle aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing en omgewing. Dit dek ook omstrede kwessies soos onteiening sonder vergoeding, swart ekonomiese bemagtiging en kaderontplooiing.

“Ons land is reeds in rommelstatus weens al die onsekerheid; weens die ANC se beleidsomgewing. ’n Groot deel van ons realiteit is gekoppel aan die beleidsomgewing – ’n onrealistiese een – wat nie vertroue inboesem nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Grondhervorming

In talle gebiede het goeie reën ʼn einde gebring aan knellende droogtes wat boere in ʼn wurggreep gehad het. (Argieffoto)

Vir TLU SA was onteiening sonder vergoeding vanjaar besonder hoog op die agenda.

Die ANC het vroeër vandeesmaand misluk in sy poging om ʼn tweederde-meerderheid in die parlement te kry wat sou lei tot die wysiging van die Grondwet om grondonteiening moontlik te maak.

Altesaam 267 stemme was nodig vir ʼn tweederde-meerderheid, maar net 204 LP’s het ten gunste van die voorgestelde verandering gestem en 145 daarteen.

TLU SA het die uitslag verwelkom, maar terselfdertyd gewaarsku dit is nog lank nie die einde van die pad nie.

“Daar is dié wat vasbeslote is om dit op een of ander manier deur te voer. Ons as TLU SA is natuurlik dankbaar vir almal wat daarteen gestem het, maar ons kan nie nou terugsit en van die aangeleentheid vergeet nie,” sê Van Zyl.

“Die onteieningswet is ook nog aan die gang en hiervoor is net ’n volstrekte meerderheid nodig. Daar sal beslis weer pogings wees om dit deur te voer. Die rooi ligte van gevaar flikker dus steeds.”

Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê die organisasie is ook dankbaar dat daar eindelik teen die wysiging gestem is.

“Op die politieke terrein is die regerende party se fokus nou op dienslewering. Ek dink die regering besef hy moet ophou om van die grondkwessie ʼn politieke speelbal te maak.

“Die meeste mense soek ekonomiese vooruitgang. Hulle gaan dit nie kry as jy vir hulle ʼn stuk grond gee nie – dit word verkry deur werkskepping en die skep van gelyke geleenthede.”

De Jager meen ook die politieke debat om landbou het vanjaar effe afgekoel.

“Die onteiening-sonder-vergoeding-mosie wat in die parlement gedryf is, het daar gesneuwel.”

Hy sê egter die ANC-beleidskonferensie volgende jaar gaan die kwessie weer op die voorgrond druk, maar “vir nou is die wolf van die deur af weg”.

Stygende insetkoste

“Ons bly maar op ons knieë en bly gefokus op ʼn beter môre, maar ʼn beter môre kom nie vanself nie. Jy moet werk daaraan, jy moet dit self help skep.” (Argieffoto: Vaalbos Trust)

Nog ʼn groot kopseer vir die landbousektor was die toenemende stygings in insetkoste.

“ʼn Boer hou sy oog op die winsgewendheidsvlakke van sy besigheid. Aan die begin van die jaar het ons die minimum loon gesien styg, elektrisiteit het duurder geword, dieselpryse het gestyg en daar was ʼn geweldige styging in die koste van kunsmis,” sê Van der Rheede.

Boonop was daar heelwat logistieke uitdagings by die land se hawens. Om van die sogenaamde Zuma-onluste nie eens te praat nie.

Die massaplundering het die landbousektor in veral KwaZulu-Natal swaar getref. Uitvoer is in die gedrang gebring en suikerrietplantasies en ander gewasse is aan die brand gesteek.

“Die opstande in KwaZulu-Natal het ʼn geweldige negatiewe uitwerking op die bedryf en op die hele land gehad,” sê Van der Rheede.

Die opstande het op die hoogtepunt van die sitrusverpakkingseisoen gekom en het groot ontwrigting by Durban en Richardsbaai se hawens veroorsaak. Dit het ook ʼn uitwerking op spoorvragvervoer, logistieke en vragvervoermaatskappye gehad.

Landelike veiligheid

Misdaad, veral in landelike gebiede, het vanjaar ook ongebreideld voortgeduur.

Verskeie plaasaanvalle is aangemeld en talle boere het gesteier weens onder andere veediefstal en die onwettige jag met honde op plase.

“Ons harte gaan uit na die boere, hul gesinslede en die werkers wat deur misdaad geraak word. Dit is verskriklik traumaties,” sê Van der Rheede.

Van Zyl sê die private sektor kan net ekonomiese groei stimuleer “as hy toegelaat word om dit eerstens in ʼn veilige omgewing, waar misdaad bekamp word, te doen. En dan ʼn beleidsomgewing het waar die private sektor graag aktief betrokke sal wil wees.

“Die regering faal egter met albei. Die regering vra een ding, maar doen dan presies wat die teenoorgestelde teweeg gaan bring. Gegewe dit wat die ANC-regering op die tafel sit, gaan die private sektor nie aktief betrokke raak nie,” sê Van Zyl.

Goeie landbouproduksie

Ten spyte van die talle uitdagings, het die landboubedryf vanjaar steeds heelwat om voor dankbaar te wees.

De Jager sê produksiegewys was dit ʼn goeie jaar vir die meeste landboubedrywe. “Oor die algemeen sal boere terugkyk op ʼn geseënde jaar. Goeie volumes, goeie oeste, goeie pryse,” sê De Jager.

Die groente- en bosboubedryf het wel ʼn moeilike jaar agter die rug en het steeds swaargekry.

Van der Rheede sê ook bedrywe soos sitrus, vrugte, tafeldruiwe en die neutebedryf het goed gevaar – selfs die vleisbedryf het rede gehad om te glimlag.

“Ons is dankbaar oor al die seëninge wat op ons neerdaal,” sê hy.

In talle gebiede het goeie reën ʼn einde gebring aan knellende droogtes wat boere in ʼn wurggreep gehad het. Die vooruitsig vir die komende jaar lyk boonop goed en Van der Rheede sê in die algemeen is landbou in ʼn veel beter posisie as ʼn paar jaar gelede.

Tog bly landbou ʼn uitdagende sektor. “Ons kan nooit met sekerheid sê wat gaan gebeur nie. Sprinkane, brande, die onluste in KwaZulu-Natal wat uit die niet verskyn het.”

Sprinkaanplae was maar een van talle uitdagings wat boere vanjaar moes trotseer. (Argieffoto: Erika Krüger)

In sommige streke het oeste weens swaar reën versuip of is dit deur hael platgeslaan. Daar was veral skade aan vrugteboorde.

Vrotsige paaie op die platteland besorg boere ook hoofbrekens.

“Ons bly maar op ons knieë en bly gefokus op ʼn beter môre, maar ʼn beter môre kom nie vanself nie. Jy moet werk daaraan, jy moet dit self help skep.”

Van der Rheede sê dit is daarom belangrik om aan georganiseerde landbou te behoort en pogings te steun om van Suid-Afrika ʼn beter plek te maak.

Internasionale front

Saai sê dit was nie net op tuisbodem waar boere goed gevaar het nie – ook in die res van die streek wys landbouers hul staal.

In Zimbabwe is die organisasie steeds betrokke by onder andere die vergoeding van boere wat ingevolge die land se vroeëre onteieningsbeleid van hul plase afgeskop is, pogings om geld hiervoor in die hande te kry, asook om die Zimbabwiese landbousektor weer op sy voete te help kry.

“ʼn Mens kan dit nie in isolasie sien nie: As Zimbabwe nies, kry die res van die streek ook verkoue.”

Boere in Mosambiek, Namibië en Botswana – laasgenoemde veral met veeboerdery – het die afgelope jaar ook goed gevaar. In Zambië, ten spyte van ʼn regeringsverandering, het die landbousektor gegroei en heelwat van dié groei is te danke aan kommersiële boere van wie ʼn groot klomp uit Suid-Afrika kom, sê De Jager.

Tanzanië en Kenia se uitvoer doen goed en Van Zyl sê die twee lande voer nou self meer avokado’s as Suid-Afrika uit.

De Jager voorspel daar gaan in die nuwe jaar toenemende druk op ʼn skuif na plantproteïene, eerder as diereproteïene, geplaas word. Hy bestempel dit as ʼn sentralisering van mag wat die voortbestaan van boere op die spel plaas.

Hy sê boere sal in die toekoms al hoe beter met verbruikers moet kommunikeer.

“Ons gaan meer moet doen om die wêreld te oortuig boere is nie die probleem nie, ons is die oplossing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.