Landbou sê vir eers nee vir hidrobreking

agri-sa-janse-rabie-en-johannes-moller

Agri SA se Janse Rabie en Johannes Möller tydens ‘n mediakonferensie in Centurion waar hulle dié organisasie se standpunt oor hidrobreking verduidelik het. Foto: Dalene de Vente/Maroela Media.

Agri SA, een van die land se grootste landbou-organisasies, het Woensdag gesê hulle kan nie die regering se planne ondersteun om skaliegas deur hidrobeking op verskeie plekke in Suid-Afrika te ontgin nie.

Die organisasie het tydens ʼn mediakonferensie, wat deur die Nasionale Persklub in Centurion gehou is, gesê georganiseerde landbou kan hidrobreking net ondersteun mits die regering en maatskappye wat die ontginning doen hulle kan verseker dat die skaliegasboorgate heeltemal tot hul volle landboupotensiaal gerehabiliteer sal word, ná dit uitgeput is. Daar sal ook maatreëls ingestel moet word om boere en hul werknemers te vergoed indien hulle water of land sou verloor deur die eksplorasie vir, of ontginning van skaliegas.

Johannes Möller, president van Agri SA, het in sy sterkste uitspraak nog oor dié onderwerp gesê daar is eenvoudig net te veel onbeantwoorde vrae oor watervoorsiening en besoedeling as dit by hidrobreking kom.

“Die aanvanklike moratorium op hidrobreking is juis ingestel sodat daar genoegsame navorsing oor die effek van die soort ontginning in die Karoo en ander dele van Suid-Afrika gedoen kan word. Dit het intussen verval en nou word ekplorasieregte en -permitte toegestaan, sonder dat alle vrae oor die impak op die omgewing heeltemal beantwoord is. Agri SA vra beslis vir meer navorsing hieroor.

“Ons verstaan die regering se verpligting om nuwe energiebronne vir die land te ontwikkel. Agri SA is steeds verbind daartoe om die regering te ondersteun in hul poging om ekonomiese ontwikkeling in die land te verseker, maar ons sal nie dié soort ontwikkeling toelaat as dit Suid-Afrika se voedselsekuriteit in gedrang bring nie.”

Möller meen dit blyk ook dat hidrobreking ʼn situasie kan veroorsaak waar skaliegasontwikkeling en landbou kompeteer vir water, wat reeds ʼn uiters skaars hulpbron in Suid-Afrika is, die gebruik van grond en selfs infrastruktuur soos paaie.

skaliegas-eksplorasiereg-en-permitte-kaart-2017-07-05-01

‘n Kaart vir Suid-Afrika se skaliegas eksplorasieregte en permitte. Foto: Maroela Media.

Agri SA se provinsiale affiliasie in KwaZulu-Natal het onlangs interdikte in Pretoria se hooggeregshof verkry om die Petroleumverenging van Suid-Afrika (Pasa) te verbied om die onderskeie aansoeke vir eksplorasiereg en ʼn tegniese permit aan Rhino Oil en Gas Exploration South Africa toe te staan. Die betrokke gebied waar die maatskappye vir skaliegas wou soek, beslaan ʼn totaal van 1,6 miljoen hektaar en 15 000 plase in dié provinsie sou geraak word.

“Die probleem met die toestaan van tegniese samewerkingspermitte en eksplorasieregte vir skaliegas is dat dit die houers van die regte die eksklusiewe reg gee om aansoek te doen vir produksieregte en om sodanige regte te verkry.

“Dit sal onwys wees om nie van die begin af ʼn posisie oor hierdie kwessie in te neem nie, wetend dat regte wat vandag verkry word reeds die houers van die regte die mag sal gee om in die toekoms voort te gaan met volskaalse produksie,” het Janse Rabie, Agri SA se hoof van natuurlike hulpbronne, gesê.

Marcus Pawson, hoof van AfriForum se omgewingsake, het gesê hy is verheug om te hoor dat Agri SA homself nou skaar by die standpunt van dié burgerregte-organisasie en groepe soos die Treasure the Karoo-aksiegroep wat teen hidobreking is.

“AfriForum beplan om die hooggeregshof te nader om die regulasie wat deur die departement van minerale bronne oor skaliegasontwikkeling deur hidrobreking in 2015 saamgestel is, tersyde te stel. Hierdie regulasies is saamgestel voor verskeie navorsingsverslae oor hidrobreking afgehandel is. Intussen het die navorsing getoon dat Suid-Afrika glad nie gereed is vir hidrobreking nie en ook nie oor die genoegsame kennis of tegniese vaardighede en materiaal beskik om dit te doen nie,” het Pawson gesê.

Hy het ook gesê AfriForum is nie teen die ekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrika nie, die organisasie vra net dat dit op ʼn verantwoordelik wyse teenoor die omgewing geskied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Rupert Ashford ·

Moet net nie uit beginsel walgooi nie. As julle daardie versekerings in ‘n regs afdwingbare formaat kan kry, kan mens eksplorasie op klein skaal laat begin om seker te maak die ouens hou by die reels.

zahn ·

Rupert, om hulle toe te laat om op enige skaal eksplorasie te doen sonder dat daar absoluut sekerheid is nie, is net so goed jy laat dit heeltemal toe. Ons moet juis in beginsel walgooi, omdat ons al hoeveel keer in die verlede gesien het mens kan nie die huidige regering vertrou met enigiets nie. Hoe gaan jy seker maak mense hou by die reëls as daar nog nie eers sekerheid is oor die reëls nie? Watter reëls gaan jy toepas? AgriSA wil juis hê daar moet volledig verantwoording gedoen kan word, en dit is nie nou die geval nie, nie sonder behoorlike navorsing nie. Terloops, jy kan nie reëls opstel was jy nie weet waarvoor jy reëls opstel nie.. ek kry so ligte zupta geur hier, of is ek verkeerd? Dis nie gewone gas wat ek ruik nie..

John ·

?.. Is Agri SA werklik so naief om te glo hidrobreking kan op verantwoordelike wyse geskied… en dat beloftes, selfs wetgewing, sal verseker dat die natuur geen skade sal oorhou na so ‘n radikale en vergiftigende proses nie. En dit terwyl ons waterbronne onder druk is en geen boer tans seker is of hy nog baas van sy eie plaas se bogrond gaan bly nie… Die woord goedertrou bestaan lank nie meer nie…

Johann ·

My vraag is: WIE van die ZUPTAMAIKIES gaan weer hier ook skep en wegdra? “Bemagtiging” van die swart elite of die wat te sleg is om op grond van verdienste iets te bereik?

Eish ·

Die boeregemeenskap van die Karoo het voorwaar n grootse uitdaging om te hanteer. Dis voorwaar stof tot dankbaarheid dat Agri SA en Afriforum beide in die stryd staan saam met die boere. Hier gaan voorsorg soos in die artikel uitgestippel verseker op die langtermyn voordeel inhou. Die bekommernis bly maar die totaal kapasiteits gestremde Indunas in hul snywerspakke wat byvoorbaat bakhand staan. Met grondonteiening sonder vergoeding ook sterk in die pyplyn, is daar maar n pessimistiese vooruitsig vir die ongerepte Karoovlaktes.

johnny_walker ·

Wie in die land (wat nie sy siel en sy kinders se toekoms vir geld sal verkoop nie ) glo dat die ANC regering hierdie hidrobreking sal kan doen sonder korrupsie en onbevoegdheid op n onheilige skaal ? en as daar so iemand is , bring vir my bewyse van enige ander projek wat hulle suksevol aangepak het sonder om n totale gemors daarvan te maak op een of ander stadium . En onthou ons praat nou van n projek wat onmoontlik is om van te herstel as daar n fout kom

Koos ·

Besef niemand van julle hoe skadelik dit sal wees nie? Alles op papier lyk al te goed. En die geldgod glimlag breed. Maar kom ek verduidelik eenvoudig. Grond bevat natuurlike gasse en ook suurstof. Sodra daardie higroskopiese klein bietjies verplaas word, wat dink julle gaan die gas vervang? NIKS nie. Dink aan dit soos lug borrels in plastiek as mens dit uitdruk is die plastiek ‘n laag plastiek sonder die lug kussing gevoel. Grond is nie soos daai plastiek nie. Daardie grond gaan verseker verskuiwings veroorsaak, want die gas wat onttrek is is nie meer daar nie. Saam met die metaan gas (word noodsaaklike SUURSTOF ook onttrek, en watter plante groei sonder die noodsaaklike grondsuurstof? Of hoekom dink julle ploeg die boere? Boere ploeg en dolwe die grond in en so vorm die natuurlike suurstof in daar die los omgedolfde grond amper soos “airpockets”. Skuus vir my brits. Die ander ekologie wat benadeel word is die paddas en alle fauna in die grond wat noodsaaklik is vir ekologie.Een vb. Wat gebeur as die erdwurms nie suurstof het nie en vrek, wie gaan help om die organiese materiaal af te breek. Daar is duisende voorbeelde en RSA het unieke diere , voël lewe, insekte en ekosisteme. DINK ASB

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.