Landbou steun SA, burgers moet nou landbou steun, pleit Agri SA

(Argieffoto: Kwanalu/Facebook)

“Die landbou het die land aan die gang gehou tydens die inperking. Boere en plaaswerkers het uit hul pad gegaan om ons land, ons buurlande en deur uitvoere, ander dele van die wêreld van voedsel te voorsien. Met behulp van nie-regeringsorganisasies het boere vars groente, vrugte en vleispakkies afgelewer aan gemeenskappe wat hongersnood ervaar op die Kaapse Vlakte, in townships en menige arm gemeenskappe oor die land heen.

“Die toename in plaasaanvalle die afgelope paar weke kan nie geduld word nie. Dit moet gestop word.”

Só het die landbouorganisasie Agri SA Vrydag gesê terwyl hy terselfdertyd ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen het om standpunt in te neem teen plaasaanvalle en misdaad in die algemeen.

Die oproep kom na nóg drie moorde op Vrystaatse plase die afgelope week. Die minister van polisie, Bheki Cele, was Donderdag weer in dié provinsie waar hy terugvoer oor die polisie se planne gegee het om landelike veiligheid te probeer verseker. ʼn Komitee is onder meer saamgestel om die probleem van landelike misdaad te pak.

“Die aankondiging deur die minister van polisie gister dat verskeie taakspanne saamgestel is om die toename in plaasaanvalle in die Vrystaat te ondersoek word verwelkom. Ons hoop dat die oorsake van hierdie brutale aanvalle vasgestel sal word en dat die polisie die nodige aksie sal neem”, het Christo van der Rheede, Agri SA se uitvoerende direkteur, gesê.

Agri SA sê aanvalle is gemik op boere, ongeag ras.

“Swart en wit boere en plaaswerkers word geteiken en word dikwels wreed vermink en vermoor. Ten spyte van die uitdagings rondom plaasaanvalle, ʼn gebrek aan staatshulp en die ewig dreigende likiditeitsprobleme wat boere in Suid-Afrika in die gesig staar, het die landboubedryf steeds noemenswaardig tot ekonomiese groei bygedra.”

Agri SA sê die prys van basiese voedsel in Suid-Afrika bly stabiel danksy boere.

“Ons land trek voordeel uit landbou-uitvoere. In 2019 het landbou-uitvoere ter waarde van R156,3 miljard nagenoeg 10% tot totale uitvoere bygedra. Menige werksgeleentheid is in die proses geskep. Volgens die jongste arbeidsmag-opname deur Statistieke SA bied die landboubedryf werksgeleenthede aan 808 000 persone.”

Van der Rheede sê miljoene gesinne is van die inkomste wat deur die landbousektor gegenereer word afhanklik.

“In verskeie gebiede oral in die land werk wit en swart boere saam om die sektor te transformeer en ʼn sukses te maak van grondhervorming. Boere en plaaswerkers is ʼn bate. Ons land het sy boere nou meer as ooit tevore nodig. Hulle moet beskerm word.

“Agri SA doen dus ʼn beroep op die breë publiek om druk op die regering uit te oefen en aan te dring op daadwerklike optrede om ʼn einde aan plaasaanvalle en misdaad in die algemeen te bring. Neem standpunt in,” het Van der Rheede gesê.

Hy sê swart en wit mense moet saam werk om misdadigheid bloot te lê en saam werk om misdadigers vas te vat.

“Kom ons ondersteun die slagoffers en gesinslede van alle boere, plaaswerkers, asook alle ander kwesbare mense wat slagoffers is van hierdie wrede aanvalle. Plaasmoorde en misdaad in die algemeen neem epidemiese afmetings aan in Suid-Afrika. Hierdie toenemende vlaag misdaad kan slegs gestuit word deur druk uit te oefen en met samewerking en voorkomingsaksies deur die breër publiek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Ekskuus pryse bly stabiel wat jy waar kry kyk na aartappels , vleis sekere groentes en vrugte se pryse . Ons kry swaar en party skep ons weet net nie wie nie, alles se pryse is op behalwe miskien appels.

Flip ·

Gaan kyk by die middelman en kyk ook watter tyd van die jaar dit is. Hierdie ryd van die jaar stoot die supermarkte al wat n prys is op want “almal” kry mos bonus en dis Kersfees…..

Debbie ·

Daar is geen ander oorsaak vir die aanvalle behalwe rassisme teen wittes, boere. Hulle moet ophou soek na ander oorsake want daar is nie

Chris ·

Agri SA: Word wakker. Die buffelbul wat julle vir Ramaphosa geskenk het, gaan nie jul saak hoegenaamd bevorder nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.