Landbou wil ‘strukturele hervorming’ fyn dophou

Die minister het in sy toespraak gesê dié opening van die spoornetwerk vir derdepartygebruikers gaan die volume en kapasiteit van die stelsel ʼn hupstoot gee. (Argieffoto: SA Polisie/Valke)

Die landbouorganisasie Agri SA sê hy het ʼn lewendige belangstelling in strukturele hervorming wat onder meer vervoer en elektrisiteit behels.

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het Donderdag in sy eerste mediumtermynbegrotingsraamwerk gesê die tempo waarteen infrastruktuur verbeter en die doeanestelsel by alle hawens moet versnel word.

“Dit gaan beduidend bydra tot ʼn groter invordering van inkomste, die fasilitering van handel en die beskerming van grense,” het die minister in sy toespraak gesê.

“As ons belê in die korrekte infrastruktuur vir die toekoms, sal ons kan voordeel trek uit geleenthede om ons handel met ander lande te verhoog.”

Nicol Jansen, voorsitter van Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid: Ekonomie, sê dit is bemoedigend dat die minister ʼn mate van beperking getoon het deur die land nie te verbind tot besteding sonder die versekering van ʼn volhoubare langtermyninkomstebron nie.

“Die standpunt om te swaai van ʼn bestedingspatroon wat gefokus is op huidige verbruik na belegging word verwelkom.

Godongwana het soos verwag geen groot veranderings aangekondig nie. Hy het wel na die herstrukturering van staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) en na ʼn oënskynlik hernude fokus op groenkrag verwys.

Die minister het ook gewaarsku SBO’s kan nie dieselfde finansiële reddingsboeie as voorheen geniet nie.

“Ons word bemoedig deur die minister se sterk standpunt om nie meer geld aan SBO’s, met min of geen opbrengs, te gee nie. Ons is ook bemoedig deur die opening van die vragspoornetwerk wat deelname uit die private sektor teen 2022 moontlik sal maak.

“Meer as 75% van landbougoedere word tans per pad vervoer. Dit is duur en die skuif terug na spoorweë gaan positiewe uitwerkings op die bedryf hê,” sê Jansen.

Die minister het in sy toespraak gesê dié opening van die spoornetwerk vir derdepartygebruikers gaan die volume en kapasiteit van die stelsel ʼn hupstoot gee.

Agri SA het ook die regering se verbintenis tot die opbou van ʼn vaardige plaaslike regering wat dienste doeltreffend moet lewer, verwelkom.

“Ons sien uit daarna om meer besonderhede oor die plan te sien, aangesien gemeenskappe nie langer die las van swak dienslewering kan dra nie.”

Die organisasie sê die raamwerk was ʼn geleentheid vir Godongwana om vertroue in te boesem en hulle meen hy het dit met ʼn gebalanseerde toespraak gedoen.

“In ʼn tydperk waar verskillende faktore ʼn doring in die vlees van die ekonomiese welstand van Suid-Afrika is, is fiskale konsolidasie steeds ongeskonde en groei tel kop op,” sê Jansen.

“Hoewel daar groot onbekendes in die jare ná die medium termyn voorlê en beduidende risiko’s steeds teenwoordig is, was die mediumtermynbegrotingsrede ʼn gebalanseerde begroting vir die kort termyn. Gesonde verstand het geseëvier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

annie ·

Iets wat iemand nie gesê het nie, het jy nie gehoor nie. Om bloot te hoop die stilte beteken wat jy op hoop, is zero werd. Die ANC speel op tv vir die ryk wêreldlande en sit ‘n kamma heilige voetjie voor vir pledges wat moet realiseer. Die water lyk bo skoon en helder maar onder draai die duiwel rond. Die geskrifte van die sosialistiese regering is die bloudrukke vir doen. Lees dit sonder ‘n knippie sout.

Miskruier ·

JA asb, die R101 word vertrap deur vragmotors, ons hoofstraat wat n nasionale roete is ook. Baie van die vragmotors is buitelandse eienaars. Maak die spore oop,as daar nog spore oor is.

Kokerboom ·

Gegewe die toename in padvervoer net die vraag: Waarom hef Regering nie padheffings op gebruik van paaie deur buitelandse vervoerders? Dit word in Namibië gedoen op SA vervoerders wat land se paaie gebruik!

Dup ·

Die spoornetwerk(vrag en metro passasiers) sal nooit weer operasioneel wees nie.Die vandale en n gebrek aan onderhoud het reeds te veel skade aangerig.

Tino ·

Dalk eers die baie groot bome wat al tussen die spore staan uithaal…

annie ·

Die realiteit is dat nie eens ‘n flukse boodskapper met ‘n brief in sy stokkie deesdae van punt a tot b sy taak kan voltooi nie weens die struikrowers, skakers, moordbendes en pleinweg diewe wat alles en almal bedreig maak nie saak hoeveel geld na die boses of enige ander manier van doen gegooi word nie. Die woord ‘infrastruktuur’ beteken bloot iewers waar ek kan gaan skep… by hook or/and by crook.

Pieter ·

Die dag as jy n kommunis of n terroris glo moet daar vout wees met jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.