Landbou word deur swak hawens vermink

Argieffoto (Foto: Michael Gaida/Pixabay)

Uitvoerboere is raadop met swak dienslewering, nalatigheid en onbevoegdheid by Suid-Afrikaanse hawens. Dit lei tot miljoene rande se skade vir produsente, die erosie van Suid-Afrikaanse mededingendheid op internasionale markte en werkverliese op die platteland.

“Die regering se beheptheid met kaderontplooiing lei nie net tot die inploffing van staatsfunksies en die vernietiging van infrastruktuur en ekonomiese kapasiteit nie, maar verarm Suid-Afrika op alle vlakke,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai. “Dit is boonop die armste deel van die bevolking wat die meeste ly onder die vermindering van lewensnoodsaaklike werksgeleenthede op die platteland.”

Vrugte het ’n beperkte raklewe en moet aan superhoë standaarde voldoen om teen produkte uit Australië, Brasilië, Nieu-Seeland, Argentinië en ander kontinente mee te ding om ‘n plek op winkelrakke in Europa, Amerika en ander lande. Inspekteurs besoek plase teen groot koste vir die boere om te sertifiseer dat die produksieproses aan daardie standaarde voldoen.

“Die staat se omvattende onvermoë laat die proses egter in die steek. Tafeldruiwe in ’n skeepshouer moet teen -0,5 ˚C in ’n koueketting van die pakhuis tot op die mark in Europa of die VSA vervoer word. Boere betaal daarvoor, asook vir die verpakking, versekering en hantering van daardie vrugte. Dit hou dorpe aan die gang. Die uiters swak hantering van daardie skeepshouers in die hawens veroorsaak egter dat duisende tonne vrugte net daar vernietig moet word nog voor dit op ’n skip gelaai word.”

De Jager sê temperature wat skommel of enkele grade warmer word, veroorsaak onherstelbare skade aan die vrugte. Naspeuringstegnologie is al so gevorderd dat boere die temperatuurwisseling in skeepshouers intyds op hulle selfone kan volg. Temperatuurwisseling kom telkens voor sodra die skeepshouers hawepersele binnegaan. Die hawens is nie soos boere se pakhuise op plase met kragopwekkers toegerus om hulle teen beurtkrag te beskerm nie. Skeepshouers word dikwels hardhandig hanteer en word nie deur hawepersoneel aan krag gekoppel nie. Hulle staan gereeld weke langer as geskeduleer in bergingswerwe voordat hulle gelaai word.

Die hawens word nie aan dieselfde hoë standaarde onderwerp as die produsente nie, en wanneer duisende tonne vrugte vanweë swak hantering en nalatigheid in die hawens vernietig word, verloor die boere nie net die vrag nie, maar moet steeds betaal vir die verpakking, administrasie en logistiek. Een tafeldruiweboer in Vredenburg het reeds 18 skeepshouers vol druiwe van die 2022 oes so verloor.

“Boere word ook nie toegelaat om self hulle houers op die hawe op te pas, te versorg of te inspekteer nie. Hulle is absoluut uitgelewer aan die hawepersoneel se onvermoë. Niemand aanvaar verantwoordelikheid nie, en geen versekeringsmaatskappy is bereid om die vrugte op die haweperseel te verseker nie.”

De Jager sê om hulle waardekettings en ondernemings staatsbestand te maak, druk boere tevergeefs vir die privatisering van die hawens. Sommige wat in buurlande belange het, voer die skeepshouers padlangs daarheen uit om toegang tot beter bestuurde hawens te kry. “Baie hektaar vrugte is egter reeds uitgehaal en omgeskakel na bedrywe wat minder kwesbaar vir staatsfaling is en waar die risiko’s meer bestuurbaar is. Dit is hoe duisende werksgeleenthede verlore gaan.”

Saai is uiters bekommerd oor die impak wat die ineenstorting van hawens op die toekoms van familieboere in uitvoerbedrywe kan hê. Saai is veral skepties oor die waarskynlikheid dat hawens en ander vervoerinfrastruktuur wat tydens Fikile Mbalula se termyn as minister van vervoer in duie gestort het onder sy bestuur weer diensbaar en doeltreffend sal word.

Daarom het Saai met uitvoerboere ooreengekom om die staat se aanspreeklikheid in hawens te toets. “Ons nooi boere wat reeds skade gely het of deur die swak dienslewering in hawens bedreig word uit om met ons kontak te maak.”

Boere wat miljoene rande se verliese ly as gevolg van swak bestuur in hawens en plaaswerkers wat hulle werk as gevolg daarvan verloor, bly skepties oor president Cyril Ramaphosa se beloftes van ekonomiese groei, tegnologiese ontwikkeling en werkskepping. Voordat kaderontplooiing nie met ’n strewe na doeltreffendheid vervang word nie, sal die verrotting in die staat en die verarming van Suid-Afrika en sy mense net verder verdiep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kokerboom ·

Uitstekende voorbeeld van doelbewuste ekonomiese sabotasie!!En..ons het ‘n “hands off” President wat meer bekommerd is oor Afrika as sy eie land!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.