Landboukomitee maan teen te min entstof

Argieffoto

Die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou het die departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming vandag gewaarsku dat meer entstof teen dieresiektes, en spesifiek perdesiekte, verskaf moet word in belang van Suid-Afrika se landbousektor.

Die portefeuljekomitee het gevra dat die landboubegroting uitgebrei moet word en dat vakante poste in die departement as prioriteit gevul moet word.

Al die verskillende provinsiale en nasionale projekte ten behoewe van ontluikende boere moet saamgevoeg word sodat dit meer effektief kan wees en entiteite soos die departement van landbou en die Landbounavorsingsraad moet voorligting van die ouditeur-generaal ontvang sodat hul oudituitkomste kan verbeter.

Noodlediging en rampbestuur moet met vroeë waarskuwingsmodelle van byvoorbeeld weerpatrone gekoördineer word en plaaslike landbouprodukte moet voorrang geniet as die staat kos voorsit.

Die betrokke minister, Thoko Didiza, het drie maande om die komitee se bevindings te implementeer.

Wat grondhervorming betref moet die regering ‘n bateregister opstel van die plase wat reeds vir die doel aangekoop is. ‘n Beleid moet ook binne drie maande opgestel word oor presies wat met die beskikbare geld gedoen mag word.

Die grondwaardeerder-generaal se rompslomp moet verminder word sodat dit nie sinvolle grondhervorming vertraag nie en meer kundige waardeerders moet aangestel word.

Die Ingonyama-trust, wat Zoeloe-stamgrond bestuur, het sterk onder skoot gekom. Die komitee het bevind die trust moet meer verantwoordbaar aan die parlement gemaak word.

Die grondregte van inwoners van die gebied wat die trust beheer moet ook beter beskerm word en hulle moet teen eensydige besluite oor hul wel en wee beskerm word.

Laastens moet die trust lewensvatbaarheidstudies aan die komitee voorlê vir die projekte wat die trust aanpak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JO ·

Ja meer entstof en minder in antibiotika is ‘n stap nader aan organiese landbou metodes. Bly dis darem een stap in die regte rigting.

Tinus Coetzee ·

Dit is ‘n reuse stap in die regte rigting. Solank dit nie net by praat bly nie. Hulle is eksperts met praat, maar ai, die uitvoering daarvan.
Maar kom ons hou die verwikkelinge meer positief dop.

Marius ·

Vakante poste is as gevolg van anc rasisme. Poste bly vakant omdat hul nie ‘n kader of swart kandidaat kry om te plaas nie. Die anc sal’ n departement / diens laat ondergaan maar nie ‘n wit kandidaat plaas nie.

Julius ·

Praat,praat en nog kommisies is al wat gaan gebeur en die geld gaan verdwyn tussen die boom en die bas.

Schalk ·

3 Maande???? Geen ander werkgewer of instansie sal ‘n hoof soveel kans gee om te reageer of te implementer nie. Maar nou ja hier wankel nog ‘n pilaar wat die ekonomie moet steun.

Kootjie ·

Ek lees al hierdie goeters op my cell en die Vader weet….ons land is in sy peetjie in! Van vooruitgang is daar geen sprake nie!! Ek is 83 jaar oud en weet waarvan ek praat!! Langpad saam gedraf en baie baie dinge gesien gebeur en nog altyd TROTS gewees om te se ek is wit en Afrikaans!!! Maar aai??? Wat en wie gaan ons uit hierdie warboel van omstandighede red?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.