Landbouminister veroordeel ook Vaalharts-moorde  

Minister Thoko Didiza. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het gesê sy is geskok oor die moorde op Dan (83) en Breggie (79) Brand en hul dogter Elzabie.

“Ek wil namens die landbousektor ons innige meegevoel aan die familie, vriende en kollegas van die slagoffers betuig,” het minister Didiza gesê.

Die Brand-egpaar se liggame is Dinsdagmiddag in die omgewing van die Takaneng-nedersetting in Taung in Noordwes gevind. Elzabie se liggaam is vroeër in dieselfde omgewing opgespoor. Die gesin is vermoedelik Sondag al ontvoer tydens ʼn aanval op ʼn kleinhoewe in die Vaalharts-besproeiingskema naby Hartswater in die Noord-Kaap.

Vyf verdagtes is in verband met die voorval in hegtenis geneem en sal na verwagting Donderdag in die Hartswater-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, roof en ontvoering. Die verdagtes is onderskeidelik 18, 19, 20, 36 en 42 jaar oud.

Didiza het die inhegtenisnemings verwelkom en gesê dit bring vertroue in die regstelsel. “Dit sal ʼn sterk boodskap aan misdadigers stuur dat daar geen plek vir kriminele aktiwiteite in ons land is nie.”

Elzabie, Breggie en Dan Brand.

Die minister het ʼn beroep gedoen op alle belanghebbendes in die landbousektor om waaksaam te bly teen plaasaanvalle en -moorde, aangesien dit voedselsekerheid en voedselproduksie negatief beïnvloed.

Intussen beplan boere van die omgewing en lede van die gemeenskap ʼn massa-optog in verband met die verdagtes se hofverskyning.

Sommige van die verdagtes het glo erken hulle het die egpaar en hul dogter vermoor en het toe aan die polisie begin uitwys waar die liggame gevind kan word.

Die LUR vir landbou, omgewingsake, grondhervorming en landelike ontwikkeling in die Noord-Kaap, Mase Manopole, het ook haar medelye met die Brand-gesin se familie en vriende betuig.

Manopole het die polisie ook vir die spoedige inhegtenisnemings geloof en die misdaad bestempel as een wat deur gierigheid gedryf is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

DLR ·

Ag shame en ek glo sy bedoel dit. Dis nie die enigste plaas moord hierdie jaar of sommer hierdie naweek nie. Wat van die ander. Het die media dalk hierdie spesifieke moord so herhaaldelik genoem dat sy iets moes gorrel. ASB.

Pierreli ·

Wat help veroordeling? Hulle doen niks om die skuldiges te vervolg soos wanneer een van hulle kadre aangeval of vermoor word nie.

Stebastiaan ·

Soos gewoonlik net lippe taal, verder gebeur niks nie.

Spook ·

Wat ‘n verrassing! Ek wonder of sy skielik wakker geword het en besef het haar ontbyt spek en eiers gaan opdroog as daar nie boere is nie. Maar ook, die tyd vir wonderwerke is nog nie verby nie.

PH ·

Sy sê sy’s geskok.
Nou het sy haar ministeriële plig gedoen, nê

DLR ·

Al hoe sy geskok kan word is as sy aan 220 volt vat. As daar nie load shedding is nie…..

Ricus ·

Dit is wonderlik dat hul nou wil medeleie he die probleem is net 3 mense is dood vermoor weg en al die ander boer wat ookal vermoor is .

DieKriek ·

Die dood van hierdie drie mense is net absoluut afgryslik (en ook van ander mense in landlike gebiede). Hoekom ou, weerlose mense doodmaak? Want hulle kan. Kyk hoe jonk is hierdie moordenaars. Hoe kan enige iemand nog sê dit is Apartheid se skuld? Dis algehele wetteloosheid want hulle is beskermde wild. Laat hierdie pragtige mense nie verniet gesterf het nie – ek hoop dit is die draaipunt wat mense met mag se oë laat oopgaan tov plaasmoorde.

Misky ·

As ek die woord “veroordeel” lees, wil ek al naar raak. Dis al wat hulle elke keer sê en dis waar dit bly

Aai ·

“Prevention is better than cure”ANC julle doen niks om dit te keer nou wil julle kom blaf.

Grassie ·

Dit is net omdat die regering onlangs in ‘n debat kwaai gekritiseer is oor hul ongevoeligheid teenoor plaasmoorde dat hulle nou so effens reageer. Ek sou graag vir haar wou sê presies wat sy met haar “medelye” kan gaan doen maar kom ons los dit liewers. Ons word nie beïndruk deur krokodiltrane nie.

Genis ·

Regtig, en so laat hulle die EFF en BLF toe om moorde veral plaas aan te spoor…

Scalla ·

Hoekom hoor ons niks van die president, by sy toesprake word sekere mense op die naam genoem.

Heinrich ·

Vir almal wat so bohaai opskop paai sy nou ook maar met ‘n kamtige veroordeling terwyl sy volle vertroue het in die piepklein vervolgingsvermoë van ons howe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.