Landbouorganisasie wil ook myn naby Komatipoort teenstaan

Foto ter illustrasie. (Foto: pixabay)

Die landbouorganisasie Saai het sy stem gevoeg by diegene wat gekant is teen die ontwikkeling van ʼn steenkoolmyn naby Komatipoort en die Krugerwildtuin.

Manzolwandle Investments se aansoek behels die myn van steenkool in ʼn gebied van sowat 18 000 hektaar. Die gebied bestaan hoofsaaklik uit besproeiingsboerderye in uitvoerbedrywe.

Saai sê hoë-intensiteitboerderye, wat ʼn groot hoeveelheid werkers in diens hou, is veel meer volhoubaar as die beoogde myn.

“Aanvanklike berekeninge dui daarop dat ’n eenmalige opbrengs teen ’n stroopverhouding soortgelyk aan ander antrasietmyne in die Vryheid-formasie noord van Swaziland nie lewensvatbaar sal wees nie. Boonop sal die grond vir eeue daarna bar en dood gelaat word,” het Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, in ʼn verklaring gesê.

“Dié eenmalige opbrengs, asook die skade aan die watertafel, ekologie en toerisme, moet opgeweeg word teen die huidige landboubedrywighede in die gebied, wat vir ’n onbepaalde tydperk ’n groeiende inkomste van meer as R100 000 per hektaar per jaar ná uitgawes kan oplewer.”

Die organisasie sê die departemente van omgewingsake en mynbou het boonop ʼn swak rekord wat betref die toepassing van rehabilitasiereëls. Saai sê dít kan duidelik gesien word by oopgroefsteenkoolmyne in Mpumalanga. Daar is ook geen aanduiding dat die departemente se doeltreffendheid in die afsienbare toekoms gaan verbeter nie.

Volgens ’n onafhanklike mynboukonsultant en Saai-netwerkvennoot is slikdamme, afvoerdamme en watersuiweringsaanlegte noodsaaklik om antrasiet te ontgin en as lewensvatbare produk te verkoop. Die hoeveelheid water wat dié prosesse vereis, gaan egter aangrensende plase se watertafels beduidend verminder en besproeiingsboere tot 300 km rivierlangs benadeel, het Saai gesê.

Boonop sal die stof wat oopgroefmynbou genereer bevrugting van gewasse in die gebied nadelig beïnvloed.

Steenkoolmyne op Mpumalanga se Hoëveld het oor die afgelope twee dekades ’n verdoemende uitwerking op landbouproduksie gehad. Suurreën, steenkoolstof, honderde vragmotors wat paaie verpletter, ’n toename in veediefstal, lug- en waterbesoedeling, asook geraas is maar enkele nadele wat onbeheerste newe-effekte van mynbouaktiwiteite vir nabygeleë landbouproduksie inhou, het Saai gesê.

Die organisasie het sy aansoek om as belanghebbende te registreer Dinsdag ingedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie ·

Vir hoe lank vra ons al? Praat die ministeries van Mynbou en Landbou/Natuurbewaring NIE met mekaar. Mens hoor selde dat laasgenoemde Dept absurde projekte van die Dept van Minerale Sake teenstaan!!!!!’n Wakker President sal die kaders tot orde roep!!!

Jerry ·

Die ANC plan is om SA in n mynmekka te omskep. Landbougrond wat onteien word en wat ryk is aan minerale, gaan in mynbou omskep word. Dit is hoekom die land geplunder is sodat daar regverdiging is vir mynbou as enigste uitweg om die skade van staatskaping fase 1 te herstel. Niemand sal kan stry dat mynbou die oplossing bied met werk wat geskep gaan word en geld wat daaruit gegenereer word. Krete van bewaring, voedselproduksie, ondergrondse waterstrome en lugbesoedeling gaan dus op dowe ore val!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.