Landbousektor: Staatsrede baan weg vir mislukking

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou. Foto: Vrystaat Landbou

Gisteraand se staatsrede het, net soos landbou-organisasies vermoed het, niks goed vir die landbousektor ingehou nie.

Volgens Vrystaat Landbou was dit duidelik dat die regering in ideologiese modder vasgevang is. “Hulle wil in 2021 steeds voortgaan met dieselfde mislukte beleid wat Suid-Afrika op sy knieë en op die randjie van finansiële ondergang gebring het,” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou. “Suid-Afrika is soos ʼn kommersiële plaas, dit kan nie sukses behaal met beleide wat tot bankrotskap sal lei nie.”

Dié organisasie teken veral beswaar aan teen die volgende:

  • Die regering se hardnekkige benadering tot eiendomsreg, wat deur die nuwe onteieningswetsontwerp ondermyn word en nie ʼn omgewing vir ekonomiese groei sal skep nie;
  • Die regering se voortgesette ondersteuning van die mislukte breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BGSEB)-beleid wat, behalwe die verryking van ʼn paar elites, niks vir die skepping van werksgeleenthede en nuwe volhoubare besigheid gedoen het nie, maar tog die land miljarde kos; en
  • Die regering se voortgesette gebruik van beleid om hul rol, wat in die verlede in die samelewing misluk het, uit te brei, wat geen oplossings bring om die huidige uitdagings die hoof te bied nie.

“Ons as boere en werkskeppers is nou nog meer bekommerd na afloop van die 2021-staatsrede. Beleide wat nodig is om voedselsekerheid en eiendomsreg te ondersteun, is geïgnoreer. In plaas daarvan vier politieke ideologie hoogty en die staat is verswak deur plundering en korrupsie. Dit is duidelik dat hierdie verwagte trajek sal voortduur. Dit beteken ook dat die landbougemeenskap sy leierskapsrol in die landelike gebiede van Suid-Afrika sal moet vergroot,” sê Wilken.

TLU SA sê president Ramaphosa se 2021-staatsrede was bloot ʼn goeie vertoning vir die paviljoen in ʼn verkiesingsjaar.

Hierdie organisasie is wel positief oor die president se aanslag om plaaslike produkte en plaaslike handel te bevorder. “Ongelukkig maak ʼn ongunstige arbeidsbeleid en onsekerheid oor private besitreg dit baie moeilik vir entrepreneurs om hier sake te doen,” sê Henry Geldenhuys, president van TLU SA.

TLU SA merk op dat die president erken dat die land ʼn ekonomiese inspuiting nodig het, “maar dan roem hy op sy ekonomiese herstelplan se sogenaamde suksesse. Wat die land werklik nodig het, is ʼn beleid wat ekonomiese belegging na Suid-Afrika lok,” sê Geldenhuys.

“In werklikheid word entrepreneurs gedwing om kapitaal die land uit te neem om ʼn volhoubare bestaan te maak,” sê Geldenhuys. “Nee wat, die staatsrede – soos die begrotingsrede – is ʼn gespeel met woorde om mense te paai.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willem ·

Die president het mos werk geskep. Elke skool in die land moet dan 20 brigade lede hê. Wat ń mors van belasting geld. Stel onderwysers aan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.