Landdros geskors wat kinderverkragters glo ‘waarsku’

Argieffoto (Foto; Maroela Media)

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het ʼn streekslanddros voorlopig geskors nadat dié glo verskeie kinderverkragters waarskuwings of opgeskorte vonnisse in plaas van lewenslange tronkstraf opgelê het.

Chrispin Phiri, Lamola se woordvoerder, het Woensdag in ʼn verklaring gesê die minister het ʼn waarnemende streekslanddros by die landdroshof in Umlazi in KwaZulu-Natal voorlopig geskors hangende die uitslag van ʼn ondersoek na haar geskiktheid om die amp van landdros te beklee.

Die Landdroskommissie het die saak na die minister verwys, het Phiri in die verklaring verduidelik.

Die betrokke landdros word in die verklaring as ene mej. K. Bodlani geïdentifiseer.

Volgens Phiri het ʼn evaluering van Bodlani se werk onreëlmatighede en tekortkominge aan die lig gebring. Dit sluit in ʼn aantal van haar sake wat vir spesiale hersiening in terme van afdeling 304 (4) van die Strafproseswet gestuur moes word nadat sy onvoldoende vonnisse opgelê het.

Ronald Lamola (Foto: Kopano Tlape GCIS)

Volgens Phiri is die hof vir seksuele misdrywe aan Bodlani toegewys en het sy gevolglik sake rakende kinderslagoffers wat deur volwassenes verkrag is, behartig. Die voorgeskrewe minimum vonnis vir misdrywe van dié aard is lewenslange tronkstraf.

Tog het Bodlani die oortreders bloot gewaarsku, berispe of opgeskorte vonnisse opgelê, het Phiri gesê.

Volgens Phiri is daar bevind dat die opgeskorte vonnisse onvoldoende en onvolledig was. “Nadat ʼn aansienlike aantal van Bodlani se uitsprake op spesiale hersiening geplaas is, is ernstige vrae gevra oor haar geskiktheid in die regterlike amp. Daar is bevind die vonnisse wat sy opgelê het, was onder meer verkeerd, onvolledigheid, onvoldoende, verregaande, ontstellend tot die uiterste, skokkend onvanpas en heeltemal in stryd met die faktore wat relevant is vir vonnisoplegging.”

Phiri het daarop gewys dat die minister by magte is om ingevolge artikel 13 (3) (a) van die Landdroswet ʼn landdros voorlopig uit die amp te skors op advies van die Landdroskommissie.

Dít nadat die betrokke landdros die kans gegun is om sy of haar kant te stel en bewyse daarop dui dat die aantyging teen die landdros van so ʼn ernstige aard is dat dit onvanpas sal wees vir die landdros om sy of haar werk voort te sit hangende die uitslag van ʼn ondersoek.

“ʼn Verslag waarin die voorlopige skorsing en die redes daarvoor bekend gemaak word, moet ingevolge artikel 13 (3) (b) van die wet binne sewe dae van sodanige skorsing aan die parlement deur die minister voorgelê word,” het Phiri bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Niklaas ·

Knap gedaan Minister Lamola ! Nou wonder ek net waar het hierdie streekslandros Bodlani regte bestudeer en of enige graad verwerf is ? Laat ons hoop daar is nie ander soortgelyke gevalle in die land nie.

marius ·

As die naasbestaandes nie ‘n bohaai opgeskop het nie , sou daar nie ‘n woord gerep word nie . Dis die waarheid .

Elsa ·

Deur sulke uitsprake, wys dit duidelik dat hy, die landdros, die oortreding goedkeur

Riaan ·

In algemene plat Afrikaans…..die hele regering regstelsel en hoof rolspelers in ons parlament se blote verlies aan verstand en logiese redinasie hulle kort sigtigheid en tekort aan algemene kennis is ( bekotsingswaardig) . Daar is n ou gesegde “red n volk met”. Ons is verby redding net een lang af grond sonder n einde. Maar nou ja niemand is so blind as die wat nie wil sien nie ook nie dower as die wat nie wil hoor nie.

Pieter J ·

Ek moet sě hierdie is vreemde uitsprake komende van ń vroue landdros. Dit laat my wonder of beskuldigdes nie betaal het vir hierdie uitsprake nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.