Landdros in Amcu-saak onttrek

Argieffoto

Landdros Stanley Maribe wat die borgtogaansoek van ʼn taxibestuurder wat van poging tot moord op ʼn Amcu-takvoorsitter beskuldig word hanteer, het homself Dinsdag aan die saak onttrek.

Maribe het gesê dit sal eerder gepas wees as ʼn ander landdros die saak hanteer. Dít kom ná Pontsho Raikane, prokureur vir die verdediging, versoek het dat Maribe homself aan die saak onttrek. Raikane, wat Simphiwe Silwane verteenwoordig, het gesê hy is nie gemaklik dat Maribe sy kliënt se aansoek om borgtog aanhoor nie.

“Die basis van my aansoek is gegrond op gesprekke wat in die landdros se kantoor gevoer is. Ons het twee vergaderings gehad en senior beamptes van die hof was teenwoordig. Die staat wil die hof oortuig oor ʼn uitspraak. Ek is nie gemaklik om voort te gaan met die aansoek voor die hof nie en versoek nederig dat die landdros onttrek omdat ek weet wat gesê gaan word.”

Hy het aanvanklik die staat se aansoek dat die borgtogaansoek as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor moet word, teengestaan. Nadat die hof gelas het dat die aansoek wel as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor moet word, het Raiken versoek dat die hof vlugtig verdaag sodat hy met sy kliënt kan konsulteer.

Die partye het daarna met die landdros in sy kantoor vergader waarna Raikane die aansoek gebring het vir Maribe om hom van die saak te onttrek. Maribe het tydens die vorige verskyning gesê hy kan nie die borgtogaansoek aanhoor nie, aangesien hy Silwane se twee medebeskuldigdes se borgtogaansoeke aangehoor het toe Silwane nog nie in hegtenis geneem was nie.

Dit het intussen ook aan die lig gekom dat Silwane in Augustus 2016 skuldig bevind is aan die besit van gesteelde eiendom en dat hy ʼn opgeskorte vonnis van vyf jaar tronkstraf gekry het.

Die staat voer aan dat Silwane, Samkelo Mkhutshwa en Nkosinathi Mantashe vir Malibongwe Mdazo, Amcu se takvoorsitter by Eastern Platinum, op 22 Julie in Mooinooi naby Brits geskiet het in ʼn poging om hom te vermoor. Mdazo is verskeie kere geskiet op ʼn sportgrond in Mooinooi.

In sy verklaring het Silwane gesê hy was besig om ʼn sokkerwedstryd te kyk ten tyde van die skietery by ʼn sportgrond in Mooinooi toe hy verskeie skote gehoor het en saam met ander toeskouers weggehardloop het. Volgens hom word hy net aan die klag verbind omdat mense beweer hy weet wie die skote afgevuur het.

Die saak is tot 9 Februarie uitgestel. Mantashe, wat eerste in hegtenis geneem is, is 8 November op borgtog van R10 000 vrygelaat terwyl Mkutswa op borgtog van R2 500 vrygelaat is. Hulle moet weer op 2 Maart in die hof verskyn.

Amcu-lede het buite en binne die hof saamgedrom en geëis dat Silwane nie op borgtog vrygelaat word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.