Lande dalk binnekort van Britse rooilys geskrap

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die 11 lande wat tans op Brittanje se reisrooilys verskyn, waaronder Suid-Afrika, kan na bewering binne dae van dié lys verwyder word. Sommige berigte lui dat dit moontlik reeds sou gou as vandag (Dinsdag) kan gebeur.

Luidens ʼn berig op Bloomberg meen Britse ministers die skrap van lande op die rooilys is bloot die volgende logiese stap, aangesien die getal Omikron-gevalle in die Verenigde Koninkryk (VK) elke twee tot drie dae verdubbel.

Dít volgens “’n persoon vertroud met die saak”, berig dié nuusdiens.

Luidens ’n berig deur Daily Mail het die Britse minister van vervoer, Grant Shapps, intussen sy kollegas oortuig dat die huidige rooilys vervang kan word met toetsing vir volledig ingeënte reisigers.

Angola, Botswana, Eswatini, Lesotho, Malawi, Mosambiek, Namibië, Nigerië, Suid-Afrika, Zambië en Zimbabwe is onlangs op die gevreesde reisrooilys geplaas nadat die Omikron-variant vir die eerste keer in Suid-Afrika bevestig is.

Boris Johnson. (Foto: Matt Dunham/AP)

Die lande se plasing op die rooilys beteken dat Britte wat hulle tans in dié lande bevind, vir tien dae se verpligte hotelkwarantyn sal moet opdok by hul terugkeer na die VK. Die koste beloop tans £2 285 (sowat R48 000) per persoon of £3 715 (sowat R 78 000) per paar.

Diegene wat nié verblyfregte in die VK het nie en hulle in een van die rooilyslande bevind, word intussen verbied om Brittanje binne te gaan.

Die Britse premier, Boris Johnson, het egter verlede week op ’n mediakonferensie gesê sy regering sal sy reisbeperkings hersien “gegewe die manier waarop Omikron nou regoor die wêreld versprei, en nie net in lande op die rooilys nie”.

Die nuwe variant – wat voorkom om meer aansteeklik te wees maar nié meer dodelik nie – is intussen in minstens 63 lande bevestig.

Sajid Javid, minister van gesondheid in Brittanje, het ook verlede week daarop gesinspeel dat reisbeperkings binnekort hoegenaamd nie meer nodig gaan wees nie namate Omikron die oorheersende variant word.

Daar was teen Dinsdagoggend egter nog geen bevestiging van die Britse regering rakende die skrap van sy reisrooilys nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Daleen1 ·

Ek glo nie iemand weet rerig wat aangaan nie. Dis 1 vet sirkus hierdie

ES ·

Of jy nou die inenting gekry het of nie, die waarskynlikheid is dat jy COVID kan en gaan kry en dat jy dit nogsteeds gaan en kan oordra. Maak net die lande oop vir reisigers, dis so eenvoudig soos dit. Ek is ten volle gevax en ek het nogsteeds COVID gekry – so wat maak dit nou saak of jy ingeent is of nie? Jy kan dit nogsteeds oordra en kry.

Alida ·

Dit maak wel ‘n verskil aan jou kans om in ‘n hospitaal te beland, of selfs op ‘n ventilator. En die mense wat ons ken wat nie ingeënt was toe hulle covid opgedoen het nie, sukkel maande later nog met erge moegheid, longprobleme en een het selfs ernstige nierskade oorgehou. Dit is tot jou voordeel dat jy die spuit gekry het.

Jaco ·

Suid afrika is verniet gestraf. Moet volgende keer niks sê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.