Lande nou minder vreedsaam weens Covid-19 – verslag

(Argieffoto: Max Kleinen)

Suid-Afrika is meer vreedsaam as vorige jare, maar die hoë moordkoers en geweldsmisdade in Suid-Afrika veroorsaak dat dié land steeds onder die top-40 gewelddadigste lande ter wêreld is.

Dít volgens die Instituut vir Ekonomie en Vrede se 2020-verslag oor wêreldvrede. Dié verslag wys lande was in 2019 oor die algemeen minder vreedsaam as vorige jare. Lande se vreedsaamheidskoers het gemiddeld met 0,64% gedaal en slegs twee van die nege streke wat nagespoor is, was in 2019 meer vreedsaam as voorheen. Vreedsaamheid het boonop wêreldwyd sedert 2008 met 2,8% afgeneem.

Dié verslag plaas die 163 onafhanklike state en gebiede wêreldwyd op ʼn ranglys en kyk waar konflik toeneem of afneem en watter faktore hierdie verandering meebring. Die verslag dui daarop dat Covid-19 verantwoordelik is vir ʼn nuwe vlaag spanning en onsekerheid wêreldwyd.

Suid-Afrika

Betogings in Khayelitsha. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Volgens dié verslag is Suid-Afrika van die minder vreedsame lande ter wêreld (123ste uit 163 lande). Suid-Afrika se vreedsaamheidskoers het wel met 3,4% verbeter en dié land se posisie op die ranglys het met drie plekke verbeter.

“Suid-Afrika ervaar egter ʼn hele aantal uitdagings, veral wat hoë vlakke van manslag en gewelddadige misdaad betref,” lui die verslag. In dié kategorie is Suid-Afrika 139ste uit 163 lande. Die koers waarteen Suid-Afrikaners doodgemaak word, is tans die sesde hoogste ter wêreld en tweede hoogste in sub-Sahara-Afrika (oftewel suid van die Sahara). Suid-Afrika se moordkoers is 35 per 100 000 inwoners. Dit is vier keer hoër as die gemiddeld van 9,1 per 100 000 inwoners in die sub-Saharagebied. Net Lesotho het hier meer moorde as Suid-Afrika.

Net in 2019 het geweld Suid-Afrika amper $100 miljoen (ongeveer R1,7 miljard) gekos, die 22ste meeste ter wêreld.

Suid-Afrika het ook ʼn toename van 86% in burgerlike opstande tussen 2011 en 2019 aangeteken. Die meeste van dié opstande het in 2017 en 2018 plaasgevind.

Die res van die wêreld

Die lys klassifiseer Ysland vanjaar vir die 11de keer agtereenvolgens as die vreedsaamste land. Kort op sy hakke is Nieu-Seeland, Oostenryk, Portugal en Denemarke. Afganistan is heel laaste op die lys met Sirië, Irak, Suid-Soedan en Jemen net bo hom. Al dié lande, behalwe Jemen, is sedert 2015 reeds as die topvyf mins vreedsame lande gelys.

Luidens die verslag was daar wêreldwyd ʼn skerp toename in burgerlike opstande sedert 2011 en 96 lande het gedurende 2019 minstens een gewelddadige betoging beleef. Sedert 2011 het die aantal onluste met 282% toegeneem en die aantal algemene stakings met 821%. In dié tyd het die meeste oproere in Europa plaasgevind (1 600 gevalle).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Michael 1 ·

Suid Afrika is n misdaad nes geword met die swak tipe polisiëring en polisie wat by misdaad betrokke is vind ek dit moeilik om te glo dat sa nie die mees gewelddadigste land in die wereld is nie. Dit is wat gebeur as jy net oorgee en stert tussen die bene weghardloop en almal verskoning wil vra soos de klerk gedoen het sonder om oor die nagevolge te dink.

BoerSonderRoer ·

Kon ons kry die Kaap onafhanklik, weg van die ANC, dan kan ons daai vinnig verander.

Nie Verbaas ·

Ek glo nie die 3.4% meer vreedsaam is verteenwoordigend van alle kulture nie. Met ANC regering se duidelike negatiewe kommentaar oor wittes en hulle plek in die land dink ek dat daar baie meer weerstand is. ANC dwing n wig tussen wit en swart.

Sarel ·

Vir bykans 25 jr skel sommige mense vir F.W. de Klerk
1. Hy het nie alleen besluite geneem nie hy moes sy Kabinet saam met hom.kry.
2. Daarna het hy referendum uitgeroep en die meerderheid het gepraat.
3. Om hom uit te sonder is om net soos ‘n ander Party vas td klou aan dinge wat 26 jr terug tit niet gegaazn het masr daar word steeds aan die verlede vas gehou.Kom los van die verlede of jy sal.nooit ‘n toekoms sien nie. Mnr. De Klerk was die laaste om drastiese besluite te neem ten koste csn homself. Waar is die Leiers vandag

Fedup ·

We all know exactly how humans are.
This pendemic only let us eventually show our true colours.
Bad virus.

PieterP ·

Ja Cele sal drank blameer en Mies Zuma sigarette. Dit is absolute treurigheid dat ons land in so ‘n nes verander het dat ons wenkbrou nie eers lig meer nie en dit as normaal beskou. Dit vrinne is the new normal! Die is wetteloosheid en geweld is geweek deur die regerende party en het geen kdee hke om dit te eindig nie. Die enigste ding wat hulle doen is rookskerms gooi om die aandag van die werklikheid af weg te trek. Skandelik!

AC ·

Om SA se geweld te vergelyk met lande waar daar werklik oorlog gevoer word is absurd. As daar nuwe syfers uitgereik word waar moord roof en geweld gemeet sal word sal SA in die eerste 5 wees.

Genis ·

As n land deur tronkies bestuur word kan dit skeker te wagte wees?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.