Landelike inwoners moet waaksaam wees

Gemeenskapslede het baniere wat hul ontevredenheid oor plaasaanvalle uitbeeld, aan hul motors vasgemaak en langs die pad laat rondwapper (Foto: Verskaf)

Die VF Plus het Donderdag landelike inwoners herinner om hul waaksaamheid te verskerp en om by plaaslike buurtwaggroepe en gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) aan te sluit. Dit volg ná die vlaag plaasaanvalle die afgelope paar maande.

Werner Weber, VF Plus-leier in Mpumalanga, sê die VF Plus doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners, en veral boere, om hulle voor te berei op die moontlikheid van misdaad en aanvalle en om binne die reg op te tree om hulself en hul eiendom te beskerm.

Weber verwys na die aanval Woensdagoggend op ʼn plaas in die Sundra-omgewing, waar Erika Muller vroualleen drie aanvallers op die vlug laat slaan het. Sy was alleen tuis nadat haar man, Sampie, plaaswerkers gaan haal het.

Maroela Media het vroeër berig drie verdagtes het die huis genader en Muller beveel om die veiligheidshek van die huis oop te sluit. Een van die verdagtes het ʼn vuurwapen uitgepluk en die hek probeer oopkry, waarna die vrou kamer toe gehardloop en ʼn vuurwapen uit die kluis gekry het. Sy het op die aanvallers begin skiet en hulle het gevlug.

Ná die aanval op Muller was daar goeie kommunikasie tussen die buurtwag en polisie wat tot die inhegtenisneming van die twee verdagtes gelei het. ʼn Derde verdagte is tydens ʼn skietgeveg noodlottig gewond.

“Gereedheid, goeie kommunikasie en die gemeenskaplike doelwit van buurtwaggroepe se samewerking met die polisie het tot dié suksesverhaal bygedra,” sê Weber.

Weber verwys ook na ʼn tweede aanval digby Bethal, Mpumalanga, waar rowers op Butch Goosen op ʼn kleinhoewe toegeslaan het. Die aanvaller het ʼn deur oopgeskop waarna ʼn skietery tussen Goosen en sy aanvallers plaasgevind het. Goosen is in die bors geskiet. Hy is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling. Die rowers is nog soek.

Boere is keelvol vir plaasaanvalle en -moorde (Foto: Verskaf)

Daar is die afgelope drie maande berig van talle aanvalle waar die plaaslike buurt- en plaaswagte, veiligheidsgroepe en plaaslike boere dadelik gereageer het en die verdagtes binne ʼn paar uur ná die aanval vasgetrek is.

Intussen het die minister van polisie, Bheki Cele, die landelike gemeenskap van Normandien in KwaZulu-Natal verseker dat die huidige veiligheidsplan in die gebied hersien gaan word. Cele het Woensdag die plaas in Normandien naby Newcastle in KwaZulu-Natal besoek waar Glen Rafferty (63) en sy vrou, Vida (60), Saterdagaand vermoor is.

Hy het met gemeenskapspolisiëring- en landbouorganisasies vergader wat gevra het vir beter inwerkingstelling van die nasionale landelike veiligheidsplan.

Die hersiene plan is verlede week bekend gestel en word gekenmerk deur ʼn holistiese aanslag ten opsigte van landelike veiligheid wat beter samewerking tussen die regering, die private sektor en burgerlike samelewing insluit. Cele het boere beloof hulpbronne sal na spesifieke gebiede verskuif word om veiligheid daar te verbeter.

Ná afloop van Cele se besoek aan die plaas het die landbouorganisasie Agri SA die hoëvlakaandag wat plaasaanvalle oënskynlik die afgelope ruk geniet, ook verwelkom.

Talle boeregemeenskappe het ook van einde Julie verskeie betogings gereël om hul stem dik te maak teen die plaasaanvalle en -moorde. Die eerste betoging waaruit al die opvolg-optogte ontstaan het, was toe honderde boere en gemeenskapslede van Jan Kempdorp, Magogong en Hartswater in hul plaasbakkies, motors, vragmotors en selfs op hul trekkers by die Hartswater-landdroshof byeengekom het. Die vyf verdagtes wat vasgetrek is in verband met die moorde op die Brand-gesin het daar in dié hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Simon ·

Die wilde weste op sy beste! Die Amerikaanse cowboys en gunslingers kan gaan slaap. Hulle sal sien hoe dit eintlik gedoen word wanneer die Suid Afrikaanse boere los trek. So oor 100 jaar van nou af sal ons kleinkinders die boere flieks geniet!

saggiespraat ·

Here are 3 verses to give you a head start praying over and through your home.

•Welcome God into your home: 2 Chronicles 7:15-16 “Now my eyes will be open and my ears attentive to the prayer that is made in this place. …
•Pray that God keeps you and your home safe: …
•May your home be peaceful:

Vat die water wat julle vloerre was en seen dit met n gebed in Jesus naam en doop
jou huis met die huilige gees dit werk.

Danie ·

Ek hoop net die volgende inbrekers weet van die gedoopte huis want dit gaan hulle sowaar nie afskrik nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.