Landelike veiligheid van strategiese belang

Argieffoto (Foto: markus53, Pixabay)

Argieffoto (Foto: markus53, Pixabay)

Agri SA het gesê die land benodig doeltreffende misdaadintelligensie wat kan lei tot voorkomende optrede in die bekamping van plaasaanvalle.

“Te midde van toenemende landelike misdaad en spesifiek plaasaanvalle, vind ek dit toenemend moeilik om boere tot kalmte te maan en om nie onverantwoordelik op te tree nie,” sê Johannes Möller, President van Agri SA. “Daar sal duidelike strategieë en ooreengekome optrede gevestig moet word, want die gewelddadigheid kan nie langer geduld word nie.”

Möller het gereageer op verskeie plaasaanvalle die afgelope week wat regoor die land voorgekom het. “Die misdaad berokken ernstige skade aan die beeld van die land en dit kan nie net met polisieoptrede voorkom word nie. ʼn Langtermynverandering in die waardesisteem van die bevolking word benodig.”

Volgens hom moet die boerderygemeenskap kan staatmaak op doeltreffende sigbare polisiëring om kriminele aktiwiteite in die landelike gebied pro-aktief te bekamp. Hy sê die boerderygemeenskap moet egter steeds met die polisie saamwerk en hulle organiseer in plaaswagstelsels. Hulle moet inskakel by plaaslike beveiligingstrukture en hulle eie paraatheid opskerp deur beskermingsmaatreëls soos die volgende toe te pas:
* rig goeie omheinings om wonings op;
* bring veiligheidshekke en diefwering aan;
* installeer ʼn funksionerende alarmstelsel;
* hou die deure gesluit;
* moenie in die nag uitgaan om ondersoek in te stel sonder die ondersteuning van ʼn buurman nie;
* handhaaf goeie werksverhoudinge met werkers en sien om na hulle veiligheid;
* wees op die uitkyk vir verdagte persone en gebeure in die omgewing; en
* pas doeltreffende plaastoegangprotokol toe.

“Geen beskermingsmaatreël is ʼn waarborg dat ʼn plaasaanval nie sal plaasvind nie, maar dit kan ʼn aanval vertraag en bemoeilik en inwoners die geleentheid gee om alarm te maak,” het Möller bygevoeg. “Benewens die opskerping van eie paraatheid, noodsaak huidige omstandighede die doeltreffende inwerkingstelling van die Landelike Beveiligingstrategie asook Reservistestelsel op plaaslike vlak.”

Hy sê goeie kommunikasie tussen die boerderygemeenskap en plaaslike polisie kan ʼn rol speel om pro-aktiewe inligting te versprei en misdaad te help voorkom. “Daarom is dit belangrik dat reaksiebeplanning saam met die plaaslike polisie gedoen word, sodat slagoffers weet wat hulle te doen staan, totdat die polisie opdaag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

humor ·

Daar moet seker darem nou n slag begin word. Ja daar is begin met gemeenskapveiligheidsdienste in sekere dele maar dit is in die grootste deel van die land n trae proses. Na al die maatreels genoem hierbo le hefaan nog voor. Samewerking aksies moet geslyp word. Individuele optrede wat van plaas tot plaas verskil moet ingeoefen word. en veral wedersydse vertroue tussen verskillende instansies moet geskep word. Maar ons is bly daar word darem al gepraat en ook gedoen.

Johannes Meintjes ·

Dit bly betreurenswaardig dat SA se regeringstrukture in so mate gefaal het dat landsburgers ‘n hele aantal aspekte self moet probeer hanteer en handhaaf. Omvattende, strategiese en taktiese herbeplanning vir effektiewe burgerlike beskerming in SA, – in stede en plattelandse gebiede, – is dringend nodig. Daar word nie genoeg ernstige beplanning hieraan gewy nie, – en nog minder word voorstelle algemeen ernstig bejeen of toegepas.

Gerhard Bezuidenhout ·

Indien die Kommandostelsel teruggebring word gaan dit ontsettend help. Thabo Mbeki het toegesien dat die Kommandostelsel ontbind word en daarom is daar baie bloed aan sy hande weens al die plaasaanvalle.

H.Rust ·

Voordat enigiemand opdaag is dit te laat.(Skiet die boer)Sêdie politici…..Sê ons nou:Ons aanvaar dit,met (skiet terug my roer want ons MOET nog boer om andere te voer. Ons bly doer,op ons plek,waar julle ons nie mag betrek,so ek weet,dis net ek alleen wat maar op my roer moet steun,ANDERS, maak hul taktiek my statistiek,dis die politiek.

Mike de Beer ·

Solank as wat ” Kill the Boer ….” gesing word deur politici – insluitende Zuma, en probeer voordoen dit is ‘n onskuldige liedjie, sal die wat na hom luister presies dit doen. Dit is eweneens baie moeilik om goedsmoeds die welwillendheid van die polisie te vertrou as hulle opperbevelvoerder Marikana laat gebeur het en haar opperbevelvoerder – die landspresident die voorsanger is van “Kill the Boer …”. My apologie aan die manne en vroue in blou wat hulle werk so goed as moontlik doen – dankie dat julle nog getrou is aan julle eed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.