Landerye versuip ná Oranjerivier oorstroom

(Foto: Verskaf)

Talle boere tussen Kakamas en Keimoes in die Noord-Kaap kou klippe nadat ʼn oorstroming van die Oranjerivier die meeste van hul laagliggende landerye onder water gedompel het.

Water lê al vir langer as ʼn week in landerye, boorde en wingerde en ʼn reuse-oesverlies dreig indien die watervlakke nie vinnig daal nie. Boere in die omgewing is boonop ook van mening dat die jongste stortvloed vermy kon word.

Wilco Fourie, voorsitter van die Oranjerivier-landbou-unie, sê daar was sowat twee weke vantevore swaar reën in die gebied. Nadat die boonste opvangsgebiede van die Oranjerivier en die Vaaldam oorvol geraak het, het die rivier in vloed gegaan en by landerye tussen Kakamas en Keimoes ingestoot.

“Die hoogste vloei was net meer as 4 000 kubieke meter per sekonde en is regdeur die landerye,” sê hy.

ʼn Week later het twee vloedwalle boonop gebreek nadat die watervlak te hoog geraak het. Dié massas water is ook by landerye in.

Dit is die derde keer in die afgelope twee jaar wat boere in dié gebied deur stortvloede geteister word. Voorheen was dit hoogs ongewoon vir die rivierwater om by landerye in te stoot en was daar laas in 2011 so ʼn geval gewees.

Fourie het nog nie ʼn amptelike opname oor die omvang van die waterskade gedoen nie, maar sê hy bespreek dit met verskeie boere wat meen die skade strek oor honderde hektare heen.

“Diegene wat met mielies en katoen boer se lande sal moontlik heeltemal tot niet gaan. Hulle sal nie kan oes nie,” sê hy.

“Daar is ook wingerde en pekanneutboorde wat onder water lê, wat moontlik ʼn negatiewe uitwerking op die oes kan hê. Dit sal egter nie tot ʼn algehele oesverlies lei nie.”

(Foto: Verskaf)

Hennie de Wet, ʼn wynboer in die gebied, het aan Maroela Media gesê hy en baie van sy bure het skade opgedoen. ʼn Aantal boere wat op die eilande tussen Kakamas en Keimoes boer, het boonop steeds nie toegang tot van hul landerye nie weens verspoelde paaie.

“Die situasie lyk beroerd. Die water hou aan deursyfer en die lande bly nat. Dit dreig om die gewasse te versuip. Van die boere se druiwe is al groen, maar dit hang in die water. Ons het nou al gesien as die stokke so lank in die water staan, dan vrek dit summier.”

Volgens De Wet het die watervlak in sy landerye, wat by gevalle etlike meters diep is, gisteraand stadig maar seker begin sak. Met ʼn vorige vloed in Januarie vanjaar was sowat vier hektaar van De Wet se landerye vir vier maande onder water.

“Ons hou moed dat die water binne die volgende week of wat heeltemal sal sak.”

Fourie is ook hoopvol dat die skade aan die meeste boere se gewasse nie permanent is nie.

Die Oranjerivier-landbou-unie is deurlopend in samesprekings met plaaslike regeringsowerhede om die trefslag van die swaar reën en daaropvolgende waterstortings te bestuur en verminder.

Talle boere in die omgewing is egter steeds ongelukkig oor die wyse waarop watervlakke bestuur word en meen die huidige skade kon verhoed word as sodanige bestuur reg toegepas is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.