Landswye betoging teen brandstofpryse afgestel

‘n Skermskoot uit die regstreekse video van Visvin Reddy.

Die landswye betogings teen die hoë brandstofpryse wat vir vandag beplan was, is op die laaste nipper afgestel.

People Against Petrol and Paraffin Price Increases (PAPPPI), ʼn organisasie wat op die been gebring is om verhogings in brandstofpryse teen te staan, het vroeër vandeesweek beplan om vandag reg oor die land betogingsaksies te hou om die regering te dwing om oor dié kwessie in te gryp.

Visvin Reddy, die nasionale sameroeper van PAPPPI, het egter Donderdagmiddag in ʼn regstreekse video op sosiale media gesê dat die organisasie se planne op ys geplaas word aangesien pres. Cyril Ramaphosa se kantoor intussen op die organisasie se versoek om ʼn dringende vergadering gereageer het.

“Ons hoofdoelwit is om brandstofpryse af te bring. Aangesien die brandstofpryse deur die regering gereguleer word, lê die oplossing vir die brandstofkrisis by die regering. Ek is bly om aan te kondig dat pres. Cyril Ramaphosa se kantoor ingestem het om met ons te vergader. Die vergadering sal vanmiddag [Donderdagmiddag] in Johannesburg gehou word,” het Reddy gesê.

“Ons komitee is van mening dat ons in slegte trou sal optree as ons sal voortgaan met ons protesaksie [Vrydag] aangesien ons nou met die presidensie gaan vergader. Ons het voorheen dit duidelik gemaak dat protesaksie as die finale uitweg gesien word en as verantwoordelike leiers sal ons elke moontlike beskikbare opsie oorweeg om ʼn oplossing te kry vir die hoë en buitensporige brandstofpryse wat ons in die land moet betaal.”

Reddy het gesê daar is geen sin daarin om ʼn protesaksie te hou net ter wille van protes nie, aangesien dit potensieel die ekonomie kan skade doen. “As PAPPPI wil ons hierdie veldtog op verantwoordelik wyse lei en ons wil nie hê enige van ons ondersteuners moet benadeel word op enige manier nie. Gee ons ʼn kans om voort te gaan met ons onderhandelinge.”

PAPPPI het vroeër vandeesweek in ʼn brief aan Ramaphosa geëis dat alle toekomstige brandstofverhogings onmiddellik gestaak word, dat ʼn presidensiële taakspan aangestel word om ʼn nuwe brandstofstrategie te bepaal en dat ʼn kommissie van ondersoek aangestel word om die onwettige verkoop van die land se brandstofreserwes te ondersoek.

Volgens Reddy glo die organisasie brandstofpryse kan met tot R8 per liter verminder word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Diefie ·

Baie dankie PAPPPI dat julle opgestaan het om teen die hoë brandstof prys te betoog. Kan julle nie ook ‘n plan maak met die hoë krag en water tariewe nie? En die belaglike hoë voedselprys. Ek sal beslis wil aansluit by julle,

Yankee ·

Regtig. As daar betoog, toi-toi in die Land, afskuwelik!! (As dit jou nie raak nie) As iets JOU sak wel raak, stuur jy soengroete vir n vale, sonder om saam te te toi-toi.

ntombe ·

die kragprys kan hulle afbring na 80c kw of jy tien kw koop in Nyanga en of jy 10 000 kw koop in clifton. krag ken nie kleur nie. water ook nie. die ding is net, mense in die “boere” dorpe betaal vir krag water en dienste soveel meer as mense in die townships. hoekom? daardie lig brand net so helder in die dorp as township en die water maak net so nat. dieselfde diens word word albei kante gelewer hoekom moet die “boere” dorp meer vir dieselfdse goed betaal? dit is luukses. so almal kan dieselfd prys betaal.

Foxi ·

Ja ja asseblief…….die krag haal die krag uit ons gewone man in die straat uit!!! Jy kan ook nêrens gaan ry nie, nie eens n kein karretjie is die moeite werd om brandstof te bespaar nie. Waar gaan alles heen?

jankoos ·

Die regerende party neem ongelukkig net kennis as n gebou of voertuie afgebrand word

PP ·

CR hulle wil nou eers gesels, want hulle sien die mense gaan in opstand kom, net so vannig die buurlande wat Petrol van RSA koop vra dan +- R5.00 tot R7.00 minder/liter as in die RSA self. Sien ek en jy betaal vir hulle brandstof nie hy self nie, so hy weet nie om hulle aangaan nie, CR kry vir jou.

Se maar net ·

En Botswana betaal R8.00 per liter vir brandstof wat ek by n familielid gehoor het…hoekom moet RSA dan ten duurste betaal en swaar gebuk gaan met kos pryse wat dan ook styg elke keer as petrol styg.

dinkweer ·

Dis nogal nie waar nie. Hul petrol prys is so om en by die 11 rand ‘n liter……

Lee ·

Die President wil hulle net stilmaak. Hy doen nog minder as Zuma. Dit sal nooit gebeur nie want dan kan die ANC se Ministers nie meer so lekker spend nie.

Theresa ·

Indien jul slaag om die brandstofprys met R8 per liter te daal – is jul die eerste groepering wat betoog teen iets wat ‘n pluimpie verdien. Laat ons gerus weet wat die uiteinde van die gesprek Donderdagmiddag was. Sal seker uitgestel word of dit was ‘n vergadering met baie woorde en geen uitkoms.

Soos verwag ·

Whaaaaaaaaa iemand is seker omgekoop, en nou is dit skielik af .. en WEEREENS gaan die verbruiker afchop want die groot moeilikheidmakers is weer ‘n toelaag belowe .. of sommer verniet petrol op ONS ONKOSTE!

ntombe ·

ek het ook gedink, iemand het n toegif ontvang daarom dat die betoging op die lange baan geskuif is. Botswana en Namibia koop brandstof uit SA aan en hulle gebruikers betaal aansienlik minder per liter as ons. Swaziland. dieselfde met krag. buurland koop krag aan uit SA en verkoop vir minder as wat ons betaal. hoekom word ons op elke vlak gerook?

Hendrik ·

Dit is tyd dat S.A in elektriese voertuie investeer. Eskom het 10 Gigawatt oorskot en daar is genoeg krag om ‘n nuwe industrie en werkskepping te vestig. Dit moet net nie ge-BEEEE word nie. BEE is nie ‘n besigheidskonsep net ‘n skep beleid van die regering.

Koos ·

Sou die regering net hulle sosiale toelaes aan jong ma’s met kinders afskaf, sou hulle die volgende wen-wen voordele bekom:
1. Meer geld in hulle sak om dadelik die petrolprys mee redelik te verlaag, wat sal lei
2. tot laer kospryse en ook ander pryse tot almal se voordeel;
3. laer bevolkingsgroei syfers mettertyd wat weer op sy beurt
4. baie mider druk op infrastruktuur behoeftes sal plaas en sodoende ook
5. meer fondse beskibaar stel vir die breër algemene ekonomiese ontwikkeling van ons land wat ALMAL tot voor deel sal strek.

Kom nou Cyril, dink ‘n slag buite die kassie en nie net oor die massa potensiële toekomstige stemme wat julle probeer skep nie!!!

Nettie ·

@Koos, moet nou nie laf wees nie!!!!

Hoekom moet die regering nou die “grants” vir 14-, 15- en 16-jarige ma’s gaan staan en wegvat …. waarvan moet daai kinders se kinders se kinders dan leef? ‘n Mens loop staan en krap nie aan jou toekomstige stemmers se inkomste waarop hulle 100% geregtig is nie …. Die arme meisies het al kláár nie geld vir sanitêre ware nie, as jy hulle ‘grants’ nog wegvat, het hulle nóg minder …..

Wth ·

In die ou bedienning is olie gekoop wanneer dit goedkoop was en geberg in tye wanneer die olie duur was het ons dan die opgebergte olie gebruik as buffer, hoekom doen hierdie slim mense wat dink hulle weet v alles beter nie ook dieselfde nie. Dit sal ander issues ook oplos soos onwettige mynbou want jy stoor dit in ou myne

Goeder trou ·

Dit is nie goeder trou dat CR lank stilbly en dan skielik voor die optog instem om te vergader om vals hoop te gee nie.

Chris Ws ·

Ou Cyril het hulle met ‘n heerlike duur ete bederf en niks het daarvan gekom nie.Anders sou dit reeds in die nuus gewes het.

Jakalas ·

Ongelukkig is hoë brandstrof pryse ‘n sintoom van ‘n swak ekinomie. So lank as wat ons ekinomie verswak, sal dit nie verbeter nie en net versleg.

lee ·

Wat dan van die DA se versoek/uitnodiging om eerskomende Dinsdag by die Uniegeboue bymekaar te kom (optog ?) Direkte epos van DA ontvang !

Wonder ·

Ek kan nie glo dat die kommentare hier almal so negatief is nie. Ten minste is daar ‘n vergadering belê en ons kan maar net bespiegel oor die uitkoms. Daar is ook natuurlik baie spekulasies oor die petrolprys in ons Buurlande (kwansuis goedkoper?). Dis baie gevaarlik om te kommentaar sonder konkrete feite. Is die glas half vol of half leeg? Dis vir elkeen om self daaroor te besluit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.