Landswye betogingsdag teen brandstofpryse beplan

Argieffoto

ʼn Organisasie wat op die been gebring is om verhogings in brandstofpryse teen te staan, het ʼn lys van eise aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur.

People Against Petrol and Paraffin Price Increases (PAPPPI) het die staatshoof versoek om met hulle te vergader voor ʼn massa-protesaksie wat vir Vrydag beplan word.

Verbruikers gaan tans gebuk onder ʼn verhoging in BTW en skerp verhoging in brandstofpryse met die rimpeleffek wat in byna elke sektor gevoel kan word. Motoriste moet op die oomblik R15,43 per liter vir petrol aan die kus opdok en meer as R16 per liter in die binneland.

Nóg ʼn brandstofprysverhoging lê in Augustus voor.

Sedert Januarie vanjaar het petrol in die binneland met ongeveer R1,60 per liter gestyg, diesel kos R1,73 meer en die prys van paraffien is met R1,12 in die binneland op.

Visvin Reddy, die nasionale sameroeper van PAPPPI, het Dinsdag gesê die organisasie het Maandag die brief aan Ramaphosa gestuur en die president se kantoor het bevestig die brief is ontvang.

“Die jongste besluit om brandstofpryse nog verder te verhoog is onsensitief en blind vir die feit dat 55% van Suid-Afrikaners onder Stats SA se armoedelyn leef. Ongeveer 14 miljoen mense leef in volslae armoede,” het Reddy in die brief geskryf.

“Die departement van energie het op 6 Julie die volgende brandstofprysverhoging aangekondig en blameer dié verhoging op die prys van ru-olie en die rand-dollar-wisselkoers. Hoekom betaal ons dan nie minder vir Sasol-brandstof wat nie van dié faktore afhang nie?”

Motoriste betaal meer as 38% in brandstofbelasting en -heffings, waarvan “ʼn groot persentasie” na die Padongelukkefonds (POF) gaan, het Reddy gesê. Maar die POF se eie finansiële state dui aan dat die fonds in die rooi is, het hy gesê.

Hy het ook daarop gewys dat die prys van brandstof in buurlande soos Namibië en Swaziland laer is as wat dit in Suid-Afrika kos, hoewel Suid-Afrika brandstof aan daardie lande verskaf.

PAPPPI eis dat alle toekomstige brandstofverhogings onmiddellik gestaak word, dat ʼn presidensiële taakspan aangestel word om ʼn nuwe brandstofstrategie te bepaal en dat ʼn kommissie van ondersoek aangestel word om die onwettige verkoop van die land se brandstofreserwes te ondersoek.

Volgens Reddy glo die organisasie brandstofpryse kan tot R8 per liter verminder word.

“As deel van ons voortgesette aksieplan het ons ʼn dag van nasionale betogings beplan wat op Vrydag 27 Julie sal plaasvind. Ons provinsiale en streekstrukture is gereed en die boodskap is reeds op verskeie mediaplatforms gekommunikeer,” het Reddy in sy brief gesê.

“Protesaksie word gesien as die finale uitweg, aangesien dit die ekonomie potensieel kan skaad en skade teenoor individue en eiendom kan veroorsaak.”

Hy het ʼn dringende vergadering met Ramaphosa versoek vóór die betogingdag om te probeer om ʼn vriendskaplike oplossing te vind.

ʼn Spesialispaneel wat deur die Nasionale Tesourie op die been gebring is om die moontlikheid te ondersoek om die hoeveelheid items waarop geen BTW gehef word nie te vermeerder is onlangs opdrag gegee om ook te ondersoek hoe die impak van die brandstofprysverhogings versag kan word.

Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, kon nie onmiddellik Dinsdag bevestig dat die president PAPPPI se brief ontvang het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Pieter ·

In ons kusdorpie in die Oos-Kaap betaal ons 15,59p/l vir petrol.

Casper Labuschagne ·

As jy betoog teen die petrolprys, dan betoog jy teen Jan Taks en niemand anders nie. En niemand, maar niemand, wen ooit teen Jan Taks nie.

Han ·

Paragraaf 6 van hierdie berig dat die president se kantoor die skrywe van PAPPPI ontvang het en in die laaste paragraaf word gemeld dat die president dit nog nie ontvang het nie! Hoe nou?

Daar sal dringend aandag aan die petrolprys gedoen moet word! Iets drasties is verkeerd en ek vermoed grootskaalse korrupsie. Die land word ten gronde gerig teen ‘n verbysterende pas!

Hulle se ·

Die eerste paragraaf wat praat van die brief se die PAPPPI sê dat die brief ontvang is, die volgende paragraaf wat dit noem sê dat die woordvoerder van die president dit nie bevestig het nie.

Kerneels ·

Ek sien dit weer dat die brief deur die president se kantoor ontvang is. Die laaste paragraaf kan nie bevestig of die president self die brief ontvang het nie.

bgj van der westhuizen ·

haal die pad ongelik vons uit die prys en laat ons weer soos jare trug elke voertuig betaal volgens die hoeveel hied mense dit vervoer

Arno ·

Voor ons o s oe uitvee kos petrol R20 n liter ons moet nou staak en sulke dinge stopsit R100 vyf liter petrol die petrolprys moet nou al afgebring word voor dit die hoogtes inskiet

IK ·

Moenie Botswana vergeet vir goedkoper pryse.
Gaan bestuur egter op die R59 tussen Vereniging en Alberton en vind uit dat teen 125km/h in die regterbaan terwyl jyself by stadiger voertuie verbygaan daar aan jou linkerkant verbygesteek word. So daar is diegene wat die geld (en geen verstand) het.

Johan ·

Hulle wil n kommunistiese land hê, maar hulle wil nie die gevolge dra nie. Dit gaan nog baie erger raak. Dis net die begin!

Yolande ·

Die petrol prys raak ongelukkig ook kospryse…so die impak van verhoogte petrol strek verder…

Bakgat ·

Hier is ‘n roering in die land aan die gang oor die brandstofprys. So dankbaar daaroor. Ek hoop daar is reaksie van die owerhede op die weerstand wat aan die opbou is.

Stella ·

Die staat maak ‘n huidiglik ‘n geprojekteerde R118,7 biljoen per jaar uit brandstof-heffings uit waarvan slegs R41,2 biljoen na die RAF toe gaan. Wie van julle het al SASOL se hoofkantoor in Sandton gesien? Die Fat Cats van ons Regering en ons Lokale Brandstofvervaardiger lag duidelik al die pad bank toe ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.