Landwye afsondering ‘regte ding om te doen’

Pres. Cyril Ramaphosa spreek Maandagaand die nasie toe. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Kenners meen hoewel ʼn algehele landwye afsondering (lockdown) ʼn drastiese stap is, is dit tog uiters nodig om die verspreiding van die nuwe koronavirus oftewel Covid-19 in Suid-Afrika hok te slaan.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand afgekondig dat ʼn algehele landwye afsondering vir 21 dae ingestel sal word. Dit tree Donderdag 26 Maart om 00:00 in werking. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is ook reeds op ʼn gereedheidsgrondslag geplaas om die polisie en ander staatsdepartemente by te staan te midde van die nuwe maatreëls.

John Steenhuisen, DA-leier, sê die DA verwelkom dié besluit. “Om ons land te sluit en die SANW te ontplooi is iets wat geen Suid-Afrikaner ooit in vredestyd sou wou sien nie, maar gegewe die erns van die saak is dit absoluut die regte ding om te doen,” meen hy.

John Steenhuisen. (Foto: David Ritchie/ANA)

Steenhuisen sê die bedreiging wat Covid-19 vir Suid-Afrika inhou, is soortgelyk aan ʼn oorlogsituasie. “Drie weke lange drastiese maatreëls kan nou baie lewens red en kritieke tyd vir ons gesondheidsorgpersoneel koop om die krisis te hanteer soos dit ontvou. As ons nie nóú hierdie opoffering maak nie, sal ons op die lange duur ʼn baie groter prys betaal.”

Die landbouorganisasie TLU SA het ook sy gewig agter die president se besluit gegooi. “Dit is in belang van Suid-Afrika,” sê Louis Meintjes, president van TLU SA, op sy beurt.

“Ons is verheug dat die president veral in hierdie tyd die belangrike rol van die kommersiële boer om voedselsekerheid en -lewering te verseker, erken. Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat die algehele landbou-waardeketting hierby ingesluit moet word. Die boer kan nie sy produkte by afsetpunte kry indien onderdele en brandstof nie ook beskikbaar is nie.”

Dr. Pieter Groenewald. (Foto: VF Plus)

Volgens dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, blyk ʼn algehele landwye afsondering die beste praktyk te wees in ander lande om lewensverlies te voorkom. Lande wat reeds ʼn algehele landwye afsondering afgekondig het te midde van die Covid-19-pandemie sluit onder meer in: Italië, België, Frankryk, Spanje, Duitsland, die Tjeggiese Republiek, Portugal en Nieu-Seeland.

Groenewald sê die VF Plus is egter bekommerd aangesien Ramaphosa self erken het dat die land se gesondheidsdienste nie in staat sal wees om ʼn groot uitbreking van die virus te hanteer nie. Die party is ook bekommerd oor die ekonomie.

“Die inperking van drie weke hou ernstige gevolge in vir die ekonomie en sal werkverliese tot gevolg hê, maar dit kan veel erger wees en selfs tot drie maande duur indien dit nie nougeset deur almal nagekom word nie,” sê Groenewald.

Die Stad Kaapstad het op sy beurt ook ʼn algehele landwye afsondering verwelkom. Die Stad doen ʼn beroep op sy inwoners om kalm te bly aangesien kruidenierswinkels en apteke steeds oor die volgende drie weke oop sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

A.S ·

Almal verwelkom die President te besluit vir die veiligheid van almal in SA. Wat my baie bekommer is die feit dat werknemers wat by die hawens werk nogsteeds ‘n risiko inhou vir hulle families by die huis onder lockdown. So eintlik is al daai families nie veilig nie..

Reinhardt ·

As hulle nie werk nie kry ons nie die noodsaaklike goedere om aan die lewe te bly nie…

SomeOne ·

ek hoop net dat ons veiliger sal kan slaap, nogsteeds paraat, want nag werkers sal dalk hul moses teekom, indien die weermag hul werk reg doen
dit gee ook ons gemeenskaps polisieforum lede kans om so ‘n ietwat van ruskans te kry – nagwerkers behoort mos minder te wees

Niklaas ·

Goeie besluit, daar is nie alternatief nie. Solank almal nou net probeer om die instruksies na te kom , dan word die virus hopelik beheer . Daar is steeds dapperes (of dommes) wat argeloos optree t.o.v. moontlike besmetting .

Phoenix ·

Weet enige iemand dalk of die Howe ook gesluit sal wees tydens die afsonderings tydperk? As ‘n siviele saak op die Hof Rol geplaas was vir ‘n datum voor 16 April, sal die saak steeds voortgaan? Of word alle sake nou uitgestel tot na die afsondering?

Phoenix ·

Ek neem aan dat kinders van geskeide ouers, wat elke 2de naweek by die ander ouer gaan kuier, tydens die tydperk van afsondering ook dan nie sal kan gaan nie?

DieKriek ·

Sou dit nou nie ironies wees as meer mense die virus kry omdat almal soos miere in die winkels saamdrom om voorrade te koop nie? En hygend hert, die meeste mense kry eers einde van die maand geld, so hoe moet hulle genoeg koop? Dis die regte ding maar dis nogal deurmekaar.

Maritha ·

Dis alles goed en wel, maar gee almal gelyke hulp. Ek werk slegs vir komissie, maar omdat ons nie BEE is nie gaan ons nie gehelp word nie.

Jan ·

Sovee ek weet is dit slegs die media wat vir onss voorse wat ons moet glo vd sg virus.het enigiemand daar buite al iemand teegekom met die beweerde virus of moer onss die koerante al die pad glo…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.