Landwye inspeksie oor minimum loon binnekort gehou

Aggy Moiloa, adjunk-direkteur-generaal van die departement van arbeid. Foto: ANA

Die departement van arbeid beplan ʼn landwye blitsveldtog vir Februarie om seker te maak werkgewers gee gehoor aan die nuwe nasionale minimum loon.

Aggy Moiloa, die departement se adjunk-direkteur-generaal vir inspeksie en wetstoepassing, sê die departement het 1 392 inspekteurs wat gereed staan om toe te sien dat aan die bepalings van die wetgewing oor die minimum loon voldoen word, berig African News Agency.

Pres. Cyril Ramaphosa het die Wet op die Minimum Loon in November verlede jaar onderteken, waarna die R20 minimum loon per uur op 1 Januarie in werking getree het.

Moiloa sê haar departement het reeds die inspekteurs opgelei om seker te maak werkgewers betaal wel dié minimum vergoeding en om gevalle waar dit nie die geval is nie na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) te verwys.

Die inspekteurs sal hulle veral toespits op die groot- en kleinhandelsektor aangesien hulle geïdentifiseer is as “probleemsektore”.

Maroela Media het vroeër berig die nuwe minimum loon is R20 per uur of R3 500 per maand vir iemand wat vyf dae per week agt uur per dag werk. Uitsonderings is gemaak vir huiswerkers, plaaswerkers, mense wat deel van die regering se uitgebreide openbarewerkeprogram uitmaak en interns.

Werkgewers van plaaswerkers en huishulpe word twee jaar gegun om die werkers se vergoeding in ooreenstemming met die styging tot R20 per uur te bring.

Volgens die nuwe minimum loon moet plaaswerkers minstens R18 per uur (90% van die minimum loon) kry, terwyl huiswerkers R15 per uur (75% van die minimum loon) moet kry.

Werknemers wat deel van die uitgebreide openbarewerkeprogram uitmaak, moet minstens R11 per uur kry, terwyl die minimum loon vir vakleerlinge en interns nog nie bekend is nie aangesien dit afsonderlik gereguleer gaan word.

Die regering het gesê die doel van die nuwe wet is om ʼn nasionale minimum loon daar te stel ten einde ekonomiese ontwikkeling en maatskaplike geregtigheid te bevorder deur die lone van die laags betaalde werkers te verhoog en werkers te beskerm teen onredelike lae lone.

Ondernemings sal aansoek om vrystelling van die minimum loon kan doen indien hulle dit nie kan bekostig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Ilze Mostert ·

So ek hoef eintlik my huiswerker wat 1 dag per werk by my werk vit 7 ure- net R140 per dag te betaal?
En ek betaal haar wel R280 per dag.

bgj van der westhuizen ·

wel ek hoop dit sluit almal in veral die china besighied

TLC ·

Trek nou maar jou handskoene aan en skrop jou huis self
Wel ek is seker anc gaan vir die werkloose sorg

Magda ·

Raak ontslae van huis en tuinwerkers. Hou op lui en gemaklik wees en doen julle werk self. Maar nee, ons het te gemaklik geraak en Sal altyd n manier kry om dit te regverdig. Hoekom is ons ( wat uitgekryt word as diewe, moordenaars, koloniseerders en dies meer) geld goed genoeg as ons so SLEG is? Nee mense selfbeskikking is al wat ons kan red. Maar solank mense huishulpe en tuiniers wil instop weet Ek Nie!

bee ·

Hulle moet sommer ondersoek instel by verskeie privaatsektors wat hulle mense na jare diens geen verhogings gee en n belaglike salaris betaal!! Tyd dat iets gedoen word omtrent die uitbuiting van werkers. Solank hulle dik in geld sit en dit instroom is dit mos maklik om te sê jy kan loop as jy ontevrede is…wees mos dankbaar jyt nog werk!!

christa ·

goed so. Daar sal wel werkgewers wees wat sirkels om die nuwe loon stelse loop. Hulle gaan seker dit Feb in werking stel en geen agterstallige gelde uitbetaal vanaf 1 Januarie nie. Mense verwag die beste van hul werkers maar wil die minste van die minste betaal. Die mense moet ook eet en aantrek en vervoer bekostig van punt A na punt B. Werkgewers wil in die beste huise bly en elke aand gaan uiteet en koningklik lewe ly en gun dit nie vir hul werkers nie. Ek praat van ondervinding

Reinhardt ·

‘n Minimum loon het nog nooit die ekonomie bevorder nie, dit is basiese ekonomiese begrippe. Wie is die regering om vir jou as individu te besluit wat jy mag verdien?

Dit is heel eenvoudig: Werkgewer A het R20k om iets te vervaardig, maar hy benodig 10 werkers om dit effektief en optimaal te doen, met ander woorde R2000pp. Dit is nou onwettig. Hy moet minder mense in werking neem teen n hoër tarrief, dus is die produktiwiteit laer en die besigheid is nie winsgewend nie. So eenvoudig soos dit.

Hannetjie ·

Alles verkiesingsfoefies.ANC in die moeilikheid en wil nou stemme trek.Plaas die regering vir hul mense sanitasie…krag en ander aller noodsaaklike dienste in plek kry Hulle al hoe lankal aant regeer…en die massa steeds aant sukkel vir hul basiese regte nl. skoon water en sanitasie..en elektrisireit

MCS ·

Nou gaan ek my mense se loon afbring, hul kry hopeloos teveel betaling. Om nie eers te praat van die lekker kos wat hul daagliks kry nie. Hulle is oorbetaal en ooreet.

hendrik ·

Die ANC moet sommer n inspeksie landwyd doen om onwettige wapens te konfiskeer.

Hanna Hoekom ·

Asof daar nou nie honderde ander, baie meer belangrike uitdagings in ons land bestaan nie… Maar nee, stemtyd is om die draai!

jaco ·

as die minimum loon in die ou SA deur wit amptenare en politici uitgewerk is en meestal op swart werkers van toepassing was, kon ek dit verstaan: dis dan maar net nog n aspek van die onderdrukking deur apartheid
as die minimum loon in die huidige SA deur swart amptenare en politici uitgewerk is met die wete dat die meeste laagbesoldigdes wit is, kan ek dit ook verstaan. dan is dit n manier om wit mense vir apartheid te straf.
MAAR wat ek nie verstaan nie, is dat swart amptenare en swart politici hierdie patetiese lae minimum loon uitwerk EN goedkeur, welwetend dat die meeste ontvangers daarvan hulle mede swart rasgenote is. iets maak regtig nie sin nie.

Adam ·

Ek sal verheug wees indien daar in die genoemde sektore ‘n ondersoek na produktiwiteit gedoen word. Dit is ook ‘n probleem-area.

Gertryda ·

Kom maar gerus. Ons betaal baie meer as minimum loon. Nou hoef ons seker nie meer met Unies te onderhandel oor salaris verhogings nie
Wat is unie se eintlike doel nou??

Thea ·

Waar is my vorige kommentaar?
Ek wil weet moet ek UIF betaal vir my huishulp wat R150 per dag verdien het in Randfontein? Sy het self bedank en nou wil sy UIF eis.
Moet elkeen vir wie sy werk dit dan betaal??

Griet ·

@Thea, sover ek onthou, moet jy UIF betaal vir ‘n werknemer wat meer as 24 uur per maand in jou diens is. Sy/hy betaal 1% van hulle salaris en jy betaal 1% van hulle salaris. Jy is verantwoordelik vir die inbetaling van beide jou bydrae sowel as hulle bydrae.

A Mac ·

Geen probleem, laat hulle inspeksies doen. Hoop net ALLE besighede word geteiken en nie net sekere dele van die sake sektor se besighede nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.