Lang herstelpad lê voor vir Piet Botha ná val

Piet Botha (Die foto is gepubliseer met vergunning van die fotograaf, Colin Windell)

Die operasie wat Piet Botha, gewilde blues-en-rockmusikant, die afgelope week moes ondergaan nadat hy twee rugwerwels tydens ʼn konsert gebreek het, was suksesvol.

Maroela Media het vroeër berig die sanger het twee rugwerwels gebreek toe hy van die verhoog afgeval het tydens sy blues-en-rockgroep Jack Hammer se vertoning op die Suidkus-motorfietsfees.

Die sanger het Woensdag gesê hoewel hy pyn het, is hy dankbaar dié vier uur lange operasie het volgens beplanning verloop. “Die dokters is baie gelukkig met die uitslae. Ek weet nie wat hulle alles gedoen het nie, maar ek is nou vol skroewe en penne en dies meer.”

Botha sal na verwagting Donderdag met rehabilitasie begin, en ʼn lang herstelpad lê voor.

“Die dokters kyk na ʼn geraamde tyd van twee tot drie maande voor ek weer heeltemal oukei gaan wees. Dis maar ʼn gevaarlike storie wanneer jy jou rug seermaak. Ek begin egter Donderdag met rehabilitasie sodat ek kan loop en regop staan, maar ek mag glad nie sit nie – net lê.”

Die sanger is vol lof vir die hospitaal in Margate in KwaZulu-Natal waar hy behandel word, en sê hy gaan dié hersteltyd gebruik om aan splinternuwe musiek te werk.

“Dit gaan moeilik wees om vir só lang tydperk nie op die verhoog te wees nie, maar ek het groot planne. Ek is besig met nuwe Afrikaanse musiek wat ek later die jaar wil uitreik, en dié is nou die perfekte geleentheid om daaraan te werk.”

Botha is die seun van oudmin. Pik Botha (85).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

jj ·

maar ek is nou voel skroewe – moet dit nie vol skroewe wees nie

Janie Monsieur ·

Dagsê jj,
Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die oorsig en dankie dat jy ons daarop gewys het. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

apie ·

Ons het al heelparty van Piet se vertonings bygewoon en hoop hy is gou beter sodat ons dit weer kan geniet. Hy is ‘n wonderlike musikant en volksbesit. Baie sterkte aan hom en volledige herstel toegewens

Marianne ·

Ons bid op ‘n spoedige herstel en geen nagevolge nie. Strekte neef, ons love jou.

Scalla ·

Vars lug eis so nou en dan sy tol Pieta, sterkte, hoop jy hestel vinnig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.