Lang herstelpad ná bakterie vrou se gesig skend

WAARSKUWING: Foto’s in dié berig kan sommige lesers ontstel.

Madelein Carelse. (Foto: verskaf)

ʼn Lang herstelpad – fisies en emosioneel – lê vir Madelein Carelse (42) voor, nadat ʼn bakterie haar gesig ernstig geskend het.

Carelse, van Vanderbijlpark, het verlede maand aanvanklik mediese hulp gaan soek vir ʼn abses aan haar tand, nadat erge pyn en ongemak die linkerkant van haar gesig laat swel het. ’n Dokter het antibiotika en pynpille voorgeskryf, maar haar gesig het bly swel. Kort daarna het drie klein, swart kolletjies aan die linkerkant van haar nek, onder haar kaak, verskyn en sy is inderhaas terug dokter toe, het Charmaine Britz, ʼn woordvoerder van die familie, gesê.

Die swelsel het rooier geword en later swart verkleur. Carelse het gesukkel om asem te kry, waarna haar man, Jacques, haar inderhaas na ʼn hospitaal geneem het. ʼn Dokter het die erns van haar toestand verduidelik en gesê dat sy so gou moontlik geopereer moet word.

Carelse is in die Sebokeng-hospitaal opgeneem, waar ʼn dokter bevind het dat sy ʼn sogenaamde vleisetende bakterie opgedoen het, het Britz verduidelik. Die beskadigde weefsel is in ʼn operasie weggesny, wat Carelse se gesig, nek en borskas ernstig geskend gelaat het.

Die Sebokeng-hospitaal het Carelse Maandag ontslaan, maar sy is intussen na die Midvaal- privaat hospitaal oorgeplaas, het Britz bygevoeg.

Carelse, ʼn werklose ma van twee seuns van onderskeidelik sewe jaar oud en 19 jaar oud, het nie ʼn mediese fonds nie.

(Foto: verskaf)

“Midvaal-hospitaal het gesê hulle sal haar inneem en help waar hulle kan. Ons moet fondse bymekaar maak om haar daar te hou,” het Britz gesê.

ʼn Span kenners, waaronder ʼn tand- en vel- rekonstruktiewe spesialis, asook ʼn sielkundige, is nou by Carelse se behandeling betrokke.

“Hierdie vrou is deur ongelooflike trauma, maar dit gaan in dié stadium met haar baie goed. Sy reageer goed op behandeling en is in die beste hande.”

Carelse word in isolasie gehou terwyl dokters wag op die uitslae van nuwe bloedtoetse wat gedoen is. Dit word later vandag verwag.

“Madelein se gesin dra haar hierdeur. Sy kla nie, sy is net so dankbaar vir enigiemand wat haar help. Dit is verstommend, sy is baie dapper,” het Britz vervolg.

Britz is die eienaar van die Top Vibe-tydskrif en het deur ʼn vriendin van Carelse van haar situasie te hore gekom. Sy het betrokke geraak om behoorlike mediese sorg vir Carelse te help verseker.

Volgens haar gaan die meeste van Carelse se tande waarskynlik getrek moet word, nadat die abses ook die res van haar tande vergiftig het. Haar kakebeen is tot op die been oop en moet gesond gehou word totdat daar met rekonstruktiewe chirurgie en veloorplantings begin kan word.

(Foto: verskaf)

“Wat dit ook al presies is, is minstens nie besig om verder te versprei nie. Hierdie gaan ʼn lang pad na herstel wees, dit gaan nie oornag gebeur nie.”

ʼn Bladsy met die naam We Care For You Madelein Club is intussen op Facebook begin, waar Carelse se vordering gevolg kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Suzelle ·

Baie sterkte en ek hoop en glo dat jy gou sal aansterk en ten volle genees sal wees.
Ek kan nie eens dink met watter pyn jy sit en hoe erg dit is nie. Mag God jou net beskerm vorentoe met geen bakteriee verder.

Lizelda ·

Ek kan nie begin om te verstaan waardeur jy gaan nie, maar baie baie sterkte. Ons bid volkome herstel vir jou.xxx

Leon Pit ·

Hoe bevoorreg is ons wat n goeie gesondheid geniet. Sterkte met jou behandeling en geniet die goeie ondersteuning van jou familie en vriende.

Jeanne ·

Dit is verskriklik, ek kan my die vrou se leiding, spanning, bekommernis en hartseer nie voorstel nie!

Thinus ·

Dit wil vir my voorkom of Sebokeng Hospitaal ernstig nalatig was en aanspreeklik gehou moet word vir die verdere mediese uitgawes.

Kompensasie wet ·

Nuwe konsepwetgewing wat ingedien is vir promulgasie – dat staatshospitale maks R1m sal betaal vir enige eis, en uitbetalings kan versprei oor ‘n lang tydperk.

cathy ·

Ek is saam jou dankbaar dat die Here jou gespaar het. Ek het self laasjaar so ‘n bakterie in my lies gehad en die dokter het net betyds gesny. Paar ure later het ek dalk my been of lewe verloor se hy. Vandag loop ek en danksy goeie mediese sorg is daar nie te veel skade nie. Ek bid dat mense wat geld het hier kan help. Sterkte Madelein.

John ·

… soos ‘n giftige slangbyt. Hoe kon sy die bakterie opgedoen het?

medies ·

Maroela, ek sou voorstel dat julle ´n aparte kategorie op jul koerant skep waar julle berig oor mense wat fondse nodig het vir mediese hulp. Omtrent elke berig wat julle aanvanklik as ´nuus’ plaas begin met die persoon se toestand, en kort voor lank berig julle dat die persoon se mediese koste nie gedek word nie en dat hulle finansiële hulp benodig. As julle ´n aparte kategorie vir sulke gevalle skep kan mense daarop ingaan om te lees wie hulp benodig, en dan help. Dan berig julle dit nie as ´nuus’ nie, maar amper soos vir ´n gemeenskapsblad. As ek siek in die hospitaal lê, sal ek nie wil hê my toestand moet as ´nuus’ aan die wêreld uitbasuin word, terwyl dit eintlik gaan oor geld wat nodig is om my te versorg nie. Veral as ek soms op my kwesbaarste in die hospitaal lê, en foto’s van my halfgeklee en vol pype (al is dit met vergunning van die familie, maar is dit met vergunning van die pasiënt?) op die voorblaaie geplaas word. Neem die mense se menswaardigheid ook in ag – oorweeg asb. eerder ´n spesiale kategorie vir sulke berigte.

Sune van Heerden ·

Dagsê Medies

Dankie vir jou boodskap.
Ek lê dit graag voor aan die redaksie vir oorweging.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

???? leser ·

ek bid vir jou, man en kinders, glo en vertrou op die Here

Vezmé Boshoff ·

Madelein, ek simpatiseer met jou en bid sewe maal sewentig vir jou herstel. Ek is onlangs deur ñ soortgelyke ervaring, maar nie so ernstig soos jy nie. Jou storie maak my net weer dankbaar en lig my uit die donker hel waardeur ñ mens emosioneel gaan met so iets. Mag jy in die beste hande wees en volkome herstel. Mag jou onbeskryflike pyn verlig word. My hart bloei vir jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.