Lang herstelpad vir boer ná breinoperasies in VSA

Bernie van Jaarsveld in die hospitaal in die VSA. (Foto: Facebook)

ʼn Boer van Lichtenburg in Noordwes wat tien dae gelede twee breinoperasies moes ondergaan nadat ʼn sist agter sy oë gebars het, is uit die hospitaal ontslaan, maar het nog ʼn lang herstelpad voor hom.

Bernie van Jaarsveld (25) het in Junie na die VSA gereis waar hy vir ses maande op ʼn plaas in Noord-Dakota sou werk. Sy vrou, Lomé, en die egpaar se twee kleuterdogtertjies het in Suid-Afrika agtergebly.

Volgens Marilize, Van Jaarsveld se ma, het hy die oggend van 12 Julie wakker geword en kon niks met sy linkeroog sien nie. Hy is na ʼn oogspesialis wat hom onmiddellik na die plaaslike hospitaal in Grand Forks verwys het.

Hier het skanderings getoon dat Van Jaarsveld bloeding op die brein het, asook ʼn massa wat teen sy linkerbreinlob druk. Hy is so vinnig moontlik na die teater gehaas waar daar vasgestel is dat ʼn aragnoïede sist agter sy oog gebars het en bloeding op die brein, asook ʼn bloedklont, veroorsaak het. Die sist is tydens die ure lange operasie verwyder en die bloeding is dreineer.

Sowat 12 uur later is hy egter wéér na die teater gehaas omdat die bloeding op sy brein weer gestop moes word. Ná dae in die waakeenheid en later in ʼn algemene saal, is Van Jaarsveld Vrydag ontslaan.

Volgens Marilize sterk hy nou op sy werkgewer se plaas aan. “Bernie het nog net vier weke vir hierdie man gewerk toe dit gebeur het en nou versorg hulle hom op die plaas. Ek kan nie genoeg dankie sê vir sy werkgewer nie, ek is so dankbaar vir hom,” sê sy.

Sy sê dit is moeilik om presies te sê hoeveel skade Van Jaarsveld ná die voorval oorgehou het omdat sy hom nog nie self kon sien nie. “As ek met hom praat, kan ek agterkom daar is sekere goed waarvoor hy terapie sal moet kry. Hy het self vir my gesê hy kort hulp om te loop, want hy loop nie heeltemal reg nie. Hy is baie trots en sal nooit vir hulp vra nie, so die feit dat hy vir my sê hy het hulp nodig, beteken daar is beslis fout,” sê sy.

Bernie van Jaarsveld en sy vrou, Lomé. (Foto: Facebook)

Marilize sê ná die operasies het Van Jaarsveld se sig na normaal teruggekeer en sy spraak is ook al baie beter, hoewel nog nie heeltemal normaal nie.

Vandat Van Jaarsveld siek geword het, probeer Marilize en Lomé naarstigtelik om noodvisums gereël te kry sodat hulle na die VSA kan reis om by hom te wees. Die twee vroue kon daarin slaag om ʼn noodafspraak môre by die konsulaat in Kaapstad te kry en hoop om Lomé so gou moontlik op ʼn vliegtuig te hê Noord-Dakota toe. Marilize beplan om oor sowat twee weke te vlieg en dan Van Jaarsveld se versorging by Lomé oor te neem.

“Hy mag vir die volgende paar maande glad nie vlieg nie, so ons sal by hom moet uitkom om hom te versorg. Sodra ons daar is, sal ons ʼn beter idee hê van hoe die pad vorentoe lyk,” sê sy.

Sy sê Van Jaarsveld het egter geen mediese dekking in die VSA nie, wat beteken dat die familie al sy rehabilitasie uit hul sak sal moet betaal. “Ons probeer nou geld insamel om hierdie onkoste te dek, want dit gaan baie geld wees,” sê sy.

“Maar vir nou is ons net dankbaar vir elke boodskap en elkeen wat hom in hul gebede opgedra het.”

Besoek die familie se Facebook-blad, “ʼn Ma se kreet om hulp”, vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Marilize Van Jaarsveld ·

Baie dankie aan elkeen se bemoedigende woorde. Bernie is op die herstelpad en al baie beter. Ons as gesin is só geseënd om hom so vinnig te sien verbeter.
Ons nood visums is vandag goed gekeur en ons sal binne kort by hom kan wees.

Dankie aan elkeen vir al hul gebede en raad. Dit word opreg waardeer.

Marius van Australie ·

Baie sterkte vir die familie en die man se gesin. Gelukkig is daar nog goeie mense wat empatie betoon en hierdie man versorg en bystaan.

Ek weet geensins of die gesin hierdie sal lees nie, maar kyk of hul nie ‘n GoFund – skakel kan opstel om die mediese kostes te dek nie. Kyk by – https://www.cnbc.com/2017/08/09/9-companies-that-cover-100-percent-of-employee-health-insurance-premiums.html

In God se raadsplan gebeur dinge nie sonder ‘n doel nie. Nogtans baie sterkte!

Lolla ·

Ek dink die boer daar sal baie mooi na hom lyk. Vriende van my se broer het ook geboer daar en baie seer gekry aandiens en hy word op die hande gedra deur die boer na hy terug is in SA. Vir hom ‘n luukse huis gekoop, sy voertuig ingerig, betaal vir hom ‘n baie groot salaris asook al sy mediese onskostig.

Chris Ws ·

Ai dis nou ‘n ding.Sterkte aan almal betrokke.Dis moeilik as iemand so ver weg in ‘n ander land siek word.
My swaer se seun is in Nebraska ook op ‘n plaas werksaam en moes hospitaal behandelingkry omdat daar fout in sy derm gekom het.Na 2 weke en 2 operasies is hy huistoe met ‘n rekening Van R1,2 miljoen NA hulle hom 40% afslag gegee het.Om siek te word in Amerika is baie duur.Tenminste leef hy nog want hier sou hy dit nie gemaak het nie .

Oog vir n Oog ·

Dank Vader die kind is oorsee, want hier so hy nie so vinnig gediagnoseer of behandel geword het nie.

Kobus ·

Die man kon seker nie hier werk kry nie as gevolg van sy velkleur. Nou sit hy in die vreemde. So gaan dit maar met duidende ander.

Lana ·

Bernie, byt net vas. Hoewel daar ‘n redelike tydperk vir herstel nodig is, is jy oor die ergste!!
Baie sterkte aan jou en die familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.