Lang herstelpad vir ma wat steeds nie weet van baba se dood

Shanei Norris en Reanei (Foto: Facebook)

Die 23-jarige ma van Vereeniging in Gauteng wie se een jaar oue babadogtertjie in Maart vanjaar in ʼn botsing dood is, is dié week uit ʼn rehabilitasiehospitaal na ʼn tehuis in Johannesburg oorgeplaas waar sy voltydse sorg sal ontvang.

ʼn Onseker toekoms lê volgens familielede steeds voor Shanei Norris uitgestrek: Die 23-jarige kan steeds nie self rondbeweeg of selfs uit ʼn bed opstaan nie, sy moet steeds fisioterapie kry om die beweging van haar bene na normaal te herstel en sy het in dié stadium net ʼn tien minuut lange geheuespan. Boonop weet sy steeds nie dat die botsing Reanei, haar dogtertjie, se lewe geëis het nie.

Noelene van Blerk, ʼn vriendin van Norris, sê Woensdag aan Maroela Media die familie was genoodsaak om Norris na ʼn Johannesburgse tehuis oor te plaas omdat daar nie meer genoegsame fondse was om die jong ma in die rehabilitasiehospitaal te laat aanbly nie.

Van Blerk sê kommer heers ook oor die langtermyn- fisiese skade wat Norris in die botsing opgedoen het aangesien dokters nie werklik ʼn prognose oor haar herstelpad kan maak nie.

“Ons het onlangs gehoor die fisioterapie het nie genoegsame vordering teweeg gebring nie. Ons gaan baie meer op die herstel van haar bene moet fokus. Die regterbeen wat in die ongeluk vergruis is, bly heeltyd in ʼn 90 grade-posisie omdat die been kort ná die ongeluk met penne gespalk is en in dié einste posisie gelig is. Dit het toe veroorsaak dat die spiere in die been in daardie posisie bly, en nou is sy in geweldige pyn wanneer sy haar been reguit probeer trek. Die dyspiere van daardie been is glo ook baie dun en swak en nét fisioterapie sal dit kan herstel,” sê sy.

Van Blerk sê Norris se linkerbeen ontwikkel ook bloedklonte, vermoedelik omdat sy nie genoeg oefening kry nie. Dié been het ook nog ʼn groot wond van die botsing wat steeds nie volkome herstel het nie.

“Ons het geweldig baie gesukkel om ʼn tehuis te kry wat na haar kan omsien omdat meeste van die tehuise net omsien na ouer persone. Ons het toe uiteindelik ʼn tehuis in Johannesburg gekry wat spesifiek na mense soos sy omsien. Sy het nie meer soseer mediese sorg nodig nie, maar moet 24 uur per dag sorg ontvang omdat sy nie self kan loop om koffie te maak, te bad of selfs badkamer toe te gaan nie. ʼn Arbeids- en fisioterapeut van buite die tehuis sal haar steeds moet gaan besoek.”

Sy sê die familie is gemaan om Norris steeds nie van Reanei se dood in te lig nie omdat dit haar in dié stadium van die herstelpad net sal traumatiseer. “Sy kan niks vir langer as tien minute onthou nie. Sy is al onder meer geleer hoe om ʼn broek aan te trek, maar teen die middag het sy dit reeds weer vergeet. Haar geheue is steeds baie deurmekaar; sommige dae dink sy sy is nog in die skool, ander dae is sy weer in ʼn verhouding met die pa van haar kind, maar sy onthou steeds niks ná die botsing nie.

“Sy praat soms van Reanei, maar omdat sy so gou weer vergeet, sal sy sê haar kind is by haar pa of dat sy by die kleuterskool afgelaai is. Sy vra nie self na Reanei oor waar sy is en of sy oukei is nie. Die dokters het gesê ons moet Shanei nie van haar dood vertel nie omdat sy ná tien minute weer gaan vergeet, maar die skok sal haar dalk vir ʼn lang tyd traumatiseer.”

Shanei mag voortaan naweke by familie en vriende gaan kuier wat opleiding ondergaan het oor hoe om haar te versorg. Van Blerk sê sy moet egter elke Sondagaand weer terug wees by die tehuis. “Haar suster het reeds opleiding ontvang en Shanei het reeds een naweek by haar deurgebring. Ek sal ook binnekort opleiding ontvang. Dís hoe ons maar tyd en wyl sal aangaan totdat dinge verbeter – en ons is vasbeslote en vol hoop dat sy weer volkome sal herstel,” sê Van Blerk.

Shanei Norris en Reanei (Foto: Verskaf)

“Skanderings wys nie fisieke breinskade nie. Dokters sê sommige mense se geheue bly vir altyd soos Shanei sʼn nou is; dit herstel nooit weer volkome nie. Maar dan is daar gevalle van ander mense wat een oggend bloot wakker word, en dan is alles weer terug na normaal. En dís wat ons glo die geval gaan wees met Shanei.”

Shanei sal in die volgende paar weke “kennis moet maak met realiteit” en sal volgens Van Blerk meer na winkelsentrums en ander omgewings geneem word waar sy weer “in aanraking met mense kan kom”.

Maroela Media het vroeër berig Norris en Reanei was op 23 Maart in ʼn botsing in Drie Riviere betrokke. Reanei is op slag dood, terwyl Norris met ernstige beserings na ʼn hospitaal gehaas is. Norris se regterbeen en regterarm is gebreek, haar milt moes verwyder word en sy is destyds geopereer vir ʼn skeur in haar lewer wat inwendige bloeding veroorsaak het.

Norris is eers in ʼn staatshospitaal behandel voordat sy later na ʼn private hospitaal oorgeplaas is en daarna weer in die rehabilitasiehospitaal behandeling ontvang het.

Norris, wat nié ʼn mediese fonds het nie, se familie het kort ná die ongeluk ʼn skarefinansieringswebwerf gestig waar weldoeners fondse kan bydra om die 23-jarige se mediese onkostes te dek. Vir meer inligting oor Norris se vordering of die trustbesonderhede waardeur geld vir haar mediese onkoste ingesamel word, besoek die Facebook-groep Mommy Shanei of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

MJ ·

So jonk, so mooi vrou.. My hart bloei.
Alle sterkte aan jou en jou familie.

jakes ·

Wat n hartverskeurende storie. Ons gebede gaan uit na die meisie en haar familie. Hoop dat sy weer gesond sal word.

Lena ·

Dalk sal die skok om te verneem dat haar lieflike kindjie dood is (bitter hartseer soos dit is) haar juis na die werklikheid terugbring… God kan egter wonderbaar werk. Baie sterkte aan haar en haar geliefdes.

DS ·

Of juis die teenoorgestelde Lena dat sy voel sy het niks meer om voor te lewe nie.

Ons Kan Help! ·

Het haar in die hospitaal ontmoet tydens besoeke aan my ma wat n kamer met haar gedeel het.
Sy is pragtig en so ongekunsteld. So bitter jonk.
Niemand kan haar kindjie terug bring nie maar ons kan haar n 2de kans gee deur n klein bydrae’tjie te maak tot haar mediese kostes.
Sy het geweldige pyn en ongemak weens die beserings aan haar bene. En tog bly sy so gaaf en vriendelik.
My hart gaan uit na hierdie pragtige jong meisie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.