Lang herstelpad vir tiener ná spoegkobra haar pik

Susanna Nel by haar dogter, Anthea Wentzel. Foto: Facebook

ʼn Lang en duur herstelpad wag op ʼn tiener van Limpopo nadat ʼn slang haar sowat ʼn week gelede in haar bed gepik het.

Anthea Wentzel (17) het op 10 Januarie omstreeks 03:00 in haar bed op Lephalale lê en slaap toe sy wakker word van iets wat haar gepik het. Sy het haar vriend gaan wakker maak en gesê sy dink daar is ʼn slang in haar bed wat haar gepik het. Dit het later geblyk ʼn Mosambiekse spoegkobra te wees.

“Rian het na haar kamer toe gegaan en die duvet opgelig,” het Anthea se ma, Susanna Nel, ná die voorval vertel, “toe spoeg die kobra hom. Hulle het my wakker geskree en ons het dadelik hospitaal toe gejaag. Die staatshospitaal by ons het nie teengif [gehad] nie en ek het hulle Mediclinic toe gevat.”

In die private hospitaal het Anthea agt ampules teengif gekry. Sy is daarna na die staatshospitaal oorgeplaas omdat sy nie aan ʼn mediese fonds behoort nie. ʼn Dokter by die Mediclinic was bereid om Anthea se arm teen R45 000 te opereer.

Dis toe dat die Child Medi Organisation betrokke geraak het. Amor Schoeman van dié organisasie vertel hulle het reeds genoeg geld ingesamel sodat Anthea geopereer kon word, maar ongelukkig moes ʼn groot stuk van haar arm om die wond weggesny word omdat die weefsel doodgegaan het in die tyd wat hulle moes wag om die geld bymekaar te kry.

Schoeman sê Anthea se gesin huur nou ʼn suigmasjien teen sowat R1 500 per dag waarmee sy drie maande lank behandel moet word. “Dit suig die vuiligheid uit die wond, waaroor ʼn spons aangebring is, en pomp suurstof daarin.

“Elke tweede of derde dag moet sy na die plaaslike wondkliniek gaan sodat die spons vervang en die wond skoongemaak kan word, wat ook geld kos.”

Omdat daar “ʼn helse gat” in haar arm is, sal sy ook veloorplantings moet kry, sê Schoeman.

Anthea se ma het Donderdag op Child Medi Organisastion se Facebook-blad geskryf: “Sjoe, ek weet nie hoe moet ek vir elkeen bedank vir jul bydraes en gebede nie. Daar’s net een woord: Julle is awesome!

“Anthea … toon ʼn laat allergiese aksie van die teengif op haar lyf, ʼn uitslag wat soos waterpokkies lyk. Dis behandelbaar en salf is ook voorgeskryf. Ons sê dankie aan almal wat ons ondersteun.”

Enigeen wat Anthea wil help kan die Child Medi Orginisation se Facebook-blad besoek vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

De Villiers ·

LouE, moenie onverantwoordelike dinge kwytraak nie. Vir elke mens wat deur ‘n slang gepik word, is honderde onskuldige slange (waarvan die meeste onskadelik is) doodgemaak.

Helena ·

@LouE, meer mense word daagliks vermoor/verkrag as wat aan slangbyt sterf. Nog meer sterf aan malaria.

Nettie ·

@LouE – nee, bly eerder uit die slang se pad uit: kyk waar jy loop/trap, sit en in slang-geteisterde (tropiese) gebiede, kýk voor jy in die bed inklim – trek die hele bad af en kyk ook ónder die bed. Hou deure en vensters waar moontlik toe. En hou ‘n kat/hond aan – hulle verraai ‘n slang se teenwoordigheid baie gou.

As ons voor die voet slange gaan doodmaak. sal jy en chris maar moet inspring, LouE: om al die rotte, muise en kwaaddoenende voëls te vang en plan mee te maak. Slange is knaagdiere en voëls se natuurlike vyand en sonder slange, sal bogenoemde populasies handuit ruk.

Grassie ·

Helena – jy het seker nie beswaar as die muskiete wat malaria oordra gespuit word nie. Die enigste rede waarom meer mense aan malaria sterf as aan slangbyt is omdat daar meer muskiete as slange is. Ek is baie lief vir diere maar my huis is my en my gesin se heiligdom en enigiets skadeliks wat daar oortree word uitgeroei – muise, rotte, kokkerotte, muskiete, miere, pofadders, kobras en nog. Daar het al nagapies in my solder gewoon, bosduiwe en mossies onder my dak nesgemaak en dit was vir my net een groot plesier. Maar slange is ‘n ander saak.

Linda ·

Sterkte Anthea ek bid vir jou vir volkome genesing. Ek wonder wat het van haar vriend geword?

s v ·

sterkte aananthea en susanna. LouE ek stem saam jou maak dood die goed

Wendy ·

Dis jammer dat sommige mense sulke nougesette idees het oor slange! Dit was baie jammer dat die dogter gepik is deur die slang. Ons word alreeds in die groot stede oorval deur rotte, muise en ander plae. Ongelukkig is omtrent alles al uitgewis deur die lewens styl wat ons lewe. Gifstowwe, en ja, mense wat alles doodmaak om hulle. Spinnekoppe, krieke, Ag, noem maar op alles word net doodgemaak omdat mense nie wil leer oor wat om hulle aangaan nie. Jammer mense, maar ek sal nooit slange dood maak nie. Alle diere, insekte, slange ens het ‘n plek in die natuur. My gebede gaan uit na die familie.

Johnnie ·

Daai dokter wat eers geld wou hê voordat hy haar wou opereer is naam dokter nie werd nie en behoort van die rol geskrap te word. Hy het n eed afgelê waarin hy verkla dat hy mense lewens eerste stel voor geld.

lol ·

So elke tragedie wat daar is moet dokters sommer verniet behandel?

Johhnie Ek glo nie jy sal baie lus wees om gratis te werk as jy 7 jaar lank studie geld moes betaal het nie, ek glo nie eers jy sal verniet werk met watokal jy nou doen nie. Dokters is ook mense en verdien ook om verged te word vir hul werk.

Lizette Perrier ·

Die dokter sou opereer voor geld daar was. Dit is die hospitaal wat al die geld wou hê….ek weet hulle moes R10 000 betaal voor sy n bed kon kry nog voor die operasie. Die dokter is fantasties

Onnie ·

Daar is iets wat ek al lankal wil sê, dit is NIE gerig net op die geval nie. Maar dit wil vir my voorkom of ek alleen vir mediesefonds betaal en daardeur voorsorg tref vir my en my geliefdes. Want dit gebeur darem nou té gereeld dat mense wat nie tot ‘n mediesefonds behoort nie, doodeenvoudig op sosiale en ander media geld vra en al hulle mediese onkostes word deur die publiek gedek. En almal is nie noodwendig mense wat nie ‘n mediesefonds kan bekostig nie, sommige spandeer hulle geld op luukses wat ek myself dalk ontsien om my geliefdes te kan versorg in ‘n mediese krisis. Miskien moet ek ook my mediesefonds afskryf, want as daar ‘n krisis is kan ek altyd op die bystand van groothartige landsburgers staatmaak wat my sal uithelp. Die Helpmekaarfonds??

Jaco ·

Baie waar, maar daardie paar ure wat jy moet wag vir n fondsinsameling kan die verskil tussen lewe of dood beteken, vernaamd met noodgevalle.

Nique ·

Dit gaan nie oor die slang nie. Dit gaan oor hierdie land met poef hospitale. Gaan dood as jy nie geld het nie. Die arme kind.

GM ·

Onnie, dis waar wat jy sê. Almal kan ongelukkig nie mediese fondse bekostig nie – al sny hul al die luukses uit. Baie sou dit wel kon bekostig as hul nie nodig gehad het om belasting te betaal nie.

In bogenoemde geval, is weefsel dood terwyl hul moes wag om geld in te samel. So op die ou einde van die dag, vat die mense wat om hulp vra, ‘n hengse kans want hul gaan nie noodwendig in tyd gehelp word nie.

Ons regering sal nie staatshospitale op standaard bring nie, want hul maak baie geld uit privaathospitale.

Eddy ·

Dankie Piet.ek het die skakel gevolg .Dis waardevolle inligting.Elkeen moet dit lees

Eddy ·

Op daai program Snakes in the city,(kanaal 182 , saans 19h30 wys Simon Keys hoe gevaarlik die Mosambiekse spoegkobra is,asook die swart mamba .Hierdie is gevaarlike slange.Maar ons het nie altyd die kennis oor slange nie en ons skrik ons flou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.