Lang herstelpad wag op fietser wat trefslag oorleef

Jéan du Preez by sy kleindogter, Leanette (3). (Foto: Verskaf)

Jéan du Preez (60), die fietsryer wat onlangs saam met André Piehl deur ʼn sportnutsvoertuig raakgery is, het Woensdag ʼn veloorplantingsoperasie in ʼn Johannesburgse hospitaal ondergaan.

Du Preez het veelvuldige beserings tydens die voorval op die R512 naby Lanseria opgedoen en is al bykans drie weke in die hospitaal. Piehl is in die voorval dood.

Du Preez is intussen uit die intensiewesorgeenheid ontslaan. Sy seun, Simeon (30), sê dit gaan heelwat beter met sy pa en dat hulle hom in die hospitaal mag besoek.

“My pa se toestand is al baie beter hoewel hy nog baie pyn verduur. Hy gaan vandag vir sy laaste operasie wat ʼn veloorplanting behels. Daar lê egter nog ʼn lang herstelpad voor, veral ten opsigte van die breuke wat hy opgedoen het.”

Du Preez het onder meer ʼn gebreekte skeen- en kuitbeen, gebreekte ribbes en ʼn gekraakte werwel. Een van sy longe het ná die voorval platgeval en hy het ook verskeie vleeswonde aan sy arms en bene. Hy was ook lank aan ʼn ventilator gekoppel.

“Hy is van die ventilator af en hy neem so ʼn paar treë tydens fisioterapie.

“Hy is positief, maar hy weet daar is ʼn lang pad wat voorlê. Ons waardeer almal se omgee en ondersteuning ontsettend baie,” het Simeon Woensdag aan Maroela Media gesê.

Kabelo Nyatlo (30), die bestuurder van die Porche Cayenne wat glo in Piehl en Du Preez vasgeploeg het, sal op 18 Mei weer in die Randburg-landdroshof verskyn.

Hy het op 7 Februarie vir die eerste keer in dié hof verskyn waar hy op waarskuwing vrygelaat is. Nyatlo word van strafbare manslag asook dronk- en roekelose bestuur aangekla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Swerwer ·

Op waarskuwing vrygelaat nadat hy moord en poging tot moord gepleeg het. Mag daar met die volgende verhoor ‘n ander persoon wees wat die saak hanteer/aanhoor en hom vonnis vir sy dade en nie net op waarskuwing vrylaat nie.

Christine ·

Hy moes opgesluit word en van sy lisensie ontneem word. So iemand hoort nie agter ‘n stuurwiel nie.

Cobus ·

Ongelooflik hoe lank sulke hofsake uitgestel word. Die feite is voor die handliggend en wat gebeur het. Die een persoon is dood en die ander baie ernstig beseer. Wat meer wil mens weet? Die feit is die SAPD weet nie meer hoe om sake deeglik en vinning te ondersoek en af te handel nie. Swak & pateties.

Johann ·

Intussen loop die dronk moordenaar “student” vry los? Wat is besig om in ons regs stelsel te gebeur?

DieKriek ·

Dit is werklik hartverskeurend. En die dronk bestuurder met sy vet beursie kom net weg daarmee.

Wat ek verstaan is dat mense wil fietsry. Wat ek nooit sal verstaan nie, is dat hulle wil fietsry op n openbare pad. Ek mag tegnies met my perd op die pad ry, maar ek sal dit nooit doen nie. Daar is bane en velde vir perdry. Dit is net soveel makliker om jou fiets op te laai en na n veilige omgewing te gaan om te gaan fietsry vir ontspanning. Werk toe of skool toe ry is n ander storie maar dis amper nooit hulle wat raakgery word nie.

Di ·

“Geld wat stom is, maak reg wat krom is” Weereens ‘n bewys dat jy jou pad uit die tronk kan koop as jy geld het. Hoef nie eers borg te betaal nie? Wat ‘n siek GRAP

christo ·

Kabelo Nyatlo hoef nie te vrees om enigsins swaar gestraf te word. Die groot vraag is of die SAPD sy bloedmonster direk na die ongeluk geneem het en die uitslag beskikbaar gaan wees vir die volgende hofverskyning.

AH ·

Klink vir my hier word vir tyd gespeel sodat die dossier kan wegraak…….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.