Lang pad lê voor vir 16-jarige ná rugby-besering

Koben Hofmeyr het ‘n ernstige nekbesering opgedoen in ‘n rugbywedstryd (Foto: Verskaf)

Die 16-jarige Koben Hofmeyr het die afgelope naweek in ʼn rugbywedstryd tussen Hoërskool Louis Trichard en Hoërskool Warmbad in Bela-Bela sy nek ernstig beseer en sterk aan by die Life Groenkloof-hospitaal in Pretoria se waakeenheid.

Koben is die kaptein van Hoërskool Louis Trichardt se o.16-rugbyspan. Koben se pa, Trompie Hofmeyr, het gesê sy seun het ʼn goeie wedstryd gespeel tot die voorval plaasgevind het.

“Koben het nog ʼn pragtige drie in die wedstryd gedruk, en daarna het hy ʼn ander speler geduik. In dié duik het hy sy nek beseer – dit was ʼn fratsongeluk. Hy moes met ʼn helikopter na die hospitaal gaan. Die paramedici was uitstekend en het hom baie mooi gehelp,” het Hofmeyr gesê.

Nadat Koben by die hospitaal aangekom het, het die dokters hom gestabiliseer en ʼn noodoperasie op hom uitgevoer. “Hy het sy C4- en C5-nekwerwels seergemaak en sy C6-nekwerwel ontwrig,” het Hofmeyr gesê.

Hofmeyr het gesê Koben het aanvanklik ná die besering nie gevoel van sy bors af ondertoe gehad het nie, maar dat dit stelselmatig van Maandag af begin verbeter het.

Koben Hofmeyr was die kaptein van die o.16-rugbyspan van Hoërskool Louis Trichard. (Foto: Verskaf)

“Hy het nou weer gevoel in sy hele lyf tot by sy tone, maar sy motoriese vaardighede is nog nie daar nie, so hy kan nog nie sy hele lyf beweeg nie. Soos die swelling sak, sal ons al meer kan sien wat presies fout is. Die dokters het gesê dat ons oor die volgende 18 maande verbeteringe sal sien, en dat ons dan daarna die presiese probleem sal kan uitken om te behandel.”

Volgens Hofmeyr is Koben ʼn goeie skilder, akademies sterk en word hy beskryf as ʼn goeie leier in sy skool.

“Dit is maar vir ons ʼn harde hou om te vat, maar ons kyk vorentoe,” het Hofmeyr gesê. “Ons wil positief bly. Alles wat van nou af gebeur, is positief en mooi. Dit is soos ʼn kind wat vir die eerste keer begin stap; as Koben nou een tree gee, dan huil ons daaroor, want ons is só dankbaar.”

Koben het reeds baie ondersteuning en seënwense op sosiale media gekry, én talle bekende rugbyspelers het by hom in die hospitaal gaan kuier.

“Al ons ‘vyande’, die skole waarteen Koben se skool meeding in ons omgewing, het almal iets spesiaal vir hom gedoen of boodskappe gestuur. Sy eie skool het ook ’n video vir hom gemaak. Ek dink heeltyd by myself ‘as mens sulke vyande het, wie het dan vriende nodig?’ Almal gee so baie om,” het Hofmeyr gesê.

“Daar het ook rugbyspelers van die Bulle en die Leeus by hom in die hospitaal kom kuier. Sy vriende is nou besig met eksamen, maar daar was darem ʼn paar mooi meisies ook by hom,” het Hofmeyr geskerts.

Hofmeyr het gesê dat Koben nog vir 10 dae in die waakeenheid moet wees, voordat hy vir drie maande lank rehabilitasie moet ondergaan.

Talle bekende rugbyspelers het by Koben in die hospitaal gaan kuier (Foto: Verskaf)

“Ons almal hoop en bid daarvoor dat hy eendag weer kan sport doen, maar niemand weet wat die toekoms inhou nie. God het klaar sy plan gemaak, ons sal net nog uitvind wat dit is. Ons bly net positief.”

Hofmeyr sê hy is trots op Koben se vegtersgees, en dat hy glo hy beter daar sal uitkom.

“Daai mannetjie is ʼn yster. Hy is só positief. Met daai tipe breinkapasiteit en sy vegtersgees sál hy herstel. Hy sê heeltyd vir my ‘pa, as ek net my hande kan regkry’. As dít is hoe hy voel, is ek baie bly, want dit beteken hy is rock solid,” het Hofmeyr gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

YOLANDI VAN RENSBURG ·

Dink aan julle familie, ek het self in 2012 ‘n nekbeserig opgedoen by C4 – C5 werwel na ‘n motorongeluk, het lank gevat om weer als te kom doen, het selfs ‘n “halo” gedra, maar met die genade van Bo is ek weer mobiel. Sterkte en bid vir jou

Regtig!? ·

Ag retig tog! Die kind speel ‘n sport wat hy geniet en nou us dit ‘n afgod?

snip ·

kyk rugby is nou die een euwels wat gerus wortel en tak uirgeroei kan word.

Hester ·

Snip dis nou snert.! Hy kon net sovel gaan swem het sy kop gestamp het en kon ook so besering opdoen. Mark Boucher het sy oog verloor agv krieket.

Kaufman ·

Dankie snip. Dit sal soveel mense beserings en dood spaar. Daar is baie meer opwindende sportsoorte wat baie minder gevaarlik is.

Ouma ·

My kleindogter was in Julie 2013 ook in ‘n motorongeluk waar sy 3 nekwerwels en 4 rugwerwels beseer het. Ons kan net elke dag dankie sê dat die Here haar volkome herstel het al het dit baie lank geneem. Hou moed Koben en alles sal reg kom.

MJ ·

Stem saam Snip.. gelukkig het ek net meisiekinders.. want sou daar seuns gewees het sou ek hul verbied het om rugby te speel. Te veel van hierdie tipe beserings..

M ·

Ek ken ‘n laerskoolseuntjie wat deur sy pa geboelie word om rugby te speel en ek is seker dis nie die enigste geval nie. Dis hartseer dat Afrikaners nog steeds dink jy is net ‘n “regte man” as jy rugby speel. Die seuntjies wat nie rugby speel nie, word allerhande lelike dinge genoem wat die ander seuns by hulle “macho” pa’s hoor.

Mossie ·

Enige sport het sy beserings van die minste tot die ergste graad. My seun is n kranige 0/14 rugbyspeler, maar elke keer voor hy opdraf en tydens n wedstryd bid jou hart vir beskerming vir elke speler op die veld. Na elke wedstryd loop jou hart oor van dankbaarheid dat elke speler veilig is. Ek kan nie my seun verbied om die sport te speel waarvoor hy so lief is nie, net omdat daar n gevaar bestaan vir seerkry nie. Koben, ek glo jy het n fantastiese rugbyloopbaan tot op hede gehad. Bly positief al is dit hoe moeilik soms en weet dat baie rugbyspelers en ouers jou in hul harte dra.
Eenkeer n rugbyliefhebber…altyd n rugbyliefhebber!

Petra ·

Stem volhartig saam! Rugby is deel van ons lewens,en alle sportsoorte,hoe “mak” ook al,het soos alledaagse lewe maar beserings. Wees dankbaar teenoor die Here vir elke gesonde,beseringsvrye dag,en bid vir die wat wel beserings opdoen. Ek het self 2 seuns en sal hul nooit weier of verbied om ‘n sportsoort te beoefen nie,hetsy dit rugby of ballet is..

Rgby moet val ·

Hoeveel kinders moet nog verlam word of doodgaan vir julle genot om na aggresiewe spel te kyk? Primitief soos die ou romeine as jy my vra.

Ina ·

Ek het die gesin onlangs ontmoet. Dit is ‘n gesin wat nog waardes het en glo in God. Koben is plat op die aarde. Sy kop is reg en sy geloof is reg. Baie sterkte Koben en jou gesin

Johan Prinsloo ·

Baie sterkte Koben, namens ons almal van die 1975 matriekjaar se Triegies. Hoop daai besering is sommer gou iets van die verlede.

Spyker ·

Dankie Johan. Dit is wat “old boys” moet beteken…
Julle almal is ysters.. sterkte jongman en alles van die beste!!!!

Wors ·

Rugby is lankal nie meer ‘n SA sport nie, nog minder meer ‘n tradisie nie. Laat dit vaar.

Ragas ·

My seun kan eerder gaan ballet,maar Rugby nee en nooit nie!
Die afgod wat “rugby” genoem word is absurd en die heldeverering ook.
Dis nie ‘n lewe werd nie.

Reguit ·

Niks sal die wittes van SA van hulle rugby-afgod laat afsien nie.

Deon ·

My seun wou ook net rugby speel totdat hy sy enkel so erg gebreek het en staal plate moes kry om als te heg!!! Raai wat na die ongeluk het nie een onderwyser eers die moeite gedoen om ons te vra of ons hulp nodig het en of ons die R17000.00 kan betaal nie!!
My kind loop vandag snaaks maar gelukkig lewe hy, hy kon dood of lam gewees het!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.