Lang pad na herstel ná honde vrou aanval

Anita Els en haar vriendin Angie Hodgson in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Die gemeenskap in Port Edward trek tans laer om een van hul inwoners wat nog herstel van ʼn wrede hondeaanval in September vanjaar. Duisende rande is ook reeds vir Anita Els, wat nog fisioterapie en traumaberading moet ontvang, se mediese uitgawes ingesamel.

Els (57) is op 4 September deur ʼn trop skaaphonde op dié kusdorp in KwaZulu-Natal aangeval. Sy het die betrokke dag gestap om haar medikasie te gaan haal, toe sy die honde by die hek van haar woonplek teëgekom het.

Die vyf honde het haar aangeval en sy het ernstige beserings aan haar arms, bene, rug en skouer opgedoen. Haar linkerbeen is so erg verskeur dat dit byna afgesit moes word.

“Die honde het my klere geskeur en my skoene afgeruk. Dit was baie traumaties. Die een hond het oogkontak gemaak voordat hy my venynig in my skouer en bors gebyt het. In ʼn desperate poging om hom van my af te kry, het ek sy snoet geslaan, net om aan die arm gebyt te word,” vertel Els maande ná die voorval.

“Ten spyte van die erns van die aanval het my verhuurder my afgeraai om die voorval aan te meld. Ek was in erge skok gewees en het erg gebewe. Gelukkig het ʼn lid van die publiek ʼn ambulans ontbied en my gehelp om uit die honde se kake te ontsnap.”

Anita is inderhaas per ambulans na die Port Shepstone-hospitaal geneem. Oor ʼn tydperk van ses weke het Els twee operasies ondergaan, waartydens dokters daarin kon slaag om haar been te red. ʼn Span toegewyde dokters en professore aan die Albert Luthuli-hospitaal in Durban het ʼn belangrike rol in die behoud van haar been gespeel.

Anita Els nadat sy ‘n operasie aan haar been ondergaan het. (Foto: Verskaf)

In hierdie tyd moes sy pynlike prosedures ondergaan om haar wonde skoon te maak en was sy dikwels in die teater. Sy moes ook verskeie veloorplantings kry.

Die pad na herstel is egter nog lank nie verby nie. Die voorval het boonop sielkundige letsels gelaat en sy sal ook nog traumaberading moet ondergaan.

Els sterk tans in ʼn vakansiehuis van weldoeners in die gemeenskap aan, nadat sy op 3 November uit die hospitaal ontslaan is.

“Die gemeenskap het tot dusver ʼn reuserol in my herstel gespeel en hulp in verskeie vorme aangebied, van mediese sorg tot daaglikse benodighede.” Sy noem hierdie mense haar “engeleweermag”.

Els moet nog omvattende fisioterapie ondergaan weens ʼn verkorte Achilles-tendon, wat veroorsaak dat sy op haar tone moet loop. Die deel van haar been waar sy veloorplantings moes ondergaan, is ook nog nie heeltemal gesond nie.

Om haar nog verder by te staan het Angie Hodgson, ʼn vriendin en trustee van die Help Foundation, ʼn skarefinansieringsinisiatief van stapel gestuur om te help om Els se mediese uitgawes te dek. Op dié manier is R23 000 reeds ingevorder. Die veldtog, wat deur die Help Foundation en pastoor John Pretorius bestuur word, se doelwit is om R300 000 in te samel.

“Dit is moeilik om te beskryf waardeur Anita tans gaan,” sê Hodgson. “Sy wys ongelooflike bravade en krag soos sy probeer om haar lewe weer op te bou ná die ongelooflike moeilike tyd waardeur sy is. Sy – en ons – is ongelooflik dankbaar vir die engele wat saamgekom het om haar te ondersteun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ruby ·

Sterkte dame, hoop jy herstel 100%.

Ek het nooit gedink skaaphonde sal ‘n mens aanval nie, dit is heeltemal die teenoorgestelde van hulle normale gedrag.

Marcello ·

Die verhuurder het natuurlik geweet hy gaan moet betaal as sy dit aanmeld. Tipies verhuurders, voel niks vir ‘n huurder nie. Maar sy kan dit nog steeds aanmeld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.