Lang stryd lê voor met Ace – kenners

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC. (Foto: Gulshan Khan/AFP)

Ace Magashule gaan waarskynlik klou soos ʼn neet aan die invloedryke posisie wat hy as sekretaris-generaal van die ANC beklee – en die kans dat hy hom gaan berus by ʼn besluit om hom uit die party te skop, is oënskynlik skraal. Só meen kenners met wie Maroela Media gesels het.

Die ANC se Nasionale Werkkomitee gaan na verwagting ʼn aankondiging doen oor die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) se besluit dat diegene wat aangekla word van ernstige misdade, moet opsy staan. Dit sal na verwagting ʼn aankondiging oor Magashule – wat tereg staan op verskeie aanklagte van korrupsie – insluit.

Dr. Ralph Mathekga, ʼn politieke ontleder, sê die NUK is duidelik oor wat gedoen moet word en dat die plig van die werkkomitee is om besluite in werking te stel, nie om daardie besluite te neem nie.

Mathekga sê Magashule wil dit so moeilik as moontlik vir die ANC maak om die besluit in werking te stel en dat hy boonop die uitgangspunt handhaaf dat indien hy uitgeskop word, almal anders in die ANC wat ook van ongerymdhede beskuldig word, dieselfde behandeling moet kry.

Hy sê ook die spertyd van 30 dae wat aan Magashule gegee is, het reeds verstryk, maar dat Magashule geen voorneme het om sy magtige posisie prys te gee nie. Dit sal boonop sy noue bande met ANC-takke op voetsoolvlak verbreek, ʼn situasie wat hy glo ten alle koste wil vermy.

“Die ANC het sekere verwagtinge geskep en ultimatums gestel en moet dit deurvoer.

“As Ace agterkom hulle het nou die slotte by Luthuli-huis [die ANC se hoofkantoor] verander, het sy ondersteuners reeds aangedui dat hulle die besluit in die hof gaan betwis.”

Hy sê dít skep ʼn nuwe probleem: Indien die besluit in die hof betwis word, geld Magashule se skorsing steeds, of keer hy terug na sy pos as sekretaris-generaal tot uitspraak gelewer word?

Mathekga sê Magashule daag die ANC uit – en hy doen suksesvol ook – en dat die regerende party besig is met krisisbestuur.

“Ek voorsien nie dat hierdie kwessie binnekort opgelos gaan word nie. Daar lê ʼn lang en onvoorspelbare tydlyn voor.

“As die ANC hom uitskop, moet hulle dit behoorlik doen of die gevolge dra,” waarsku Mathekga.

Prof. André Duvenhage, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom, sê ook die NUK het al male sonder tal besluite geneem wat op niks uitgeloop het nie.

Hy bestempel die ANC as ʼn verrotte, korrupte organisasie wat self die vlakke van korrupsie onderskat het en sê die groot vraag is of Magashule hom gaan steur aan ʼn opdrag om opsy te staan.

“Ek dink nie Ace gaan soos ʼn lam ter slagting gaan nie en die ANC gaan voortploeter soos hulle reeds doen sonder om ʼn besluit te neem,” sê hy.

“Die ANC is nie ʼn organisasie wat besluite neem nie. Dit is hoekom ons is waar ons is en daarom val alles uitmekaar.”

Hy sê ʼn besluit om Magashule uit te skop gaan met groot teenkanting begroet word en tot groter onbestendigheid in die land lei. Die tekens daarvoor, sê hy, is reeds daar.

“Die maatskaplike raamwerk is hoogs onstabiel en ek verwag groter weerstand en meer onbestendigheid, wat geweld kan insluit.”

Duvenhage sê daar is verskeie redes vir die ineenstorting van die staat, maar dat die ANC een van die primêre oorsake is. “Dit hou verband met swak bestuur en swak ideologie. Daar is ʼn raamwerk van verval.

“Ons fokus op Ramaphosa en die regering, maar hierdie is ʼn owerheidskrisis. Dit is ʼn krisis waar die staat besig is om in duie te stort.”

Magashule speel in op dié raamwerk van ʼn mislukte staat wat eindelik beteken as jy nie self kan regeer nie, verseker jy ook dat niemand anders kan nie.

“Daar is mobilisasie; daar is verset teen die opsystaan-klousule.

“Supra [Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes] bied weerstand, [Tony] Yengeni bied weerstand, Ace bied weerstand … Dit is besig om ʼn koalisie van korruptes te word en nie net onder die elite nie, maar ook op voetsoolvlak,” waarsku Duvenhage.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Therese ·

‘n Klein groepie uitverkore ANC-lede het in die vroeë 90’s bykans oornag multi-miljoeners geword.
Die besluitnemers verantwoordelik vir hierdie ondeursigtige proses dra na my mening al die skuld vir die plundering wat daarop gevolg het.
Dit het die indruk geskep dat rykdom vir die ANC-elite ‘n gegewe is.

Persheks Adri ·

Hulle gaan sukkel om Ace uit te kry en boonop is hy slinks en weet te veel! Cyril en sy kaders weet hy weet alles en gaan hulle sink

Misky ·

‘n Besluit is geneem en hy moet uit. Sy 30 dae is verby en verwyder hom summier van die perseel as hy opdaag…… ek weet ek dagdroom lekker en dit sal nooit gebeur nie #wishfulthinking

Elize ·

Kan ons asb van al hierdie mense ontslae raak wat net hulleself wil bevorder en nie ‘n blou duit omgee vir die res nie?

Snowball ·

Klink soos die hele ANC. ‘n Gesonde party sou nie korruptes verkies, bevorder of toelaat om hulle onderduimshede te beoefen nie; die hele lot is aandadig. Óf deur slapgat stilswye òf direkte betrokkenheid.

Inkpot ·

Hoekom het Cyril hom in elk geval aangestel as Ace toe al beskuldig is van korrupsie?

Aai ·

Hy klou vas want as hy uit is kan hy nie president word.(vat maar die pad wil nie nog ‘n korrupte president he wat in opleiding is).

JohanR ·

Alle probleeme in SA is min of meer opgelos as ons die ANC by die stembus uitstem. Ek hoop ek lewe nog, en suip nog die dag dat die ANC #Voertsak!

Johanncb ·

Die “agbare” JZ het die voorbeeld gestel! Ons land se vals demokrasie word net méér ondermyn!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.