Langer verlof vir nuwe pa’s

Argieffoto: Pixabay

Werknemers wat nie vroeër op kraamverlof geregtig was nie, sal nou op 10 dae betaalde ouerskapverlof geregtig wees.

Dit kom nadat pres. Cyril Ramaphosa Vrydag die Wysigingswetsontwerp op Arbeidswette onderteken het.

Ingevolge dié wet is ’n ouer wat nie vir kraamverlof kwalifiseer nie nou geregtig op 10 dae se agtereenvolgende ouerskapverlof wanneer die kind gebore word of wanneer ’n aannemingsbevel toegestaan word. Iemand wat ʼn kind van jonger as twee jaar aanneem, kwalifiseer vir twee maande en tien dae se opeenvolgende verlof.

Indien daar twee aanneemouers is, is een van hulle geregtig op aannemingsverlof en die ander werknemer op ouerskapverlof van 10 dae. Dieselfde voorsiening word gemaak vir werknemers wat via ʼn surrogaat ouers word. Die Werkloosheidsversekeringsfonds sal die dekking vir die ouerskapverlof toestaan.

Die veranderinge aan die wet kom nadat Cheryllyn Dudley van die ACDP ʼn privatelede-wysiging aan die parlement voorgelê het. Dit het gekom nadat ʼn pa van Kaapstad, Hendri Terblanche, ʼn petisie by die Nasionale Raad van Provinsies ingedien het waarin hy versoek dat werkende mans se vaderskapverlof van drie dae na 10 dae verleng moet word.

Terblanche, ʼn finansiële bestuurder van Brackenfell, het die petisie op 3 Julie 2014 voorgelê. Hy het elke lid van die parlement genader en versoek dat hulle ʼn wetsontwerp saamstel om deur die Nasionale Vergadering oorweeg te word.

Terblanche se vrou, Giselle, het in November 2013 ʼn tweeling gehad. Hulle is drie maande te vroeg gebore. Een van die babas moes 139 dae lank in die hospitaal deurbring en sy boetie 79 dae.

Terblanche het aangevoer dat die drie dae gesinsverantwoordelikheidverlof wat toegestaan word, nie genoeg is in die geval van keisersneë, vroeggebore babas, siektes of ander noodgevalle nie. “Mense sê gereeld pa’s is nie by hul kinders betrokke nie,” het hy gesê.

“Met slegs drie dae se betaalde gesinsverantwoordelikheidverlof word pa’s van die begin af benadeel.” Hy het gesê wetgewing moet verander word om pa’s die geleentheid te bied om meer betrokke te kan wees.

Dudley het die bekragtiging van die wysigingswetsontwerp as ʼn “oorwinning vir families” in Suid-Afrika bestempel.

“Hierdie wetgewing bemagtig pa’s om meer teenwoordig in hul kinders se lewe te wees en sal meer deelname en verantwoordelikheid aanmoedig soos mans met hul nuwe babas ʼn band vorm. Dit is ook bemagtigend vir vroue, aangesien mans toegelaat word om in kindergeboorte, kinderversorging en ander huishoudelike verantwoordelikhede te deel.”

Dudley het gesê werkgewers wat skepties is oor die nuwe wetgewing sal binnekort ervaar wat suksesvolle internasionale maatskappye ervaar, naamlik groter produktiwiteit en lojale werkers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Inge ·

So dit geld nie net vir die pa’s nie? Hoekom ek vra is ek kon 4 maande onbetaalde verlof vat, maar met hierdie nuwe wet moet hulle dan die ma’s ook 10 dae betaalde verlof gee plus dan die res van die verlof (wat onbetaald is)?

Charlene ·

Dit is onduidelik uit al die nuusbronne, maar dit wil voorkom asof die 10 dae betaalde verlof eintlik bedoel dat hul dit van UIF sal mag eis.

Marius ·

Is julle nou nie gelukkig laat ons julle manne op die golfbaan sien.Ha Ha

Foxi ·

Ooh genade tog manne, moet asb nie nou beplan vir n baba net om daardie 10 dae te kry nie hoor. Tien dae gaan vinnig verby, maar die baba sal daar wees vir baie jare.???
En ja, dis eintlik goeie nuus vir pa’s om kraamverlof te kry.

Mel ·

As hulle goed beplan kan hulle lank af wees *skimp skimp* haha
Solank hulle onthou vand die baie jare daarna nes Foxi se.

Maari in alle erns. Ek dink dis ‘n puik beleid.

Johan H. ·

Genade nou gaan daar nog minder opgedaag word vir werk.. op die einde betaal die arme werkgewer nog meer.

zoom zoom ·

Met gewone verlof en naweke plus menslikheids verlof plus nog publieke vakansie dae plus sielverlof en dan nog nou banaberlof is SA sekerlik die mees onproduktiefste land in die wêreld.

Jannie ·

Belaglik verby, geen land kan vooruitgaan met werknemers wat by die huis sit en ń sillaris trek nie.
Ek is ń voorstaander van “no work no pay”.

ANONIEM ·

Maklik om te se as jy nog self nooit in die situasie was soos hierbo genoem deur Hendri Terblanche. Party mense kry nie net kind om by die huis te kan sit vir love en charity nie. Omstandighede verskil.

zoom zoom ·

ANONIEM.

As jy kyk na hoeveel “Jong Vrouens” kinders kry net vir die kindertoelaag dan doen hulle dit vir Charity en nie Om ‘n familie Te begin nie.

ANONIEM ·

Dis presies wat ek gese het.. Maar daar is mense wat NIE dit doen nie, wat regtig hierdie ekstra 10 dae nodig het. Dis hoekom ek gese het.. omstandighede verskil. Ek stem saam dat daar defintief mense is wat dit gaan doen om die verkeerde redes, maar daar is ook mense wat dit nodig het.

Rikus ·

Hulle kan maar gerus vir die arme pa’s betaalde verlof gee.
Die arme drommels gaan vir die volgende 25 jaar al hulle geldjies op hul kinders moet spandeer.
Nie ‘n enkele sent vir hulself nie.
Om nie te praat van al hul tyd wat hulle ook moet opoffer nie.
Nee, ek het genadiglik nie kinders nie.

Biltong ·

Gn wonder Zuma het so n gemors van die Land gemaak nie. Met al sy kinders is hy nog steeds op vakansie.

GM ·

Mens kan nie almal se situasies vergelyk met die bogenoemde man s’n nie. In sekere omstandighede word meer hulp benodig as in ander, maar ek is bly vir dié wat regtig by die huis gaan wees om te help met die baba. Dis nou uit ‘n mamma se oogpunt.

As ek uit die werkgewer se oogpunt moet kyk, is dit ‘n gemors. Hy/sy gaan mense moet betaal wat dalk by verskillende vroue kinders gaan kry, en dan groot dele van die jaar by die huis gaan sit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.