Langnaweekreise eis reeds lewe van talle motoriste

Een van die ongelukke in KwaZulu-Natal. (Foto: Arrive Alive)

Hoewel die langnaweek skaars afgeskop het, is etlike mense regoor die land dood of erg beseer in motorongelukke.

Talle provinsies het sedert Vrydag ʼn toename in verkeersvolumes gesien te danke aan nog ʼn langnaweek wat April opgelewer het. Dié benutting van die langnaweek deur vakansiehonger Suid-Afrikaners het egter plek gemaak vir talle ongelukke – sommige daarvan noodlottig.

Twee provinsies het reeds inligting oor ernstige motorongelukke bekend gemaak.

Limpopo

Die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid in Limpopo sê ses mense het Saterdag in die vroeë oggendure in twee afsonderlike ongelukke omgekom.

Die eerste motorongeluk is in die Vhembe-distrik op die N1 Noord net buite Musina aangemeld.

“ʼn Toyota-sedan het na bewering probeer om ʼn ander motor verby te steek toe dit teen ʼn aankomende bus gebots het,” sê die departement in ʼn verklaring.

“Al vier mense wat in die motor gereis het, is op slag dood.”

In ʼn afsonderlike voorval buite Giyani is nog twee mense in ʼn trompop botsing dood. Spoed word glo as die oorsaak van hierdie ongeluk aangedui.

ʼn Volkswagen en ʼn bakkie het tussen die Mapuve- en Nkuri-nedersetting gebots en tot die dood van twee van die insittendes gelei.

“Vyf mense is in die ongeluk beseer en is na die Khensani-hospitaal gehaas.”

Mavhungu Lerule-Ramakhanya, LUR van vervoer en gemeenskapsveiligheid in die provinsie, het sy meegevoel met die oorledenes se familie betuig, maar terselfde tyd motoriste gemaan om by verkeersregulasies te bly, veral oor langnaweke waar daar meer motoriste op die N1 is.

KwaZulu-Natal

(Foto: Verskaf)

Lede van ʼn KwaZulu-Natalse private ambulansdiens is Vrydagmiddag na ʼn ongelukstoneel op die R34 ontbied waarin twee motors glo gebots het.

By paramedici se aankoms het hulle vyf beseerdes aangetref. Vier van die beseerdes het ernstige beserings opgedoen, terwyl die ander geringe beserings gehad het.

Die beseerdes is op die toneel behandel voordat hulle na ʼn plaaslike hospitaal geneem is vir behandeling.

In ʼn afsonderlike voorval op die N3 net buite Camperdown is ʼn 51-jarige vrou ernstig beseer toe ʼn minibustaxi onder ʼn vragmotor ingewig is. Twee mans het met geringe beserings van die botsing afgekom.

Ross Campbell, woordvoerder van ER24, sê paramedici het teen 07:30 saam met die brandweer op die toneel opgedaag.

Die taxi was gedeeltelik onder die vragmotor ingewig, maar omstanders het reeds die erg beseerde vrou uit die wrak gehaal.

Lewensondersteunende intervensies is op haar toegepas voordat sy na ʼn hospitaal toe geneem is.

“Die twee mans met geringe beserings is ook op die toneel behandel en daarna na ʼn hospitaal geneem.”

Die polisie was op die toneel en ondersoek die saak verder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.