Langtermynskade weens drankverbod ‘enorm’

(Argieffoto: Unsplash)

Die multinasionale drankmaatskappy Distell sê byna 118 000 werksgeleenthede is reeds deur die voortgesette verbod op die verkoop van alkohol uitgewis en bankrotskap staar byna 800 klein en mediumgrootte ondernemings in die gesig.

Die regering het ʼn verbod op die verkoop van alkohol ingestel weens wat hy noem ʼn poging om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Distell het Maandag gesê syfers wys die belastingverlies weens die eerste ses weke lange verbod op drankverkope staan op R15,4 miljard. Indien die verbod nóg nege weke geld, gaan ʼn bykomende R13 miljard vir die fiskus verlore wees.

Die hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, het Vrydag aan Bloomberg gesê die land het sedert die afsonderingstydperk op 27 Maart in werking gestel is, reeds R82 miljard in belastinginkomste verloor. Die aanvanklike afsonderingstyd het tot die opskort van alle maatskaplike en ekonomiese bedrywighede, noodsaaklike dienste uitgesluit, gelei.

ʼn Verbod op die verkoop van tabakprodukte en alkohol is ook in hierdie tyd ingestel. Die verbod op die verkoop van drank is kortliks opgehef, maar toe weer oornag ingestel nadat die regering aangevoer het dit is nodig om te keer dat die gesondheidsorgstelsel oorweldig word.

Richard Rushton, Distell se uitvoerende hoof, bevraagteken nou of ʼn verbod op alkoholverkope regverdig kan word terwyl die skade wat dit berokken die voordele daarvan oorskadu en daar slimmer maniere is om dieselfde doelwit te bereik.

“Die langtermynskade gaan enorm wees. Wynplase, restaurante, glashouervervaardigers en taverne-eienaars bloei en talle gaan nie oorleef nie.”

(Foto: Distell)

Rushton sê daar is ʼn strukturele afname in uitsetkapasiteit in ʼn bedryf wat nagenoeg ʼn miljoen mense onderhou en verlede jaar verantwoordelik was vir 3% van Suid-Afrika se BBP.

Volgens Distell steun die drankbedryf nagenoeg 35 000 klein en mediumgrootte ondernemings in townships, asook meer as 180 000 ongelisensieerde drankwinkels. Elke taverne-eienaar onderhou gemiddeld sewe mense.

By gelisensieerde taverne-eienaars word nagenoeg 192 000 mense se inkomste geraak en 76 000 werksgeleenthede het reeds verlore gegaan.

Distell sê ironies genoeg straf die verbod gelisensieerde, wetsgehoorsame kroeg-eienaars, terwyl die onwettige mark floreer. Dit maak ʼn dekade lange veldtog om die sektor te formaliseer ongedaan.

“Ons verstaan die regering se plig om te verseker daar is genoeg hospitaalbeddens om te voldoen aan die verwagte behoefte tydens die kruin van die pandemie. Die ekonomiese gevolge van ʼn verbod gaan egter later waarskynlik veel meer ontberings in terme van honger en lyding veroorsaak as wat dit nou moontlik kan verhoed,” het Rushton gesê.

“Daar is alternatiewe vir ʼn volkome verbod wat ons met die regering wil bespreek. Dit hoef nie die een of die ander te wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

johanf ·

Moet ek nou glo dat nie een in die parlement, nie rook of nie ń drankie geniet nie, Bog….!
Daarom besef hulle nie deur wat die Restaurant, Tavernes, Kroeë, Wynprodusente ens gaan nie….

Nie Verbaas ·

As hospitale gedurende die nuttelose ANC regering se bewind behoorlik onderhou was en personeel hulle werk oordentlik gedoen het sou geen verbod op alkohol nodig gewees het nie. Hospitale funksioneer vir jare al nie meer behoorlik nie. Die burgers betaal nou vir ANC se patetiese bewind en die land se fiskus ly enorme skade. Wat gee hulle wat besluite neem om? Hulle sakkies is mos vol “swaarverdiende” geld. Die narre staat stoom voort.

Pieter ·

So gaan dit as jy nie graad een op skool klaar gemaak het nie

AndréS ·

Gaan kyk maar wie is in beheer vd onwettige drank en tabakverkope ……

Johann ·

Ai tog mense. Ons kan al die somme en statistieke en feite en logika tussen hier en die maan aanhaal,die ANC weet presies wat hulle doen…die ekonimie verwoes en plunder terwyl hulle n virus het wat 26 jaar se geheul ontbloot, as verskoning.

Hulle skep anargie en ‘n staat van afhanklikheid, bepland en doelgerig. Dis nie asof Ramaposa en sy Kopdoek Kaders die dag voor die uitbreek van die chaos eerlik was nie? Hulle lieg bloot net nou onder n nuwe faandel van hulle “people”. Ergste is, hulle “people” word in der duisende blootgestel aan ‘n afspraak met iets tussen die dood en onherstelbare sosio ekonomiese vergruising…maar die massas hardoop agter n T shirt en kospakkie en R350 aan en hou die konings op hul trone!

Co ·

Baie goed gestel! Die anc het ‘n baie groot politiese agenda wat hieragter sit! Ek glo ook glad nie meer hulle daaglikse verslae mbt die nuwe virus gevalle (baie hoog) en sterftes (baie laag) Hulle gaan die syfers gebruik om voortegee dat hulle die sterftes in toom kon hou, en dat hul NHI plan ‘n blink idee is en dat dit ge-iplimenteer moet en kan word! Glo niks wat die klomp se nie!!

Persheks Adri ·

Hoekom gaan hulle worry as hulle so verslaaf is aan korrupsie en geld maak? Als is ‘n mag speletjie vir hulle nes hulle ons soos voëls toe sluit. Baba op die rug sindroom al WEER, want hulle kyk nie verder nie!!!

Renee ·

118000.00Distell werknemers en 192000.00 mense wat hulle werkverloor het as gevolg van die regerings se magsbehep. Hoeveel kinders en huisgesinne gaan hongerslaap of het geen heenkome nie. Ek wens die regering wil ophou om hulle self te veryk en meer na die nasie omsien

Piet ·

Ek stem saam met Andre oor wie die sigaret se onwettigheid bedryf, naamlik baie hooggeplaastes in die regering en haar seun, Dieselfde in die drankbedryf. Hulle wil die maatskappye op hul kniee dwing en sodoende die monopolie bekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.