Langverwagte Panayiotou-moordverhoor begin

Costa Panayiotou ondersteun sy seun Christopher tydens 'n vorige verskyning in die hof. Foto: ANA

Costa Panayiotou ondersteun sy seun Christopher tydens ‘n vorige verskyning in die hof. Foto: ANA

Die langverwagte moordverhoor van die sakeman Christopher Panayiotou en die mans wat hy na bewering gehuur het om sy vrou, die onderwyseres Jayde Panayiotou, te vermoor, begin Dinsdag in die Port Elizabeth-hooggeregshof.

Byna twee maande sal nodig wees vir die verhoor wat deur regter Dayalin Chetty aangehoor word.

Panayiotou word deur Alwyn Griebenow en adv. Terry Price verteenwoordig. Sy twee medebeskuldigdes, Sinethembe Nenembe en Zolani Sibeko, word deur adv. Peter Daubermann verteenwoordig.

Die man wat na bewering die sneller getrek het, Sizwezakhe Vumazonke, is vroeër vanjaar in aanhouding dood. Die oorsaak van sy dood is steeds nie bevestig nie, maar gerugte doen die ronde dat hy moontlik vergiftig is. Die staat wag steeds op ʼn toksikologieverslag.

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein agter die ontvoering van en moord op sy vrou in April verlede jaar was. Die staat voer aan hy het Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om Vumazonke as sluipmoordenaar te huur om Jayde te ontvoer en vermoor.

Nenembe het Vumazonke glo bygestaan om die vermeende sluipmoord uit te voer. Sibeko is in Julie in hegtenis geneem nadat die polisie-ondersoek bepaal het Sibeko kan deur sy selfoon verbind word met die huis waar Jayde ontvoer is.

Siyoni het intussen ʼn staatsgetuie geword. Hy is kwytgeskeld van vervolging indien die hof tevrede is dat hy eerlik getuig.

Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, roof met verswarende omstandighede, ontvoering, moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Panayiotou staan tereg op ʼn bykomende aanklag van dwarsboming van die gereg.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Uvonka ·

Die CP saak gaan ontaard in die selfde sirkus as die OP saak.

Denker ·

Uvonka, dit is mense wat sulke negatiewe denke het soos jy wat veroorsaak dat sake soos die verkeerd loop. OP saak was totaal anders as die van CP. Oscar het nooit beplan om sy meisie dood te maak nie. Costa het vir weke indien langer, planne gemaak hoe hy sy meisie gaan vermoor. So hoe jy hierdie twee sake met mekaar vergelyk sal net jy weet!

Agnee ·

Agnee regtig Denker, hoe kan iemand se opinie op ‘n artikel nou ‘n saak laat verkeerd loop? Hier is mos regspersone by betrokke wat onpartydig moet wees? Hoe weet jy Oscar het nie beplan om sy meisie te vermoor nie? Mense jok vreeslik as hulle tronkstraf in die oë staar. Moord bly moord, dit kan maar met mekaar vergelyk word, dit is wat die regslui doen, lees vir maande sake op oor ander moorde .. niks ongewoons nie. Dewani het ook geloop, terwyl hy ook sy vrou se dood beplan het .. hang maar net af hoeveel getuies daar was en hoeveel bewyse ..

Karma ·

@Denker, miskien moet jy bietjie gaan nadink …. Wie is Costa? Ek dog die aangeklaagde se naam is Christopher Panayiotou? En watter ‘meisie’ praat jy van – was Jayde dan nie met Panayiotou getroud nie, wat hom haar MAN sou maak nie?

Anoniem ·

Denker ek dink jy moet wakker skrik uit jou droom of is dit denk wereld. Oscar het op die ingewing van die oomblik sy plan gemaak. Denk voort en hou dit liewer vir jou self asb.

Uvonka ·

Dankie Denker. Dit is hoe ek dit sien, respekteer my opinie soos ek joune sou. En dit is Christopher nie Costa nie. Ons regsstelsel is genoeg om enige iemand negatief te maak, maar as jy positief is, good for you!!!!

Uvonka ·

Dankie Denker! Dat een mens se negatiwiteit so ‘n moewiese groot saak verkeerd kan laat loop is nogal scary. Dit is hoe ek dit sien, respekteer my opinie soos jy sou verwag het ek joune moet respektee. My vergelyking was eintlik meer oor ons regsstelsel. Groete

M'Lady ·

Nou hoekom word die verhoor nie uitgesaai nie? Wat het Oscar se saak so spesiaal gemaak dat hy voor die hele wereld gekruisig is omdat dit in n media sirkus ontaard het?

Dolfyn ·

Denker net een ietsie – Christopher het nie beplan om sy meisie dood te maak nie maar wel sy VROU. En dan sommer vir die rekord – ek het ook ‘n baie sterk gevoel dat hy (Christopher) die “meesterbrein” agter Jayde se moord was. En ja ongelukkig sal hy maar sy straf moet vat vir wat hy gedoen het. Dit kom ons as mens nie toe om te oordeel nie, maar ja wat hy gedoen het is VERKEERD en hy het ‘n onskuldige mooi mens se lewe laat kort knip. Al die pyn en verlange wat haar familie en vriende mee moet saamleef! Ek hoop die waarheid kom gou uit en dat hy sy nodige straf sal uitdien.

Piet ·

Dolfyn, die nodige straf vir moord word nooit in SA uitgedien nie. Jammer dat ek nou jou bubble moet bars.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.