Lanseria kan nou ook vlugte hervat

Fikile Mbalula, minister van vervoer, gedurende Saterdagmiddag se mediakonferensie. (Foto: Kopano Tlape, GCIS)

Fikile Mbalula, minster van vervoer, het Saterdag aangekondig dat die Lanseria-lughawe, noord van Johannesburg, nou gereed is om ʼn beperkte aantal vlugte te hervat.

Binnelandse vlugte vir sakedoeleindes word op vlak 3 van die afsonderingsregulasies toegelaat, maar tot dusver is nog net die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg, die Kaapstadse Internasionale Lughawe en King Shaka Internasionale Lughawe in Durban oopgestel.

“Die Lanseria-lughawe lewer ʼn belangrike bydrae tot lugvervoer in Johannesburg en vervoer jaarliks gemiddeld 2,4 miljoen passasiers. Daarom was dit vir ons belangrik dat dié lughawe so vinnig moontlik oopgestel word,” het Mbalula tydens ʼn mediakonferensie gesê. “Ná ʼn inspeksie deur die departement het ons vasgestel dat dié lughawe aan al die nodige maatreëls voldoen om te verseker dat vlugte kan voortgaan met die minimum risiko vir verspreiding van Covid-19,” sê Mbalula.

Hy sê die departement sal nou sy fokus na die Krugerwildtuin Internasionale Lughawe, die Bram Fischer Internasionale Lughawe in Bloemfontein en die Polokwane Internasionale Lughawe in Limpopo verskuif, met die doel om dié lughawens so gou moontlik oop te stel. “Ons sal ook die lughawens in Port Elizabeth en George prioritiseer.”

Maroela Media het vroeër berig dat streng maatreëls op lughawens sal geld om die verspreiding van Covid-19 te voorkom. Dit sluit in dat slegs passasiers in lughawegeboue toegelaat word, dat passasiers se temperatuur gemeet word voor hulle die gebou betree en dat merkers op vloere aangebring word om te verseker dat passasiers sosiale afstand behou.

“Ons is ook tans besig om ʼn stelsel by alle lughawens te implementeer wat dit sal moontlik maak vir passasiers om in te boek sonder om met enigiemand kontak te maak,” sê Mbalula.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Daar was eens op ‘n tyd n kinderprogram op TV met die titel DOFFEL BABBEL EN BEKI…needI say more?

Die Wolf ·

Ek wonder nou wat se stelsel dit gaan wees Orals op lughawens is daar fasiliteite waar jy jou inboek kan doen sonder om by die toonbanke te gaan staan.Kan jou instap kaartjie ook op internet kry. Dit sal seker vir die bagasie geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.