‘Lardies’ rou ná ongeluk leerling eis

Sharlon Aphane (9), ‘n graad 3-leerder aan die Laerskool Elarduspark in Pretoria. (Foto: Facebook)

“Rus sag prinses.”

Só het die Laerskool Elarduspark in Pretoria op sy Facebook-blad geskryf nadat Sharlon Aphane (9), ʼn graad 3-leerder aan die skool, Dinsdag ná ʼn motorongeluk gesterf het.

Aphane en haar ma, Maria, het omstreeks 13:00 huis toe gestap. ʼn Motor het die dogtertjie getref toe die twee die Delmas-pad, by die oorgang met Barnardstraat, oorgesteek het.

Casper Visser, woordvoerder van Volunteer Emergency Medical Response Unit (VEMRU), het gesê die kind was in ʼn bedenklike toestand toe hy op die toneel aangekom het. Nadat sy gestabiliseer is, is daar aanvanklik besluit om haar met ʼn helikopter na ʼn hospitaal te vlieg.

Sharlon se skoolmaats lê vir haar blomme neer.

Sy het kort daarna weer geen tekens van lewe getoon nie, is bygebring en inderhaas met ʼn ambulans na die Steve Biko Akademiese- hospitaal geneem, het Visser gesê.

Sy het ʼn paar uur later gesterf.

Toy Human, hoof van die Laerskool Elarduspark, het gesê Aphane was ʼn geliefde en gewilde kind.

“Ons sal vir ewig haar vriendelike gesiggie onthou en koester,” het die skool op Facebook geskryf.

Haar skoolmaats het Woensdag ook blomme by die skool neergelê ter herinnering aan haar.

Volgens Human doen die skool alles moontlik om Aphane se ma by te staan. Hulle het ook reeds ʼn hulpfonds op die been gebring om Maria Aphane met enige onmiddellike behoeftes te help.

Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Sandra ·

Sjoe so jammer om te moet lees van die dogtertjie se dood. Daardie pad is uiters gevaarlik en mense jaag om nie by die verkeerslig ‘gevang’ te word nie. Innige simpatie aan haar ouers en maatjies.

KaterinaKat ·

My innige meegevoel aan Maria Aphane. Bitter bitter hartseer.

Santie ·

Ai dit is so hartseer. Rus Sag mooie meisie. Innige Simpatie aan geliefdes.

Griet ·

So jammer oor die tragiese afsterwe van die kleine Aphane. Mag God haar mamma, familie en maatjies troos.

Annie ·

Ai liefie .. mamma baie sterkte en jammer dat iemand anders net nie genoeg omgegee het vir jou engel lyfie nie.. ek bid vir jou dat ons Vader Sy arms styf om jou sal hou en jou krag sal gee.

Helena. ·

Baie jammer..my innige meegevoel aan ouers, maatjies en almal wat haar geken het. So vreeslik, sys nog net n baba in dié lewe. Rus sag kindjie.

Gogo ·

Dear Maria
Please accept my deepest condolences with the death of your little girl, Sharlon. May God give you peace and know that I will keep you in my prayers.
RIP Sharlon!

Adel ·

Ai dit is bitter hartseer, RIV kleine meisie. Sterkte aan haar mamma, wonder net wat het van die bestuurder van die voertuig geword?

e ·

Het hulle darem die betuurder gekry. Sommer baie van hulle jaag net weg. Maar ek stem saam die gelê op die negende rugwerwel is nie goed nie. Geen mens kan so goed sien nie.

CK ·

Dis bitter hartseer. Sterkte aan haar gesin, familie en vriende.
Ek sien selfs in ons dorp hoe verontagsaam die mense stop-strate, dan wonder ek by myself, wat sal jy doen as jy die oorsaak moet wees van iemand se dood. Hoe kan mens so gesentreerd wees om net aanjouself te dink.

Melodie Veldhuizen ·

Dis so hartseer en onnodig. My hart gaan uit na haar mamma en almal wat haar liefhet, insluitend haar maats en Lardies se personeel. Ek wonder waarom word daar nêrens melding gemaak van die motorbestuurder nie. Het hy weggejaag of darem op die toneel vertoef? Was dit ‘n geval van nalatige of roekelose bestuur en gaan die persoon vervolg word? Wonder maar net.

Pieter ·

Ons innige simpatie en meegevoel aan die familie. Dit moes nooit gebeur het nie. Ek wil net vra of iemand dalk weet hoekom sy nie na Kloof hosp baie nader aan waar die ongeluk was geneem is nie?

JohanL ·

Pieter – presies wat ek ook wou vra?

Al het sy nie medies gehad nie, was dit duidelik ‘n krisis- en noodgeval en moes sy na Kloof geneem word, wat 1-2 km van toneel is. Daarna sou sy na staatshospitaal oorgeplaas kon word as sy nie medies gehad het nie.

Ek sou hoop MM volg op want dit is ‘n beginselsaak wat baie mense kan raak wat of nie medies het nie of medies waar hulle aan sekere sg “Netwerk”-hospitale gebind word.

Catherine ·

So pragtig.
Net Jesus kan n hartseer mama vertroosting bied met die wete.
Sy is veilig by die Here.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.