Lasbrief gevra vir as Poetin voete in SA sou sit

Die Russiese president, Wladimir Poetin, tydens ‘n vorige Brics-beraad. (Foto: Kopano Tlape GCIS

Die Suid-Afrikaanse regering het ingestem dat die Russiese president, Vladimir Poetin, in hegtenis geneem sal word indien hy sy voete in Suid-Afrika sou sit.

Dit kom nadat die Internasionale Strafhof in Maart ʼn lasbrief vir Poetin se inhegtenisneming uitgereik het vir beweerde oorlogsmisdade tydens Rusland se inval van Oekraïne.

Die DA was Vrydag in die Johannesburgse hooggeregshof vir ʼn aansoek om die regering te dwing om hom tot Poetin se inhegtenisneming te verbind – sou hy ooit na Suid-Afrika kom.

Poetin sou na verwagting volgende maand die Brics-beraad in Suid-Afrika bywoon, wat ʼn tameletjie vir die regering geskep het. Die presidensie het egter Donderdag aangekondig dat daar besluit is dat Poetin die beraad nie in persoon gaan bywoon nie.

Die departement van justisie sal die koste vir die hofaansoek betaal.

“Danksy die DA se volgehoue politieke en regsdruk om die nakom van ons land se internasionale verpligtinge te verseker, het die regering formeel die proses begin om pres. Poetin in hegtenis te neem indien hy sy voete hier sou sit,” sê John Steenhuisen, leier van die DA.

“Ten spyte van pres. Cyril Ramaphosa se beste pogings om Poetin te beskerm teen aanspreeklikheid vir sy beweerde oorlogsmisdade – insluitend deur sy absurde bewering dat die Suid-Afrikaanse Grondwet hom op een of ander manier verbied het om aan die Strafhof se voorskrif te voldoen – is dit nou duidelik dat die DA se verbintenis tot geregtigheid en die oppergesag van die reg heeltemal geregverdig is.

“Die departement van justisie se versoek dat [adv. Shamila] Batohi [nasionale direkteur van openbare vervolging] ʼn lasbrief vir Poetin se inhegtenisneming uitreik, weerspreek Ramaphosa direk.”

Maroela Media het vroeër berig Poetin het besluit om nie die komende Brics-beraad in Johannesburg by te woon nie, omdat hy nie die belangrike kwessies wat bespreek gaan word “op die spel wil plaas” nie, het ʼn hooggeplaaste Suid-Afrikaanse diplomaat Donderdag gesê.

Anil Sooklal, Suid-Afrika se Brics-ambassadeur, het gesê ʼn “gesamentlike besluit” is geneem dat Poetin eerder aanlyn by die gesprekke sal inskakel.

“Pres. Poetin het begrip vir die dilemma wat Suid-Afrika in die gesig staar. Hy wil nie die beraad op die spel plaas nie. Hy wil nie probleme skep vir Suid-Afrika nie,” het Sooklal tydens ʼn mediakonferensie in Johannesburg gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Chris dupreez ·

Ja Piet, snaakse dinge gebeur skielik voor die komende verkiesing

Treurwilger ·

Suid-Afrikaners word daagliks beroof van lewens, besittings en dienste, maar opposisie politici is behep met Poetin en gebeure in die buiteland.
Kry julle prioriteite reg.
Waar was die oorywerigheid toe Assad die president van Sirië in SA was onder soortgelyke omstredenheid?

007 ·

Jy weet nie waarvan jy praat nie. Hy is middernag van Waterkloof af gevlieg. Met behulp van jou kaders.

wildtuin ·

ek stem saam met jou. Die Amrerikaanse neocons , die politieke- en die besigheids liberale elite,
globaliste , wat die hele wêreld wil domineer is nog meer verantwoordelik vir die hartseer in Oekraine. Dit sien Steenhuisen natuurlik nie raaak nie.

Hans ·

Ek kan net saamstem met jou opinie. DA sal NOOIT my stem kry nie. Belaglike politieke korrekte party wat hul koloniale meester, VK, se wil uitvoer. DA is stremming op SA en is deel van korrupte ANC regering.

SwartBees ·

Dit nadat Putin nie kom nie….bwhaaahahahaha. Ons bly al te lekker in die sirkus tent.

Treurwilger ·

Dit is m.a.w. die voordele van goeie verhoudings met die VSA en Weste wat die inhegtenisneming dryf, eerder as die werklike afsku in ‘oorlogsmisdade’ , soos dié van Assad destyds in Sirië.

Althes ·

ANC regering weet hy sal nie inkom nie. Tensy hy met vervalste dokumente en voorkoms inkom.

annie ·

Hoe belaglik kan mens wees. John en sy entourage is ‘n spul roadrunners oppad na niks.

Hans ·

Belaglike lasbrief. Die IKH is belaglike hof en daar is geen rede waarom SA nog deel van Roomse Statuut behoort te wees nie. Geen ander SADEC land is deel van hierdie belaglike koloniale hof nie.

Tante Toekie ·

Rusland het seker aangedui dat hulle Zuma gaan uitlewer, seker die rede vir die skielike U-draai. Hoop net nie hy is Rusland toe om te gaan stort nie.

Christo ·

Nou dat hy nie meer kom nie nou sê stem hulle in. Ek is beryd om groot geld te sit op as hy sê hy kom is daar weer baie stories. Die rigering is’n joke!

Jacques ·

Ag hierdie obsessie om Putin te arresteer maak my siek. DA wys duidelik wie betaal hulle.

HPJ ·

Die is n bewys die DA is besig om te kruip voor die Weste Die DA sal SA afbrand net sodat hulle beheer kan kry en oor die As regeer Steenhuis is geen leier nie Hy kan net kla en kerm

KatjieDeKat ·

Ag jaaa DA, hou nou maar op met jul gekef soos n besete Chihuahua. Mnr Putin kom nie hierheen nie. Gaan lê nou maar in jul ou doggy bedjie siestog.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die DA moet begin praat as die DA, nie wag vir NAVO se opdragte.

Jaco ·

Ek sukkel al jare, ja jare, met dieselfde DA met hulle “skoon regering” en “the DA delivers” in die stad Kaapstad, net om ‘n paar onwettige huiswinkels en ‘n paar plakkershuisies in my buurt toe te maak en te verwyder. Die resultaat: totale stilte of simpel resensies dat hulle niks kan doen nie as gevolg van “menseregte”. Maar dieselfde DA wou vir Putin in hegtenis neem…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.