Die verhoor van die vermeende leier van ʼn perlemoen-sindikaat en sy medebeskuldigdes sou Dinsdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth begin, maar kon nie voortgaan nie aangesien een van die beskuldigdes nie by die hof opgedaag het nie.
Julian Brown (32), die vermeende meesterbrein agter die sindikaat, staan tereg op ʼn string aanklagte waaronder die onwettige besit van perlemoen, rampokkery en bedrog.
Brown staan tereg saam met Eugene Victor (33) en Brandon Turner (38). Victor, wat vroeër op borgtog vrygelaat is, het nie Dinsdag by die hof opgedaag nie en ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik.
Volgens die klagstaat staan Brown op ʼn bykomende klag van geldwassery tereg rakende die aankoop van ʼn luukse voertuig.
Die staat voer aan Brown het in September 2015 ʼn tweedehandse motorhandelaar in Fourways besoek waar hy sy belangstelling in ʼn wit Ferrari California ter waarde van R1,9 miljoen te kenne gegee het.
Brown het toe glo ene Martin Kriel genader en hom gevra om die Ferrari te koop en in sy naam te registreer. Brown het glo R502 000 in kontant vir Kriel gegee om die transaksie aan te gaan en ingestem om die maandelikse paaiemente in kontant aan Kriel te betaal.
Kriel het die Ferrari in Oktober 2015 gekoop en die voertuig is in sy naam geregistreer. Die Ferrari is by Kriel se huis afgelewer waar Brown dit later kom haal het. Die staat voer aan dat die R502 000 die opbrengs van onwettige perlemoenstropery was.
Die verdagtes word met die bestuur en bedryf van ʼn onwettige perlemoenverwerkingsaanleg verbind. In die klagstaat word die aard van die onderneming uiteengesit, wat na bewering die verpakking, droging, sout, vries en verwerking van perlemoen vir verkoop buite Suid-Afrika ingesluit het.
Die bedrywighede het glo in Nelson Mandelabaai plaasgevind. Brown beweer hy het sy geld verdien uit die verkoop van skrootmetaal en tweedehandse motors voordat hy ʼn konstruksiemaatskappy begin het.
Die saak gaan Woensdag voort.
gee hulle die swaarste straf wat opgele kan word. Almal weet dis onwettig maar hulle is net so sleg soos ander plunderaars en verwoesters.