Lasbrief vir Dramat se inhegtenisneming uitgereik

Lt.Genl. Anwa Dramat Foto: Diana Neille, ENCA

Lt.Genl. Anwa Dramat Foto: Diana Neille, ENCA

Die Pretoriase landdroshof het ʼn lasbrief vir inhegtenisneming uitgereik vir Anwa Dramat, voormalige hoof van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) nadat hy versuim het om Vrydag by die hof op te daag.

Dramat en sy medebeskuldigdes, die geskorste hoof van die Valke in Gauteng, genl.maj. Shadrack Sibiya en kol. Lesley Maluleke, ook van die Valke, moes voor landdros Lydia Painter verskyn het op vier aanklagte van ontvoering, twee van dwarsboming van die gereg en een aanklag van die oortreding van die Wet op Immigrasie.

Dramat het egter nie by die hof opgedaag nie en die landdros het beslis dat ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik moet word, maar teruggehou moet word tot die volgende datum wanneer hy weer in die hof moet verskyn en hy dan ʼn verduideliking kan bied waarom hy nie in die hof was nie.

Die saak is tot 30 September uitgestel sodat Sibiya en Maluleke reaksie kan kry oor hul aansoek vir finansiële bystand van die minister van polisie. ʼn Soortgelyke aansoek deur Dramat is vroeër goedgekeur.

Victor Nkwhashu, prokureur vir die verdediging wat instaan vir al drie beskuldigdes se regsverteenwoordigers, het gesê Dramat kon nie die hofverrigtinge bywoon nie, omdat hy ʼn onnodige uitgawe wou verhoed deur van Gauteng na Kaapstad, waar hy woon, te reis slegs vir ʼn kort uitstel.

Nkhwashu het ʼn beroep gedoen op polisieminister Nathi Nhleko om Sibiya en Maluleke se aansoeke vir finansiële bystand te bespoedig, sodat die saak so gou as moontlik aangehoor kan word.

Daar word beweer dat Dramat en sy medebeskuldigdes betrokke was in die inhegtenisneming van Zimbabwiese immigrante en die gevolglike onwettige uitlewering van hulle aan dié land aan die einde van 2010 en die begin van 2011.

Staatsaanklaer George Baloyi het die hof versoek om die saak tot September uit te stel met die verwagting dat die aansoek om finansiële bystand in daardie stadium opgelos sal wees.

Die drie beskuldigdes is vrygelaat op borgtog van R5 000. ʼn Datum vir die saak om in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor te word, is reeds bepaal vir 10 Oktober tot vroeg in Desember.

Lees alle vorige berigte oor Anwa Dramat op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nita ·

Ek ruik n rot. Wat is die storie agter hierdie storie? Waarom het die Valke dit nodig gevind om die Zimbabwiers so vinnig en so dringend land uit te kry? Gaan daar ooit n hofsaak wees sodat Jan Publiek sal hoor wat gebeur het? Of gaan n klomp geskorste mense vol salaris vir jare kry en dan word hulle stil-stil na ander departemente oorgeplaas met verhogings en meer byvoordele.

KP ·

Verstaan nie kan iemand asb verduidelik. Lasbrief vir inhegtenisneem word uitgereik maar dit moet teruggehou word tot volgende verskyning.

Piet Snot ·

Standaardpraktyk, KP.
Jy kan nie die beskuldigde toelaat om net weg te bly nie. Die hof weet aan die ander kant egter nie of die man ‘n goeie rede het waarom hy nie opgedaag het nie. Daag hy vlg keer op en gee ‘n aanvaarbare verduideliking, word die lasbrief bloot gekanselleer. Daag hy nie op nie, word uitvoering vd lasbrief gemagtig.
Daag hy op en gee ‘n onaanvaarbare verduideliking (soos in dié geval), word hy weens minagting gevonnis en die oorspronklike saak gaan voort.

jaco ·

so dis reg dat onwettige immigrante hier bly en bly en bly en dis heeltemal verkeerd en krimineel om hulle na hulle lande van herkoms te deporteer…
die buitelanders waarvan 95% onwettig in SA is, sien daar word niks aan hulle gedoen nie en moedig net nog van hulle familie en vriende aan om ook te kom
iewers gaan n bom eendag bars en dan gaan niemand weet wat om te doen nie, want dit was dan altyd verkeerd om hulle te deporteer

CHRISTA ·

Die ergste vir my is dat die Valke wat so onkapabel is die Skerpioene, wat die beste ondersoekspan is wat ons land nog ooit gehad het, vervang het!! Ek dink dis met opset deur die ANC gedoen omdat die Skerpioene te na aan ongeruimehede wat deur die ANC gepleeg was gekom het!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.