Lasbrief vir inhegtenisneming vir helikopterverkoper uitgereik

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Lasbrief is uitgereik vir die onmiddellike inhegtenisneming van Barend Hendrik Oberholzer (33), ʼn sakeman van die Paarl in die Wes-Kaap, in verband met aanklagte van bedrog ná die verkope van twee helikopters.

Oberholzer moes Donderdag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Bellville verskyn het om te pleit op die aanklagte teen hom, maar was afwesig toe landdros Juan Agulhas sy naam geroep het.

Sy prokureur, Chris Briston, het aan landdros Sabrina Sonnenberg gesê hy kon nie met Oberholzer kontak maak nie.

Sy verhoor, wat vir twee dae geskeduleer is, moes Donderdag begin het.

Sonnenberg het verklaar Oberholzer se borgtog van R50 000 wat vroeër toegeken is, is aan die staat verbeur. Die saak is tot 14 Julie uitgestel.

Indien Oberholzer weer afwesig is tydens sy volgende verhoor, sal sy borgtog finaal verbeur word.

Die vervolgingsgesag het verlede jaar twee keer ʼn versoek deur Oberholzer se vorige prokureur, Cornelius Smit, dat die aanklagte teruggetrek moet word, verwerp.

Oberholzer staan tereg op minstens vyf aanklagte, twee van bedrog wat met die verkope van helikopters verband hou, en een van roekelose handeldryf in oortreding van die Wet op Maatskappye.

Hy staan ook tereg op ʼn vierde aanklag nadat hy glo die Wet op Finansiële Adviseurs en Tussengangers oortree het. Die vyfde aanklag hou verband met die oortreding van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.

Die staat voer aan Oberholzer het ʼn 2008-model Robinson 44 Raven 2-helikopter aan ʼn paartjie verkoop vir R3,1 miljoen, maar het ʼn ouer model met aansienlik meer vlugure, afgelewer. Die transaksie het tussen Junie 2010 en Mei 2011 plaasgevind.

Die staat voer ook aan hy het ʼn soortgelyke helikopter vir R2,6 miljoen verkoop, hierdie keer aan die Benaja Trust. ʼn Deposito van R265 000 is betaal en die geld moes in ʼn trust gehou word, en terugbetaal word indien die trust nie finansiering vir die helikopter kon bekom nie. Die transaksie het nie gerealiseer nie. Volgens die staat is die deposito egter na bewering nie in ʼn trust gehou nie, en Oberholzer kon gevolglik glo slegs R140 000 van die deposito terugbetaal.

Hy het na bewering die R125 000 balans vir sy persoonlike uitgawes gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.