Lasbrief vir oud-Proteaspeler uitgereik

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Lasbrief is uitgereik vir die inhegtenisneming van ʼn voormalige Proteas-krieketspeler wat van aanranding aangekla word.

Die lasbrief is uitgereik nadat Thami Tsolekile (35) nie Woensdag vir sy hofsaak opgedaag het nie. Tsolekile moes in die Goodwood-landdroshof in Kaapstad voor landdros Sean Lea verskyn, maar was nie teenwoordig toe sy saak deur adv. Moosa Adonis, die staatsaanklaer, geroep is nie.

Die hof het, op versoek van adv. Mafu Masina vir die verdediging, ingestem om die uitvoering van die lasbrief op te skort tot 20 Januarie 2017. Indien Tsolekile weer nie in Januarie vir sy hofsaak opdaag nie, sal die lasbrief uitgevoer en hy in hegtenis geneem word.

Maroela Media het vroeër berig Tsolekile het in September na bewering ʼn seun (14) by sy skool, Pinelands High School, aangerand. Die seun en sy vriende het glo buite die skool “rondgespeel” en op verbygaande voertuie geskree. Die seun beweer Tsolekile het glo stilgehou en hom aangerand, voordat hy hom in sy motor gedwing en ʼn paar minute met hom rondgery en weer geklap het.

Die krieketspeler het egter die aantygings ontken. Hy het gesê hy was saam met sy kinders en het die seun na sy hoërskool geneem om daar oor hom te kla, aangesien die seun hom glo gevloek en klippies na sy motor gegooi het.

Die saak is tydens Tsolekile se vorige hofverskyning in Oktober uitgestel omdat gewag word op ʼn geskrewe voorlegging aan die Wes-Kaapse direktoraat vir openbare vervolging om te versoek dat die aanklag teruggetrek word. Geen aanduiding is vandag gegee wat die besluit hieroor was nie.

Tsolekile, ʼn voormalige paaltjiewagter vir die Proteas en kaptein van die Highveld Lions, is in Augustus vanjaar saam drie ander spelers vir 12 jaar deur Krieket Suid-Afrika geskors weens wedstrydknoeiery tydens die Ram Slam 2015-toernooi.

Lees alle vorige berigte oor Thami Tsolekile op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cacophony ·

Moet lag. Voordat mense geweet het wie hy was was daar hordes kommentare ter ondersteuning van die krieketspeler. Oorgrote meerderheid van die kommentare het hom ondersteun en die kind sleg gesê. Nou net mooi niks. Moet wonder hoekom dan nou so?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.