Lasbrief vir radio-omroeper se man uitgereik

Dimakatso Ratselane (Foto: Lesedi FM)

ʼn Lasbrief is uitgereik vir die inhegtenisneming van ʼn radio-omroeper van Lesedi FM se man, nadat eersgenoemde herhaaldelik met ʼn mes gesteek is.

Dimakatso Ratselane veg om haar lewe in die hospitaal nadat sy Woensdagaand verskeie meswonde opgedoen het. Die polisie het Maandag in ʼn verklaring gesê hulle beskou MacKenzie Ratselane as ʼn voortvlugtige, nadat hulle sedert die aanval verskeie kere tevergeefs probeer het om met hom in verbinding te tree.

Maroela Media het berig Dimakatso en haar man was Woensdagaand van hul huis in Mandela View in Bloemfontein op pad na Phase 2 om hul kinders te gaan haal. Hulle het op pad glo begin stry en by die informele nedersetting Dinaweng uitgekom. Lede van die gemeenskap en vriende het Dimakatso omstreeks middernag in ʼn kritieke toestand naby Bra-White’s Tavern gevind. Sy het erg gebloei.

“Volgens die voorlopige ondersoek is [MacKenzie] die laaste persoon wat met [Dimakatso] kontak gehad het voordat sy hierdie beserings opgedoen het,” lui die polisie se verklaring. “Daarom glo ons dat hy aangekla kan word van poging tot moord. Hy sal deur enige polisiebeampte binne of buite die Suid-Afrikaanse grens as ʼn voortvlugtige hanteer word.”

Die polisie versoek enigiemand wat met MacKenzie in aanraking kom om kapt. Paseka Kojaki by 082 553 7639 in te lig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.