Lasbrief vir Thandi Modise se inhegtenisname uitgereik

Thandi Modise, speaker van die parlement. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Thandi Modise, voormalige voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies en tans speaker van die Nasionale Raad, het versuim om Dinsdag in die Potchefstroom-streekshof te verskyn op aanklagte van dieremishandeling. ’n Lasbrief vir haar inhegtenisname is uitgereik hangende haar verskyning in die hof op 31 Maart 2020.

Dit volg na die burgerregte-organisasie AfriForum se privaatvervolgingseenheid verlede jaar aangekondig het dat hulle Modise namens die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) privaat gaan vervolg.

Nadat Modise nie vir die hofsaak opgedaag het nie, het haar regsverteenwoordiger aangevoer dat sy deur pres. Cyril Ramaphosa aangesê is om die Covid-19-pandemie te help bestuur. Die landdros het redes versoek waarom Modise nie haar pligte kon delegeer of die president kon meedeel dat sy op ernstige aanklagte in die hof moet verskyn nie.

Die saak gaan 31 Maart weer in die hof aangehoor word. Andrew Leask, hoofondersoeker van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het gesê Modise gaan dan haar afwesigheid in die hof moet verduidelik.

“Dit is vir AfriForum onaanvaarbaar dat Modise nie vandag in die hof verskyn het nie en bloot aanvoer dat die rede vir haar versuim vanweë haar amp is. Niemand is bo die reg verhewe nie, nie eers die speaker van die Nasionale Vergadering nie,” het Leask gesê.

Leask sê hulle wil geregtigheid laat geskied en Modise moet verantwoording doen vir die wrede geval van dieremishandeling.

Maroela Media het vroeër berig die NDBV het in Julie 2014 ’n klagte ontvang van een van die wreedste gevalle van dieremishandeling wat die welsynsorganisasie nóg teëgekom het.

Grace de Lange, bestuurder van die NDBV se plaasdierebeskermingseenheid, het gesê Modise se plaas was besaai met karkasse van meer as 50 varke en ander dooie diere soos ganse, eende, skape en bokke.

Die oorlewende diere, waaronder varke, skape, hoenders en bokke, is sonder kos en water gelaat en was in ’n haglike toestand. Die NDBV moes 162 diere weens die haglike omstandighede van kant maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Piet parys ·

5 tot 6 jaar gelede en sy word nou eers aangekla . N geval van fat cats wat rondloop want hulle is onaantasbaar . Of moet ek eerder se dik en oorvreet van al die gesit en vreet in die parlement

Magda ·

As dit nie vir Agriforum was nie, sou sy daarmee weg gekom het – Ja enige verskoning sal sy gebruik. Hoe wil sy in elk geval help met die Covid19 pandemie as sy nie eers na haar diere kon omsien nie. Sy is defnietief nie EEN wat gebruik moet word om met so n groot probleem te help nie. Tronk toe met jou en hoop dit gaan npaar jaar wees, en dan daarna sommer nog n paar jaar gemeenskap diens by SBV om JOU te leer om na diere om te sien.

frank ·

God het n plan.Om iemand aan te stel as waghond oor die corona virus . Wat se diere op strepe dood le. So gaan haar onderdane ook dood le in die strate.God BEOORDEEL n nasie ,hoe hy sy riviere , water , sorex , diere en kinders behadel en dan word hul VEROORDEEL .

Michael 1 ·

Lasbrief uitgereik, wat n grap miskien in die vsa,europa of australia sou dit iets beteken het.

Naas ·

Ek wonder of daar ‘n groot genoeg oranje oorpak beskikbaar is. Soos Piet patrys sê – dik en oorvreet op die belastingbetaler se sak.

Jannie van Niekerk ·

Neewat sy gaan aangestel word in die kabinet in ‘n senior pos. ANC’s is mos nie kriminele nie, net mishandelde diere en msidaadslagoffers is kriminele want hulle ondersteun nie die ANC nie.

twaalfboor ·

Maar dan is ek BAIE onkundig in die “Wet”. Volgens my “supersede” die Wet enige ander instruksie of opdrag. Dan kan CR mos ook vir die howe sê “nie nou nie, eks besig”.

Jan ·

Sit haar in ‘n kampie sonder kos of water. Sy is ‘groot’ genoeg om lank te oorleef. As jy nie eers vir ‘n dier kan kyk nie, wat soek jy in ‘n pos waar jy oor mense se wel en wee kan besluit. Gemors!

Heinrich ·

Perfekte voorbeeld van hoe dit met die plase onder ANC bestuur sal gaan!

Jaco ·

Ek wil net graag weet, wanneer Afriforum nou klaar geld uitgegee het op dié hofsaak oor dieremishandeling, gaan daar dan nog geld oor wees vir meer dringende sake oor regstellende aksie, verarming van wit mense, plaasaanvalle rb plaasmoorde?

Debbie ·

Diere het ook regte, Jaco. Kan jy jou voorstel jy word gelos sonder kos en water? Hopelik het sy dit nie opsetlik gedoen nie. Maar dit is nog steeds erg. Ek glo hulle gee aan die ander sake ook aandag. Ek is nie ‘n lid van Afriforum nie, maar ek dink dit is belangrik dat daar organisasies soos hulle is.

Jannie van Niekerk ·

Sy gaan absoluut niks oorkom nie want sy is ‘n ANC ondersteuner.

Jan ·

Hoekom word al die politici toegelaat om self te besluit of, en wanneer, hulle hofverrigtinge bywoon? En as hulle nie verskyn nie word die lasbrief uitgestel. Eers Zuma, toe Malema en nou Modise. Of word niemand meer gearresteer as hulle nie opdaag nie?

Scalla ·

Wil mos plase hê en boer, hier is mos die bewys, hoekom die lang tydsverloop, dink mos hul is verhewe bo die wet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.