Lasbriewe is Donderdag vir die inhegtenisneming van Frans Vorster, voormalige vlootbestuurder van Bosasa, en Carlos Bonafacio, voormalige rekenmeester, uitgereik nadat dié twee versuim het om in die hof te verskyn.
Die lasbriewe staan egter oor tot hul volgende verskyning in Augustus, nadat Vorster en Bonafacio mediese redes voorgehou het vir waarom hulle nie vanoggend in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn het nie.
Die saak is nou tot 13 Augustus uitgestel. Sou hulle dan wéér nie verskyn nie, moet hulle in hegtenis geneem word.
Vorster en Bonafacio staan albei tereg op aanklag van korrupsie. Bonafacio word ook deur ʼn bykomende aanklag van geldwassery in die gesig gestaar.
Maroela Media het vroeër berig die twee mans word daarvan beskuldig dat hulle R180 000 as omkoopgeld gereël het tot voordeel van die voormalige finansiële hoof van die departement van korrektiewe dienste, Patrick Gillingham.
Gillingham was lid van die departement se komitee wat kontrakte ter waarde van meer as R1 miljard aan Bosasa toegeken het.
Vorster en Bonafacio het glo saam met Angelo Agrizzi, Bosasa se voormalige bedryfshoof, saamgewerk om in April 2007 ʼn bedrag van R180 000 aan ʼn motorhandelaar in Roodepoort oor te betaal as deposito vir die aankope van ʼn Mercedes-Benz ter waarde van R550 000 vir Gillingham.
Nog n fat fat cat
Sal daar óóit in ons land ‘n stadium kom dat hierdie witkraagmisdaad uitgeroei word?
En waar is die lasbriewe vir Jacob Zuma wat ook nie opgedaag het vir n hofverskyning nie??
Hy is aan die regte kant van die dubbele standaarde
As ek so na Agrizzi en Vorster kyk, dan lyk hulle almal dik van al die geld wat hulle verduister het.
Lyk vir my hoe meer nulle in die misdaad hoe skraler is die kans op vervolging.
Ek onthou Gillingham as ‘n “kolonel” in die Gevangenisdiens.