Le Clos se drome vir goud aan skerwe

Chad Le Clos vroeër vanjaar ná ‘n oorwinning tydens die Olimpiese Spele. (Foto: Oli Scarff / AFP)

Chad le Clos se drome om ’n vyfde opeenvolgende wêreld-kortbadtitel in die 100 m-vryslag te wen, is Saterdagmiddag in Abu Dhabi deur die 30-jarige Italianer Matteo Rivolta verpletter.

Le Clos (29) het die silwermedalje gewen nadat hy in 49.04 sekondes geëindig het. Rivolta se wentyd was 48.87.

Die Rus Andrei Minakov was derde in 49.21.

Le Clos en Rivolta was met die derde draaislag kop aan kop, maar die Italianer het die kant eerste geraak.

Le Clos het reeds ʼn bronsmedalje in die 200 m-vlinderslag gewen en mik nou na goud in die 50 m-vryslag.

Suid-Afrika het weens die Covid-19-pandemie net vier swemmers wat in Abu Dhabi deelneem nadat hy in 2018 in Hangzhou, China, drie goue medaljes, twee silwer- en twee bronsmedaljes gewen het en sesde op die medaljetabel was.

Twee ander Suid-Afrikaners, Bradley Tandy en Tayla Lovemore, kon nie een tot die halfeindronde onderskeidelik in die mans se 50 m-vryslag en die vroue se 50 m-vlinderslag deurdring nie.

Die 30-jarige Tandy het in 2018 ’n bronsmedalje in die 50 m-vryslag verower, maar kon nie sy prestasie herhaal nie. Sy tyd in die uitdun was 21.87 sekondes.

Tandy sal Sondagoggend ’n tweede kans kry, wanneer hy aan die uitdunne van die 50 m-vlinderslag sal deelneem, waar hy onder meer met Le Clos sal meeding.

Die 26-jarige Lovemore se tyd van 26.78 sekondes was ook nie goed genoeg om haar tot die halfeindronde te laat vorder nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Waarnemer

Le Clos het sy kans gehad,nou tyd vir n nuwe wereld ster