Leading Lady het die afgelope naweek op die grootskerm begin draai en het reeds meer as R1.368 miljoen by die loket ingebring. Dit is selfs meer as wat die romantiese komedie, Semi-Soet met sy openingsnwaweek ingebring het (R1,3 miljoen).
Tussen rolprente soos Spud 3, The Hunger Games: Mockingjay Part 1 en Horrible Bosses 2 het Leading Lady die derde plek ingeneem.
“Om geld te maak by die loket is een ding, maar om dit te doen terwyl jy glimlagte op mense se gesigte sit, maak die yslike taak om ʼn rolprent te skep, alles die moeite werd,” het Henk Pretorius, skrywer, regisseur en vervaardiger van dié fliek gesê.
Llewelynn Greef, vervaardiger, en Pretorius glo albei dat die sukses van die fliek te danke is aan die feit dat alle Suid-Afrikaners die rolprent met ope arms ontvang en terdeë geniet.
Leading Lady wys tans in teaters landswyd. Kyk gerus die lokprent hieronder.